Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Donasie-kragtoer: Drie miljoen agterstand in drie dae uitgewis

Dit klink soos enige fondsinsamelaar se droom. Om te kan sê jy het byna R3 miljoen in drie dae kon insamel. Vir Hilda du Toit was dit ’n groot voorreg dat sy so iets so kort voor haar aftrede as bemarker by Abraham Kriel Bambanani, ’n geregistreerde kinder- en jeugsorgorganisasie in Johannesburg, kon beleef.

“Dit was nie ek nie, sonder twyfel weet ek dit was die Here,” vertel Du Toit in ’n Zoom-gesprek aan Kerkbode wat op ’n Maandagoggend met haar gesels om meer oor dié wonderwerk te hoor.

Hilda du Toit

Sy gesels vanaf haar huis, want einde Mei het sy na net meer as 25 jaar as fondswerwer by die organisasie afgetree. Du Toit vertel in dié tyd het sy baie kere gesien hoe die Here in dié organisasie se behoeftes voorsien, wat vir amper 70% van hulle inkomste van welwillendheid met donasies en skenkings afhanklik is.

“Hierdie keer was net so spectacular … dit is die hoogtepunt van my loopbaan,” sê hierdie wakker vrou met die modieuse grys bobsnit. Op 65 is sy nog glad nie van plan om haar net by die huis besig te hou nie. Sy wil graag op konsultasiebasis met fondswerwing betrokke bly, want sy voel sy het nog iets om te bied.

Desember toe droog die donasies op

Dit is vanjaar ook presies 120 jaar sedert ds Abraham Kriel so aangegryp is deur die nood van die oorlogswesies na die Boere-oorlog dat hy in 1902 ’n kinderhuis op Langlaagte in Johannesburg begin het.

Vandag word jaarliks omstreeks ’n 1 000 kinders en jongmense op verskillende maniere deur die organisasie, wat na hom vernoem is, gehelp. Twee kinderhuise en sewe sateliethuise bied ’n veilige tuiste vir kinders wat as gevolg van landurige blootstelling aan trauma, molestering en/ of verwaarlosing deur die kinderhof sorgbehoewend bevind is.

Die organisasie bestuur ook verskeie gemeenskapsprojekte in Soweto en Westbury in Johannesburg. In Soweto alleen word nagenoeg 400 kinders in behoeftige gesinne gehelp met ’n warm ete, kospakkies én akademiese bystand met skoolwerk. Daar is ook ’n vaardigheidsprojek wat werklose jongmense leer.

Die uitgawes aan hierdie uitgebreide program kos die organisasie jaarliks by die R50 miljoen. Hiervan dek die staat se bydrae net 33%. Die res se inbring is ’n geloofsaak. Skenkings en erflatings help baie, maar Du Toit het jaarliks ’n stywe R22 miljoen teiken gehad om te haal met fondsinsamelingsinisiatiewe. Haar opvolger vanjaar moet R25 miljoen haal.

Danksy lojale donateurs het die fondse bly inkom by Abraham Kriel Bambanani, selfs toe die Covid-pandemie alle welsynsorganisasies se fondsinsamelingsprogramme onder druk geplaas het. Dit het hulle in staat gestel om in 2020 sowat 4 000 behoeftige mense met kospakkies te kon help toe die inperkings op hulle strengste was.

Tot einde Desember 2021. Toe droog die donasies onverwags op …

In Januarie en Februarie verander dinge dramaties. Teen Vrydag 25 Maart het Abraham Kriel Bambanani met ’n allemintige R3,4 miljoen tekort op hulle boeke gesit.

Ná ’n slapelose naweek, vertel Du Toit, hoor sy die Here sê sy moet hulle donateurs vertel hulle is in die moeilikheid. Sy begin dadelik Sondag al briewe uitstuur. Maandag begin fondse inkom … een tannie stuur R10. Toe laat weet ’n maatskappy hulle bemaak ’n volle miljoen rand as hulle wetlik verpligte bydrae tot maatskaplike ontwikkeling.

Voor die einde van die week was Abraham Kriel Bambanani se finansiële agterstand grootliks uitgewis.

Wat sy in die laaste week van Maart beleef het was “die grootste enkele wonderwerk in ’n reeks van wonderwerke wat ek gelukkig was om in my loopbaan te ervaar,” skryf Du Toit op 30 Mei in haar afskeidsbrief aan hulle donateurs.

“Dit sal my altyd laat smile,” sluit sy ons gesprek af.

  • Berig aangepas na publikasie.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top