Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“’n Lens,” verduidelik dr Hannes Janse van Rensburg vir Marileen Steyn, “kan ook net nog ’n program word wanneer daar op die taak en nie op die verhoudings gefokus word nie. Die doel van gemeentewees is egter altyd verhoudings met God, ander en die self. Dít vra dat gemeentes praat: praat oor wat op hulle hart en in hulle gedagtes lê en vandaar te onderskei wat hulle saam sien.”

Kerkwees in oorgangstye: Goeie nuus, dominee! Dit gaan nie alles oor jou nie

Dr Hannes Janse van Rensburg vertel vir Marileen Steyn van ’n benadering tot die bediening waar dit nie gaan oor die predikant se wonderlike vaardighede nie, maar die gemeente se unieke missionale roeping.

 

Die bediening is moeilik. Dit weet ons. Jy is prediker en pastor en leier en finansiële adviseur en projekbestuurder en fondsinsamelaar en aktivis en vredemaker. Die druk wat daar dikwels is om alles te kan wees en doen is enorm en selfs oorweldigend.

Gaan dan voort en gooi die gemeente in ’n tyd van oorgang (soos byvoorbeeld tydens ’n pandemie) en dan word jy skielik videograaf ook. Hierdie rolle ter syde gestel, word daar van predikante en kerkleierskap gevra om mense na plekke te begelei wat hulle nog nie kan sien nie, terwyl die gemeente moontlik nie weet waar hulle is nie.

Hierdie tye van oorgang staan as interimtye bekend. Een van die mees klassieke voorbeelde van interimtye is wanneer ’n gemeente ’n vakature het. Brugbediening is ’n gevestigde bediening waar ’n brugpredikant vir ’n bepaalde periode in ’n gemeente beroep word om die gemeente te begelei in die vul van ’n vakature.

Dr Hannes Janse van Rensburg is ’n kenner in hierdie veld. Sy doktorsgraad was die eerste in die land om spesifiek oor hierdie tema te handel en is getitel Brugbediening in vakante gemeentes: Gemik op ’n missionale fokus. ’n Holistiese benadering deur ’n multifokale lens.

Janse van Rensburg, wat die brugbedieningskursusse van die Universiteit van Pretoria, Communitas én die Interim Ministry Network in die VSA bygewoon het, het opgelet dat elk van hierdie instansies hulle eie lens bied waardeur brugpredikante na gemeentes moet gaan. Elke lens word aangebied as dié lens om mee te werk. “Dit is baie moeilik as jy die opleiding kry met een lens om werklik alle gemeentes in hulle konteks te kan begelei,” meen Janse van Rensburg.

’n Gedagte tref Janse van Rensburg toe op ’n dag in ’n oogkundige se stoel: ’n Goeie lens is nie een wat vir almal gemaak is nie, maar ’n lens wat by die pasiënt se unieke behoeftes pas. So ook is ’n goeie oogkundige nie die een wat die perfekte lens vir almal gevind het nie, maar een wat weet hoe om verskillende lense op mense te toets sodat hulle eindelik sonder gesukkel kan lees.

Soortgelyk lê ’n brugpredikant se vaardigheid nie in die lens óf in sy of haar vermoë om die enkele lens perfek oor te dra nie, maar hulle vermoë om die uniekheid van die gemeente te verstaan. Sáám kan hulle deur ’n verskeidenheid van lense werk om te sien wat spesifiek tot die gemeente se omstandighede sal spreek.

“Eintlik is die proses so dinamies en elke gemeente so uniek dat ek dink elke brugpredikant of dan oorgangsfasiliteerder moet eintlik kennis hê van al drie lense,” aldus Janse van Rensburg. Die uitdaging is dan om binne die unieke konteks van die gemeente ’n unieke lens te ontwikkel uit die praktyk en behoeftes van daardie gemeente. “Ons gaan vir elke gemeente ’n prescription-bril uitwerk.”

Hier aarsel ek. Is dit dan nog iets op die lysie van predikantwees? Oogkundige wat al die lense ken? Gedeeltelik, seker, ja. ’n Oogkundige moet tog vaardig wees, maar die oogkundige wat dink hulle moet ’n one-size-fits-all lens vir alle mense laat werk, gaan ’n veel moeiliker tyd hê as die een wat saam met die pasiënt na iets soek wat uniek werk.

“Ons het baie lank gedink dit gaan oor hoe slim en goed die brugpredikant is, oor hoe slim ons lens is. Uiteindelik gaan dit oor hoe goed ons die unieke identiteit van die gemeente kan raaksien,” sê Janse van Rensburg.

Die einddoel is dat die pasiënt daardie bekende E-plakkaat op die oogkundige se muur kan lees. Janse van Rensburg gooi vir die doel van sy metafoor die E om na ’n M om te wys dat brugbediening en die verskillende lense gemeentes moet kan help om hulle missionale roeping te kan sien en leef.

Missionale roeping is verhoudingsgedrewe. ’n Lens, verduidelik Janse van Rensburg, kan ook net nog ’n program word wanneer daar op die taak en nie op die verhoudings gefokus word nie. Die doel van gemeentewees is egter altyd verhoudings met God, ander en die self. Dít vra dat gemeentes praat: praat oor wat op hulle hart en in hulle gedagtes lê en vandaar te onderskei wat hulle saam sien.

Janse van Rensburg se insigte is op enige gemeente wat wil weet wat hulle roeping is van toepassing. Dit vra vir ’n skuif in denke oor die rol van die predikant. Wanneer die predikant gesien kan word as die een wat saam met die gemeente in hulle uniekheid lense toets, word daar plek gemaak om te probeer, te struikel en weer te probeer in plaas daarvan om onder druk te voel om ’n sekere program in die gemeente te maak werk. Eers dan, sal ons werklik kan sien.

 

  • Prop Marileen Steyn is vryskutnavorser en PhD-student aan Universiteit Stellenbosch.
  • Hierdie skrywe is deel van ’n reeks en word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top