Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Andrew Murray-prysfonds: Al 2022 se wenners

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.


Die wenners van 2022 se pryse en toekennings van die Andrew Murray-prysfonds is pas bekend gemaak. 

DIE ANDREW MURRAYPRYS 

Die Andrew Murrayprys vir algemene Christelike boeke in Afrikaans, is gewen deur Louis Jonker, Jan Botha en Ernst Conradie vir hulle boek Die Bybel in fokus: Hoe om gelowig én denkend te lees (2020-heruitgawe). Dit is deur Lux Verbi uitgegee. Die beoordelaars meen dat hierdie boek mense help om die Bybel gelowig, veranwoordelik en krities te lees. ”Sommige teoloë en baie predikante en lidmate weet nie hoe om op die Bybel te fokus en dit gelowig én denkend te lees nie. Dié leemte word op ‘n besondere manier in hierdie boek hanteer. Dit lees maklik in allemenstaal en elke gelowige behoort dié boek te lees en te herlees.”

Beoordelaars: Drr Kobus Anthonissen,  Fanie Cronjé en ds Fay van Eeden.

 DIE ANDREW MURRAYDESMOND TUTUPRYS

Die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir teologiese boeke in ‘n amptelike taal van Suid-Afrika, is gewen deur Andries van Aarde vir sy twee volume-werk, Jesus, Paul and Matthew, uitgegee deur Cambridge Scholar’s Publications. Dit word deur die beoordelaars beskryf as ‘n meesterstuk wat op ‘n eie vlak van teologie beweeg. Van Aarde se twee volumes toon volgens hulle ‘n diep verbintenis tot die huidige debat in die Nuwe-Testamentiese en sistematiese teologie. Dit daag sommige maniere om die Bybel te lees en te verstaan, uit, sodat die bedoeling en relevansie van die evangelie duidelik word vir hedendaagse omstandighede. Die werk is intens en innoverend met gegronde argumente. Dit spreek volgens die beoordelaars van ‘n diepgaande kennis van die Nuwe Testament. Die laaste hoofstuk van die tweede volume is van ‘n persoonlike, outobiografiese  aard. “Dit blyk daaruit dat ons in hierdie twee boeke met deurleefde teologie te make het, en dat die stigmata van die kruis ook nie vreemd is in die lewe van die outeur nie.”

Beoordelaars: Ds Anlené Taljaard en proff Johan Buitendag en Ransoa Letsosa.

DIE DESMOND TUTU-GERRIT BRANDPRYS

Die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk is gewen deur Roedolf Botha vir sy boek Jesusleierskap, uitgegee deur Lux Verbi. Die beoordelaars skryf dat die boek, wat Jesus se leierskap in die lig van die Markus-evangelie bespreek, ‘n eietyse fokus op kerkleierskap bied wat teologies goed gefundeer is – “dis ‘n boek om weer en weer te raadpleeg. Dit wil motiveer en inspireer en kry dit uitstekend reg. Die boek lees vinnig, maar verdwyn nie so vinnig uit die kop nie.”

Beoordelaars: Di Farren Watt, Marileen Steyn en Eugéne Malan.

 T O E K E N N I N G S

  Die volgende toekennings word vanjaar deur die Andrew Murray-prysfonds gemaak.

 DIE ANDREW MURRAY-FAK-TOEKENNING

Die Andrew Murray-FAK-toekenning word  gegee aan die sanger Piet Smit. In die aanbeveling vir die toekenning aan hom, word gewys op sy jarelange voltydse  musiekbediening, sy vyf albums wat goue status bereik het, en “Heer U maak my nuut” wat platinum-status verkry het – ‘n prestasie wat nog deur geen ander oorspronklike geestelike album in Suid-Afrika nagedoen kon word nie. Piet Smit se musiek is gewortel in die “Country & Folk”-styl in die vertellende luister-liedjie-genre.

 DIE CLF-ELISE TEMPELHOFF-TOEKENNING VIR OMGEWINGSBEWARING EN     -GEREGTIGHEID

Hierdie toekenning word gemaak aan Susan Rakoczy vir haar akademiese artikel, “God as Father: Patriarchy and Climate Change” wat verskyn het in Handbook on Christian Theology and Climate Change, 2019. Prof Rakoczy is een van Suid-Afrika se voorste feministiese teoloë wat onder meer oor “groen bekering” skryf,  oor feministiese spiritualiteit en oor “groen susters”, veral vanuit ‘n Katolieke perspektief. Die wen-essay getuig van teologiese rypheid en diepgaande insig. Sy wys op die betekenisnuanses van God as Vader wat sowel bevrydend kan wees as legitimerend van patriargie, met verreikende gevolge.

DIE JAAP DURAND-DENISE ACKERMANN-TOEKENNING VIR EENHEID,  VERSOENING EN GEREGTIGHEID

Dié toekenning word gegee aan Laurie Gaum. Hy fasiliteer werkswinkels vir die nie-regeringsorganisasie Genderworks in “Gender Equity & Reconciliation” en menslike seksualiteit. Die werkswinkels ondersteun onder meer kerke en gemeentes om veilige ruimtes te skep waar heling kan plaasvind tussen “straight” en “queer” gelowiges. Laurie is verder betrokke by intergeloofs-inisiatiewe om respek tussen mense van verskillende gelowe te bevorder. Hy was die eerste aansoeker in die saak Gaum vs DRC waarin die negatiewe besluit van die 2016-buitengewone algemene sinode van die NG Kerk tersyde gestel is en die Hooggeregshof onbillike kerklike diskriminasie teen LGBTQIA+ mense onomwonde afgewys het. Laurie Gaum strewe in die harde werklikheid na die beliggaming van die waardes van die Belydenis van Belhar.

Die pryse en toekennings bestaan uit kontantbedrae en oorkondes. Die oorhandigingsfunksie word beplan vir 27 Mei 2022 in die Jubileum-saal, Andrew Murray-sentrum vir Spiritualiteit, Wellington.

 

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.