Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Onlangs het die NG Kerk se Oos-Kaapse streeksinode ’n simposium gehou met die tema: “Diensplig: die bagasie van ’n generasie.” Party oud-dienspligtiges het dapper en ietwat bitter verklaar: Dis te laat... (Maar) om aan geestelike wonde te werk, is nooit te laat nie. Hoop daar kom nog sulke aksies. Foto: Dana Snyman

DANA SNYMAN: Om aan geestelike wonde te werk, is nooit te laat nie

Hennie is toe weg. Die vrou wat sy huis skoonmaak, het Saterdagoggend op hom afgekom waar hy in die gang lê. Hy het ’n paar dae daar gelê. Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.

Ek het Dinsdagoggend vir die laaste keer met hom gesels – oor WhatsApp. In die laaste ruk het ons hoofsaaklik oor Whatsapp met mekaar gepraat.

Dinsdagoggend het hy vir my ’n videotjie gestuur van ’n boer wat in sy Hilux-bakkie voor ’n plaashek stilhou. Die bakkie se deur swaai oop en ’n seuntjie, skaars drie jaar oud, klouter van die boer se skoot af en die kleintjie gaan maak die hek oop. Eens was dit deel van ’n jong seun se inisiasie: Jy kan nou ’n plaashek oopmaak, my kind. Jy word nou groot.

Ek het Dinsdagoggend vir Hennie gevra hoe dit gaan, maar hy het my nie geantwoord nie. In die laaste ruk het hy my glad nie geantwoord as ek hom vra hoe dit gaan nie. Ons wou vir hom ’n voltydse versorger reël, maar hy wou niks daarvan weet nie.

LEES OOK: Sosiale media: Word vrees en bedreigings aangeblaas?

Die laaste keer toe ek hom gesien het, so twee maande gelede, was hy maer en onvas op sy voete. Sirose van die lewer doen dit aan ’n mens. Ons het mekaar in die Bootlegger Coffee Company in Durbanville ontmoet.

In een of ander stadium het Hennie oor die weermag gesels terwyl ons koffie gedrink en ontbyt geëet het – die ou Suid-Afrikaanse weermag waarin hy vir twee jaar gedien het, nes derduisende jong mans wat in die 1970’s en 80’s militêre diensplig moes doen.

Hennie het baie oor die army gepraat, maar nooit was dit heldhaftige praatjies nie. Die army het iets in Hennie laat breek toe hy 20 jaar oud was, en hy was steeds nie daarvan genees toe hy alleen daar in sy huis se gang in die ouderdom van 62 dood is nie.

Voor die Covid-19-pandemie ons lewe anders kom maak het, het Hennie gereeld by my op Jacobsbaai kom kuier. Ek is nie veel van ’n gasheer nie, ek het hom sy gang laat gaan. Het niks gesê wanneer hy te veel drink nie.

Soms het hy by my kom sit met ’n botteltjie Henties-lemoensap, gemeng met Olof Bergh-brandewyn, in die hand, en dan het hy gepraat en gepraat. Hy sou dalk ’n paar dinge sê oor sy mislukte huwelik, maar hy het hoofsaaklik gepraat oor sy oorlede pa en die army.

LEES OOK: Bring my woorde warmte? 

Hoe sy pa sy ma aangerand en hom uit die huis gejaag het. Hoe hy eenkeer in die vroeë oggendure poedelkaal deur die Pretoriase middestad huis toe moes sluip, nadat van sy pa se kamerade hom in die Berea-klub beetgepak het. En toe hy in die weermag kom, was hy weer in die hande van mans.

In sy dienspligtyd was hy vir meer as ’n jaar in die operasionele gebied in die noorde van die ou Suidwes-Afrika, maar ondanks al Hennie se gepraat, weet ek nie of hy ooit in ’n skermutseling betrokke was met die Swapo- en die Kubaanse magte nie. Hennie se oorlog, só het dit vir my geklink, was teen sy eie offisiere en kamerade. En ek kon daarmee identifiseer.

Ek is nie ’n ongeneesbare pasifis nie. ’n Land moet ’n weermag hê en in ’n weermag moet dissipline wees. Tussen my vriende is trotse oudsoldate en ek bewonder hulle vir hulle moed en deursettingsvermoë. Maar iemand soos Hennie, glo ek, is sielkundig anders bedraad. ’n Handgranaat ontplof in jou gemoed wanneer ’n korporaal vir jou snert skreeu soos: “Jy is laer as slangbollie se skaduwee op die seebodem! Hier sal ek van jou ’n man maak!” Hoe kan so ’n simpel mannetjie van jou ’n man maak?

Het jy teen hom in opstand gekom, was dit nag vir jou. Hennie het vertel hoe hy rondgejaag is tot hy kots, opgesluit is in ’n kamertjie, en na ’n ver-af basis gestuur is om as ’n kroegman daar diens te doen.

Hennie was net ’n mamma-se-seuntjie, hoor ek ’n duisend-en-tien oudsoldate sê. Dis nie dít nie. Een mens behoort nie so Ou-Testamenties deur ’n ander een behandel te word nie, maar, ja, oorlog is deel van ons aardse bestaan …

LEES OOK: As die kerk nie pastoraal uitreik ná die droogte nie, wie sal?

Ek was verbaas Hennie is nie na Saal 22 by die ou 1 Militêre Hospitaal op Voortrekkerhoogte gestuur nie. Saal 22 was die weermag se psigiatriese saal. Soldate wat op een of ander manier in psigiese dryfsand beland het, is soontoe gestuur om sielkundig geëvalueer te word. Party is tot skisofrene verklaar en oneervol uit die weermag ontslaan.

Heelparty gay-dienspligtiges is ook na die ou 1 Mil gestuur. In die 1970’s was daar ’n psigiater wat sogenaamde aversieterapie op gay-troepe toegepas het. Dit het onder meer behels dat die troep met elektriese skokke behandel is, in die geloof dat die troep van gay na heteroseksueel sal verander. Dis nie hoorsê nie. Dit is die heilige waarheid.

Saal 22 se volle storie moet nog vertel word. Baie van daardie Saal 22-mans is nog tussen ons, moontlik steeds te skaam om te erken dat hulle nie die mans geword het wat PW Botha, die NP, die Kerk en hulle ouers destyds wou hê hulle moet wees nie.

Onlangs het die NG Kerk se Oos-Kaapse streeksinode ’n simposium gehou met die tema: “Diensplig: die bagasie van ’n generasie.” Party oud-dienspligtiges het dapper en ietwat bitter verklaar: Dis te laat.

Om aan geestelike wonde te werk, is nooit te laat nie. Hoop daar kom nog sulke aksies.

Op my reise kom ek dikwels mans teë wat deur die weermag verwond is: ’n Man wat laataand in ’n kroeg vir jou vertel hoe dit voel as iemand voor jou R4 se loop verskyn. En daardie ou op Katima Molilo wat die holte in sy kop vir jou wys waar die bomskerf hom getref het.

In ’n pandjieswinkel het ek onlangs afgekom op een van daardie koper-muurbehangsels wat jy kon koop nadat jy grensdiens verrig het. Daarop is ’n soldaat met ’n geweer in die hand en die woorde: “SWA. Grensdiens.” ’n Verdrietige gesig, en ’n simbool van oorlog.

Nou het die hek na die anderkant vir Hennie oopgegaan. Een van die kere wat hy by my gekuier het, het ek by hom in die kamer gaan sit, sy Henties-botteltjie op die bedkassie, en gesê: “Praat nou, my vriend. Vertel my als.” Maar hy wou niks sê nie.

Ek wens ek het harder probeer.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top