Inspirerende samesyn met God op halfmaraton

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Dr Danie Nel van NG gemeente Wynberg skryf:

Om die krag van sy opstanding te ervaar Jesus het sy volgelinge vriende genoem, omdat Hy alles wat Hy by sy Vader hoor, met hulle gedeel het. Vriende kan gewoonlik oor alles met mekaar praat omdat dit by die intieme aard van die verhouding tussen hulle pas. Ek getuig graag hoe verrykend ek hierdie persoonlike verhouding van “alles deel met die Here” tydens die afgelope Paasnaweek ervaar het.

Afgesien van die Nagmaalsdiens op Donderdagaand, die gedenkdiens op Goeie Vrydag en die Paasfees op Sondag, het ek ook daarna uitgesien om op Saterdag 16 April 2022 aan die Twee Oseane-halfmaraton van 21 km deel te neem.

Op my ouderdom van byna 64 jaar verg dit fyn beplanning en oordeelkundige voorbereiding om aan ’n halfmaraton deel te neem. Dit is onder andere belangrik om te weet hoeveel vloeistof jy moet inneem om die chemiese balans in jou liggaam te herstel indien jy baie sou sweet.

Tydens my laaste langafstand oefensessie, ’n week voor die wedloop, het ek ontdek dat ek ongeveer 1 liter van ’n bekende sportdrankie nodig het om te voorkom dat ek dehidreer. Dit werk nie vir my om by waterpunte langs die roete te stop nie, so ek koop toe ’n 1 liter “hidrasiepak” wat ek op my rug in ’n soort blaas van plastiek kan dra.

Die Woensdagmiddag voor die wedloop het ek 5,5 km daarmee gaan draf. Helaas het dit ’n onverwagte newe-effek gehad: Ek het skuins na middernag van ’n ongemaklike rugpyn wakker geword. Teen Vrydag het ek reeds twee slegte nagte agter die rug gehad en min moed dat ek die volgende dag sou kan deelneem, want ek het ook ’n keelpyn begin voel.

Ek het my vrou Jola gevra om saam met my in Kirstenbosch-botaniese tuine te gaan stap “om so ’n bietjie inspirasie te gaan kry”. “Jy wil seker na jou gebedsplek toe gaan”, het sy my ware motief raak opgesom toe ons by die hek instap.

Daar op die koppie met sy mooi uitsig oor die tuin het ek my hart voor die Here uitgepraat soos wat ek dit teenoor ’n goeie vriend sal doen. Die feit dat Hy presies weet hoe baie dit vir my beteken, het my die vrymoedigheid gegee om Hom te vra om my te help om die regte besluit oor my deelname te neem. As ek teen Saterdagoggend nog steeds rug- of keelpyn sou hê, sal ek aanvaar dat dit buite sy wil lê. Maar as die rug- en keelpyn die wyk sou neem, en ek wel kan deelneem, sal ek graag die krag van sy opstanding met die oog op die Sondag se Paasboodskap nog beter wou leer ken.

Dit was vir my wonderlik om die besluit só aan Hom toe te vertrou. Toe ons opstaan om verder in die tuin te stap, het dit vir my gevoel asof my gemoed bevry was van die las wat ek tot in daardie stadium alleen probeer dra het. Die aand het ek geen rugpyn ervaar toe ek afbuig om my nuwe kouse aan te trek nie en ook geen keelpyn nie.

Toe my wekker my Saterdagoggend om 04:30 wakker lui, het ek bly besef dat ek deurgeslaap het. Geen rugpyn of teken van keelpyn of koors nie. Met groot dankbaarheid het ek gereed gemaak om die wedloop aan te pak. Toe Jola my om 05:50 naby die wegspring aflaai, het ek uit pure opgewondenheid begin draf om myself te verseker dat ek werklik sonder enige ongemak hardloop.

