Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Sensuur – ’n nederige repliek op dr Klaasing se brief

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Coenie Greeff van Bellville skryf:

Liewe Dr Klaasing – baie dankie vir jou kosbare brief en jou onverskrokke getuienis – pitkos tot ernstige nadenke vir die behoud en beskerming van waarheid deur vryheid van spraak. Vir my kom dit terug na ’n eenvoudige vraag – Wat is hulle (Algemene Kuratorium en moontlik Algemene Sinode Moderamen) se definisie van die omvang van wat hulle alles insluit as “verdagmakery en valshede” – uit watter objektiewe perspektief is daar riglyne neergelê om duidelik te definieer wat binne hierdie konsepte van verdagmakery en valshede ingesluit word?

Sal ’n ongemaklike dog fundeerbare waarheid ook as sulks geklassifiseer word indien persone voel die instansie of hulle eie reputasie is belaster of verdag gemaak? My vraag is – word die deur van hulle “interpretasielens” wyd oopgelos sodat wanneer die waarheid en Skrifgebaseerde grondige kritiek (uitgesluit emosionele reaksies) ongemaklik raak en wanneer dit volgens hulle die status quo bedreig, sulke kritiek / sienings / ingeligte opinies binne die definisie val met die gevolglike sensurering van diesulke “skuldiges”?

Word hier nie dan die “tegelyk aanklaer en regter” beginsel toegepas nie? Ek wonder net …

Laaste opmerkings – ek is hartseer, want hierdie sensuurbeleid roep wrange herinneringe op van die destydse regering met sy totale “inligtings- en informasie”-beheer veral in die 70’s en 80’s as iets durf lyk of dit die soewereiniteit van die destydse regering sou bedreig. Laastens, as ek baie verder terugkyk na ons vroeë kerkgeskiedenis sinspeel die nuwe reëls tog ook al te veel na die Katolieke se destydse “Papalis principatus” (pouslike oppergesag) – wat totaal beskerm moet word – ek besef dat ek moontlik met die eerlike repliek myself ook nou skuldig maak aan “verdagmakery”.

Henrietta – ek sal saam met jou op die heuwel gaan staan en sê: “Hier staan ek – ek kan nie anders nie – so help my, Almagtige God en Koning”. Sela.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top