Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die heruitgawe van Ferdinand Deist se klassieke skrywe, Tussen angs en sekerheid, bied ‘n ruim verstaan van gebed wat dalk juis nou weer nodig is, skryf Rethie van Niekerk. Foto: Verskaf

As gebed ’n leë gewoonte raak …

Tussen angs en sekerheid – gedagtes rondom gebed deur Ferdinand Deist
Uitgewer: Lux Verbi, 2021
Resensent: Rethie van Niekerk

Tussen angs en sekerheid is ’n heruitgawe van Deist se klassieke skrywe oor gebed. Hierdie boek uit die laat 1970’s het in 1980 die Andrew Murrayprys ontvang. Deist se werk is inderdaad, soos wat Stephan Joubert in sy voorwoord skryf, “tydloos legendaries”.

Deist skryf vir mense wat nie kan bid nie of vir wie gebed ’n leë gewoonte geraak het.

Dit vat ’n tydjie om jouself in die teks te vind. Hier en daar, wanneer Deist byvoorbeeld ’n probleem beskryf, het ek gewonder of mense regtig nog só dink. Ons wêreld het radikaal verander in die afgelope 44 jaar. Ook die taalgebruik voel plek-plek oordrewe soetsappig.

Mettertyd kan ’n mens egter nie anders as om ingetrek te word deur die besondere beeld wat Deist skep van ’n lewe van gebed nie. Die herinnering dat dit gebed is om jou te verwonder oor die alledaagse, of dat gebed nie woorde hoef te hê nie, is dalk juis nou weer nodig. Die hoofstuk oor gebed as vertwyfeling is troostend, terwyl die fokus op gebed as samesyn met God die leser innooi. Deist se manier van praat oor sonde is (selfs na dekades) vars en bevrydend. Die manier waarop Bybeltekste soomloos in die gedagtegang ingeweef word, is treffend.

Tussen angs en sekerheid bied ’n ruim verstaan van gebed. Dit maak empaties erns met beide die begeerte en worsteling om te bid. Die diversiteit van menswees – ook in gebed – word erken en ingenooi. Hierdie werk word met reg as “klassiek” beskryf.

  • Ds Rethie van Niekerk is predikant by Blouwaterbaai Familiekerk in Gqeberha.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top