Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Die Christelike Sondag se wortels lê in Paasfees, die fees waar lewe uit die dood verrys. Elke Sondag is ’n Paasfees … En al die Sondae van die jaar kring vanaf Paasfees uit soos vanaf ’n episentrum, skryf Cas Wepener. Foto: Argief

Paasviering as passiewe protes


Agtuur Sondagoggend. Ek moet kies – kerk of werk? Die studente se werkstukke verder nasien, of eerder kerk toe gaan? Skape dip of in die bakkie klim en kerk toe gaan? Die gesit en gesing en gebid in die erediens is tog net tydmors. Ek kan my Sondag sekerlik veel meer produktief inrig.

Die feit bly staan – kerk toe gaan ís inderdaad tydmors. Ons kán ongetwyfeld produktief wees deur te doen wat ons die res van die week ook doen. Aanlyn eredienste is natuurlik in hierdie verband wonderlik, want ek kan strykwerk doen en terselfdertyd kerk toe gaan, of ten minste al daai gebid en gesing fast forward en, terwyl ek na die preek luister, aan Maandag se notule werk. So, watter sin het die kerk-toe-ganery?

Die eerste drie gebooie in Eksodus 20 gaan oor kerk toe gaan. Oftewel, oor aanbidding. Gebooie een, twee en drie gaan oor wie ons moet aanbid en hoe ons dit behoort te doen. En dan skep gebod nommer vier die ruimte waarbinne die aanbidding gedoen kan word – hou op werk, net vir een dag.

Hierdie oproep tot nie werk nie, tot “leeglê” is onverstaanbaar in ’n era van radikale vorme van kapitalisme en ekstreme verbruikerisme. Ondenkbaar die gesit en gesing en gepreek, terwyl daar dringend oplossings gevind moet word vir armoede en werkloosheid. Onverstaanbaar is die tydmorsery op ’n Sondag wanneer Moeder Aarde onder ontsaglike druk is en ons die tyd kan gebruik om oplossings vir die ekologiese krisis te vind.

Iets wat kan help met oplossings in ons eie dag, oplossings vir die meeste van die uitdagings wat hier genoem word, is gesetel in kerk toe gaan – in heilige tydmors. Soms moet ons die pas net ’n raps markeer. Net ’n komma in die paragrawe van ons besige lewe inbou. Natuurlik is ons bedrywighede en gejaag verstaanbaar in ’n uitdagende finansiële klimaat. Werk is goed en nodig. Tog, ironies genoeg, is deel van die oplossing van sommige van ons probleme, juis gesetel in tydmors, maar ’n spesifieke soort tydmors, te wete – ’n rusdag en kerk toe gaan.

Sommige mense wat hierdie rubriek lees, beskou hulleself nie as aktiviste wat sommer met plakkate aan ’n optog gaan deelneem terwyl hulle opruiende liedere sing ter ondersteuning van ’n belangrike kwessie nie. Wel, diegene wat op Sondae nie werk nie; mense wat ’n Sondag anders inrig as ’n Donderdag; daardie mense wat Sondae die pas van gejaagdheid en produksie en funksionaliteit, van meer is altyd beter, markeer, nie gewoon net aanhou werk nie en vir ongeveer ’n NG uurtjie lank onbetaalde verlof neem; hierdie kerkgangers ís, deur dit te doen, of hulle dit wil weet of nie, radikale anti-establishment aktiviste en protesteerders wat ’n baie helder boodskap die wêreld instuur met hulle tydmorsende optrede.

Deur ’n periode van 24 uur se nie werk nie te kombineer met bid en sing en bely, boetseer mense daardie tyd en vorm so ’n spesifieke soort tyd wat radikaal anders is as die ander 6 maal 24 uur van elke week. En dit sit haaks op ons samelewing. Mense wat Sondae dit doen, ís dwars en laat God toe om hulle lewe te rig en vir die wêreld te wys – dinge kan ook anders gedoen word. Ja, nie werk nie en kerk toe gaan op ’n Sondag wys juis dat wanneer ons bedrywig is tydens die ander ses dae, dit wat ons doen op ’n goddelike wyse gedoen kan word. Deur nie-funksionele kerk toe gaan ontwikkel ’n houding wat nie die aarde as ’n kommoditeit hanteer en verinneweer nie. Mense wat Sondae só tydmors, heilig in hierdie skepping die Sondag, die dag van die opstanding.

Die Christelike Sondag se wortels lê in Paasfees, die fees waar lewe uit die dood verrys. Elke Sondag is ’n Paasfees, dus nie die sewende dag nie, maar die agtste dag, oftewel die eerste dag van die nuwe, die dag van lewe uit die dood, van moontlikheid, van herskepping. En al die Sondae van die jaar kring vanaf Paasfees uit soos vanaf ’n episentrum.

Om só in hierdie skepping die God van skepping en herskepping te aanbid, laat die tydmorsers anders kyk na die aarde waarop hulle tydelik woon. Hierdie soort passiwiteit wat geanker is in Pase, is broodnodige protes in ons dag en deelname aan God se herskeppende handelinge.

Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Vriende van Kerkbode

Ondersteun Kerkbode, die amptelike blad van die NG Kerk – én die oudste bestaande Afrikaanse blad in Suid-Afrika – ter wille van betroubare nuus in die kerkgemeenskap…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top