Veel beter as boelie: Regverdigheid + regte vaardighede

The art of fairness deur David Bodanis

Uitgewer: Bridge Street Press, 2020.

Resensent: Quinette Le Roux-Weitsz

Kom net boelies bo uit? David Bodanis beantwoord hierdie vraag in sy boek The art of fairness: The power of decency in a world turned mean.

Baie mense glo dat jy net kan slaag in vandag se wêreld as jy ’n verskriklike slegte mens is, net as jy bereid is om op ander te trap, kortpaaie te vat en mense gebruik om jou doel te bereik. Die slagspreuk “nice guys finish last” word outomaties as waar aanvaar. Maar is dit regtig die enigste manier? Jesus vra tog ook die vraag: ‘Want wat sal dit ’n mens baat as hy die hele wêreld wen en aan sy siel skade ly? (Mark 8:36).

Maar Bodanis bewys juis in sy nuwe boek dat jy nie ’n boelie hoef te wees om te slaag in die lewe nie. Wanneer jy regverdigheid kombineer met die regte vaardigheid kan wonderlike dinge gebeur.

Deur die biografieë van 10 normale, ordentlike mense in die geskiedenis te bestudeer, kom hy tot die merkwaardige gevolgtrekking dat regverdigheid nog steeds kan seëvier. Ons sien byvoorbeeld hoe ’n eenvoudige, regverdige man dit reggekry het om die Empire State-gebou te voltooi in nét 13 maande en hoe ’n stil, Engelse debutant ’n guerrillavegter geword het. Ons sien hoe Franklin Roosevelt dit reggekry het om onder verskriklike omstandighede ’n tiran te oorwin. Verder word die outobiografieë van vlieëniers, dokters en selfs die regisseur van Lord of the Rings bestudeer. Alles wys op ’n universele waarheid – dat selfsugtigheid sy eie ondergang veroorsaak. Dat die paadjie tot grootheid nie noodwendig destruktiewe mag of ’n tirannieke ego verg nie. Basiese, regverdige ordentlikheid kan genoeg wees – jy moet dit net met die nodige vaardigheid hanteer.

Ds Quinette le Roux-Weitsz is predikant by Cambridge-gemeente in Oos-Londen, familieberader en mediator.

Word 'n vriend van Kerkbode