Waarom glo ons? deur Braam Hanekom
Uitgewer: Sentrum vir Publieke Getuienis, 2022.
Resensent: Lizette Viviers
Wanneer Braam Hanekom aan die woord is, sit ek regop en luister. Hy het ’n besonderse manier om met woorde om te gaan en om dit wat in “gewone” gelowiges se gedagtes leef, vas te vang en te verwoord. Hierdie skrywe is geen uitsondering nie.
“Hierdie is nie ’n poging om ’n volledige sistematiese uiteensetting te gee van ons geloof nie, maar wel ’n nederige poging om die wese van ons geloof te midde van ’n hewige gesprek tussen geloof en ongeloof, in gewone taal te verwoord,” sê Hanekom.
Die boek bied in gewone taal ’n breër perspektief oor godsdiensgeskiedenis, asook hoekom ons as gelowiges so sukkel om te verwoord waarom ons glo wat ons glo. Hanekom sê dit is hartseer dat die kerk stil geword het ten opsigte van haar unieke getuienis en dat “… wedersydse respek en godsdienstige verdraagsaamheid in Suid-Afrika van kardinale belang is”.
Geloof bring wêrelde bymekaar wat op geen ander maniere moontlik is nie.
Hanekom sluit hierdie besonderse boek af met sy eie belydenis oor waarom hy glo: want geloof is ’n genadegawe. Geloof bring hoop – soveel te meer in tye van uitdagings.
Praktiese, weldeurdagte wysheid uit die pen van ’n skrywer wat sy praktiese en deurleefde geloof op ’n besonderse manier met die leser deel. In hierdie boek word ons herinner aan die waarde van geloof en dat daar nie ’n ongemaklike verhouding met wetenskap en sekularisme is of hoef te wees nie. Die vraag moet eerder fokus op die inhoud van ons geloof.
Beskikbaar teen R50 vanaf media@kaapkerk.co.za.
Ds Lizette Viviers is ’n beroepbare predikant van Johannesburg, verbonde aan NG Gemeente Forest Hill.
