Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

"Missionale musiekmelodie bied ’n teoretiese, sowel as praktiese musiekriglyn waarby talle gemeentes kan baat," skryf Jan Coetzer in sy boekresensie vir Kerkbode. Foto: Verskaf

Teoretiese, sowel as praktiese musiekriglyn vir gemeentes

Missionale musiekmelodie – musiek dra ’n boodskap deur Karien Pretorius
Uitgewer: Barnabas Uitgewers, 2021.
Resensent: Jan Coetzer

Dit was verfrissend om ’n eerste indruk van kontekstuele teologie binne musiek te ontdek in Karien Pretorius se Missionale musiekmelodie.

Dit is noodsaaklik om gemeentes se individuele kontekste in ag te neem wanneer die musiekbediening oorweeg word. Pretorius vertel reeds in hoofstuk 2 van die belangrikheid van hierdie individuele kontekstualiteit.

Musiek is ’n diep persoonlike aspek van talle mense se geloofslewe. Dit is ’n manier hoe mense ’n persoonlike belydenis voor God bring. Wanneer mense lofliedere sing, maak mense die woorde hulle eie; hulle maak dit persoonlik en gebruik dit om hulle geloof te bely. Pretorius verduidelik in Missionale musiekmelodie dat hierdie musiekbelydenis as ’n katalisator vir ’n ontmoeting met God kan dien.

Inklusiewe praktyke is ook iets wat duidelik opgelet kan word reg deur die boek. Pretorius gebruik die voorbeelde van liedere wat wêreldbekende melodieë het, soos Lied 510, wat op die melodie van Amazing grace is. Deur liedere met bekende melodieë te sing, raak dit meer haalbaar om die “ander” welkom te laat voel. Musiek kan dus gebruik word om ’n atmosfeer van bekendheid, nostalgie asook rustigheid te skep deur elemente van “die bekende” in die erediens in te bring.

Die eerste hoofstukke van Missionale musiekmelodie handel oor teoretiese elemente; hoe om musiek te kies en effektief in ’n erediens te gebruik. Die laaste hoofstukke fokus op die praksis van musiekbediening. Hoe om ’n erediensmusiekgroep te vorm, asook hoe eredienswerkgroepe saam werk om effektiewe musiek te identifiseer vir gebruik in eredienste. Verder bespreek Pretorius die gebruik en instandhouding van tradisionele kerkinstrumente, sowel as meer moderne instrumente. Pretorius maak nie asof een instrument beter as ’n ander is nie. Inteendeel. Dit is wonderlik om te lees hoe Pretorius die unieke eienskappe van elke instrument, asook die spirituele bydraes wat dit kan lewer, beskryf.

Missionale musiekmelodie bied ’n teoretiese, sowel as praktiese musiekriglyn waarby talle gemeentes kan baat. Musiek speel ’n reuse-bydraende rol tot eredienste en moet dus effektief toegepas word om te verseker dat gemeentelede, asook nie-gemeentelede, welkom, tuis en gemaklik voel.

  • Beskikbaar by CLF.
  • Ds Jan Coetzer is ’n musikant en predikant by NG Kerk Vaalwater.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top