Die wedloop het teen ’n vinnige pas vir my begin aangesien ek by groep B ingedeel was wat 2 minute na die professionele atlete in groep A weggespring het. Vanaf die wegspring het die wete dat ek die wedloop aan die Here toevertrou het, my met vrede gevul. Ek het ook geglo dat Hy die hele tyd by my was en dat Hy my weldra meer oor die krag van sy opstanding gaan leer. Ek moes myself terughou teen die eerste lang bult in Edinburgh-rylaan omdat die spoed en adrenalien van die veel jonger atlete my byna meegesleur het.

Naby die halfpadmerk het ek gesien dat my gemiddelde tempo net bo 5 minute per kilometer was. Ek het bekommerd geraak dat ek dalk die eerste helfte te vinnig aangepak het. Sou ek genoeg energie vir die lang bulte van Southern Cross-rylaan hê wat as die grootste uitdaging van die Twee Oseane-halfmaraton beskou word?

Teen die steilste deel van die tweede bult het ek besluit om ’n minuut lank te stap om my liggaamlik en geestelik voor te berei vir die tweede deel van die wedloop. Die beroemde uitspraak van Paulus, naamlik “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee” (Filippense 4:13), het op daardie moment in my gedagtes uitgestaan. Was dit hoe Paulus die krag van Jesus se opstanding te midde van sy uitdagings beleef het?

Dit het vir my gevoel asof ek met nuwe krag weer begin hardloop het. Die afdraande in Rhodesrylaan met sy aantal bedrieglike bulte het soos ’n lafenis gevoel na die steil helling van Southern Cross-rylaan. Die wonderlike aanmoediging van al die toeskouers langs die pad het ’n positiewe atmosfeer geskep wat ons geïnspireer het om ons beste te gee. Dit het my laat dink aan die beeld in Hebreërs 12 vers 1: “Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het … laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus …”

Persoonlik kry ek inspirasie om te volhard wanneer ek dink aan alles wat Jesus verduur het om sy liefde aan sy volgelinge te verklaar. Volgens my verstaan van die Johannesevangelie word dit as een van die hoofmotiewe van sy lyding en kruisdood beskryf.

Toe ek my pas teen die steil afdraande na die Rycrofthek by Kirstenbosch begin versnel, was ek diep dankbaar omdat ek nog steeds ’n goeie tempo kon handhaaf. By die kerk, skuins oorkant die indraai na Kirstenbosch-botaniese tuin, het ek gehoor hoe drie Nederlandse studente, wat tans by ons tuisgaan, my naam uitroep om my te bemoedig. Dit was vir my spesiaal dat hulle so vroeg opgestaan het om daar te wees. Hoe wonderlik dat ons Here ons elkeen by die naam ken en, weens die era wat sy opstanding inlui, deurlopend by ons is!

Die laaste bult op die M3, na die indraai uit Rhodesrylaan, is gewoonlik ’n riller vir bene wat na 18 km moeg begin raak. In so ’n situasie help dit my om te bly fokus op die krag van die Here wat juis in ons swakheid die beste ervaar kan word – soos Paulus dit stel.

Toe ek na die heel laaste bult teen die afdraande af hardloop na die eindpunt, was my hart vol dankbaarheid omdat ek besef het dat een van my hartsbegeertes binne bereik was, naamlik om op my ouderdom die Twee Oseane-halfmaraton onder twee ure te voltooi!

Ek het tot my verbasing selfs genoeg energie vir ’n beskeie eindpoging in die pylvak voor die eindpunt gehad.

My amptelike eindtyd was 1 uur en 56 minute – wat volgens my oortuiging slegs moontlik was weens die inspirerende samesyn met die opgestane Here! Wat egter by my sal bly, is nie soseer die eindtyd nie, maar die wyse waarop ek ons Heer se teenwoordigheid deurlopend ervaar het. Dit was vir my ’n werklikheid vanaf die moment dat ek my hart voor Hom uitgepraat het en die uitkoms geheel en al aan Hom toevertrou het. Die krag van sy opstanding het ek sonder twyfel die beste ervaar toe ek op my swakste gevoel het – voor en tydens die wedloop.

“Ek noem julle my vriende”, het Hy gesê. Wat ’n Vriend het ons in Jesus!

*Brief verkort. Red.

Word 'n vriend van Kerkbode