Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Leon Westhof van Pretoria skryf:
Ek verwys na Nelus Niemandt se artikel in Kerkbode van 13 Mei 2022 oor evangelisasie. Dat daar kontekstuele skuiwe gekom het en dat dit die maniere raak waarop ons die evangelie moet verpak, is inderdaad nodig soos Niemandt vra. Stefan Paas in sy boek, Pilgrims and priests, het ook ten regte uitgewys dat ons in evangelisasie, binne ’n missionale ekklesiologie, nie die feit van die postchristendom kan ontken nie. Hy lewer voorts ’n pleidooi dat ons nie bloot moet terugverlang na die Christendom en dit probeer laat herleef nie – ook nie in ons benadering tot evangelisasie nie. Die kerk moet indringend met evangelisasie omgaan, maar dan nuwe weë soek wat in ’n postchristelike wêreld pas.
In aansluiting by Niemandt wil ek graag die volgende bydrae maak. Hoe die konteks ookal mag skuif, die fokuspunt van evangelisasie kan nie anders as om altyd Christologies van aard te wees nie. Gevolglik is evangelisasie die uitnodiging aan alle mense om navolgers van Jesus Christus, die opgestane Here, te word.
In David Bosch se uitgebreide definisie van evangelisasie praat hy van “… embracing Christ as Savior and Lord” en “… placing all things under the rule of Christ” (Transforming mission, p 420). Die implikasie hiervan is duidelik: In evangelisasie gaan Christologie die soteriologie vooraf.
Die uitdaging vir evangelisasie is dan om met ’n omvattende Christologie te werk. Ons mag die persoon en werk van Jesus nie reduseer tot Golgota soos wat dit soms in evangeliese kringe binne die Westerse wêreld gebeur nie. In evangelisasie mag ons nie net fokus op die Golgota-gebeure asof dit alleen die evangelie omvat nie. Al die bedrywe van die Christusverhaal is belangrik, naamlik sy pre-eksistensie, inkarnasie, aardse bediening, kruisdood, opstanding, verskyning, verheerliking en wederkoms.
Hierby moet ons soteriologie aansluit. Die tradisionele en moderne interpretasie van verlossing wat in sommige kringe leef, is nie voldoende nie. Ons interpretasie van verlossing moet in die omvattende Christologie begrond word. Om byvoorbeeld uitsluitlik of dominant die evangelie te interpreteer as vergifnis van sonde of bekering, laat nie reg geskied aan die volledige werk van Christus nie.
Dit is juis wanneer ons binne ’n missionale intensie in omvattende kategorieë nadink oor die Christologie en die verband dan na die soteriologie deurtrek, dat ons die mens in sy/haar totale nood begin raaksien en bedien. Vir evangelisasie, as fokuspunt binne ’n missionale ekklesiologie, is die woorde van Bosch (p 400) egter van belang: “Salvation does not come but along the route of repentance and personal faith commitment”. Die uitnodiging om navolgers van Jesus Christus te word, moet helder verkondig word.
