Die kruispad …

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

David Magerman van Komaggas skryf:

Was jy al in jou lewe by ’n kruispad? Daardie oomblik wat jou hele lewe kan verander. Jare gelede was my vriendin op twintig jaar oud in ’n tref en trap. Sy was gesond en het niks makeer nie, sy was een van die lewenslustigste mense wat ek al ontmoet het.

So vol lewe en energie, dan het sy nog so ’n lieflike persoonlikheid gehad. Na die ongeluk was sy in ’n koma. Vir dae het ons gebid, ons het die Here vertrou vir ’n wonderwerk. Haar ma wat in Namakwaland was, is onmiddellik Kaap toe om by haar te wees. Daar by haar bed in die hospitaal het sy en familie gewaak, gebid, gehoop.

Skielik kom sy voor ’n kruispad. Hulle vertel my die dokters het gesê, hulle kan niks meer vir haar doen nie. Dit is net die masjiene wat haar in die lewe gehou het. Haar ma moes toestemming gee sodat die masjiene afgesit kon word. Kruispad!

Dit is een van die moeilikste keuses om te maak, jy sien daar is niks meer te doen nie, maar tog hoop jy vir ’n miracle. Sy was by ’n kruispad in haar lewe. Gelukkig dink ek het sy gesterf voordat haar moeder die besluit kon gemaak het …

Ek dink ons kom almal voor kruispaaie in ons lewe. Miskien is dit nie so geweldig soos dié van die moeder nie, maar tog beïnvloed die keuse of keuses ons lewe. Die ergste is wanneer jy moet kies, jy weet nie watter keuse om te maak nie.

Maar tog hoe moeilik dit is, vereis die situasie dat jy moet kies. Selfs wanneer jy nie wil of kan kies nie, is dit ook ’n keuse. ’n Kruispad kry ons almal. Die ergste is jy kan jou nie voorberei vir dit nie, in die meeste gevalle.

Die ergste is as jou keuse tussen lewe en dood moet wees. Dit klink nou eenvoudig, maar soms kan jou kruispad wees om te kies met wie jy wil trou. Soms kan dit die keuse van ’n loopbaan of beroep wees. Dan dink jy jare daarna, hoe jou pad sou geloop het as jy die ander een sou gekies het …

’n Kruispad is baie meer in die lewe as bogenoemde voorbeelde. Ek dink en ek mag heeltemal verkeerd wees, maar dit kom elke dag voor in elkeen van ons eie lewe. Wie gaan ek volg? Eerder aan wie vertrou ons ons siele toe? Daar is eerder net een Bewaker van siele. Die EEN wat vir ons gesterf het, maar meer nog wat opgestaan het. Die apostel Petrus noem Hom die Bewaker van ons siele.

Dit is vir my die kruispad. Dis ons kruispad elke dag, aan Wie vertrou ons ons siel toe? Dit is mos die belangrikste ding om te doen. Is die dood dan nie elke dag saam met ons nie? Alhoewel ons leef asof ons vir altyd hier gaan wees, weet ons mos môre is vir niemand gewaarborg nie. Daarom is dit vir elkeen van ons die kruispad, vir wie gaan ons vertrou met ons siel? Die Here help ons om die beste keuse te maak …

Word 'n vriend van Kerkbode