Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Koos Burger (1945 – 2021)

Jacobus Gabriël Burger is op 5 Januarie 1945 gebore op Vryheid in Noord-Natal. Hy is die derde geslag Burger  wat geroepe voel om die Here te dien en  leraar van die NG Kerk word. Koos se oupa was ds Jacobus Gideon Coenraad  Burger, aanvanklik ’n onderwyser wat  op 37-jarige leeftyd in 1920 as predikant gelegitimeer word. Hy en Koos se ouma  Maatje Wilhelmina Laurie bedien die NG Gemeente Nieuwe Rust (Nuwerus) digby Namakwaland en later Keimoes aan die Oranjerivier, waar hulle sestien jaar lank werk en hy in 1946 sy emeritaat  aanvaar. In 1959 getuig die NG Kerk  Jaarboek van hom: “Hy was ’n bekende  en geliefde leraar, van wie selfs die  onverskilligste mens moes getuig dat  hy waarlik ’n Christen was.”

Koos se vader is ds Henry Guise Laurie Burger, ’n boorling van Sutherland en ’n tydgenoot van NP van Wyk Louw  in die koue Sutherland. In 1941 trou hy met mej Miempie Pretorius, onderwyseres van beroep. Uit die huwelik  is drie kinders gebore: Martje, Koos  en Wilna. Hy bedien die gemeentes Mafeking, Louwsburg, Thabazimbi  en Breyton. Ds HGL Burger aanvaar op 22 September 1977 sy emeritaat en  die egpaar gaan woon op Rustenburg.  Hy los nog gereeld in gemeentes af en is ’n voorbeeld vir meer as een jong predikant. In 1986 verhuis hulle na Huis Herfsblaar in Queenswood, Pretoria. Sy vrou Miempie sterf in 1994 en hy bly alleen agter. Na ’n kort siekbed  sterf hy op 24 Oktober 2002 in die geseënde ouderdom van 91 jaar en sy  seun ds JG Burger bedien die Woord met sy begrafnis uit die NG Gemeente Garsfonteinpark.

Koos word in die pastorie groot en  die begeerte om vir die Here te werk word vroeg reeds in sy gemoed geanker  deur die Heilige Gees. Hy begin sy  skoolopleiding in 1951 aan die Laerskool Thabazimbi en is van 1958 tot  1962 leerling aan die Hoërskool Frikkie Meyer op Thabazimbi en matrikuleer in 1963 aan die Hoërskool Carolina op die Transvaalse Hoëveld.

In 1964 word hy student aan Tukkies en behaal die BA (Admissie)-graad wat hom toegang gee tot die Fakulteit  Teologie (Afd B) aan die Universiteit  van Pretoria. In 1969 trou hy met Ronell Els en uit die huwelik is twee  kinders gebore, Morga en Henry. Aan die einde van 1970 word hy as proponent gelegitimeer en die onderwerp van sy skripsie is: “Selfidentifikasie  van die predikant”. Prop JG Burger word op 30 Januarie  1971 in die NG Gemeente Edenvale met handoplegging ontvang en bevestig. Hier beleef hy sy eerste tree in die  gemeentebediening en na vier jaar loop  sy pad na die Vrystaatse Goudveld toe hy op 28 September 1975 leraar word  van die NG Gemeente Hennenman Oos, waar hy deel word van ’n hartlike  boeregemeenskap wat groot vreugde in  die lewe van die gesin bring. ’n Roepstem na die NG Gemeente Heilbron laat  die gesin verhuis na ’n landelike gebied  naby die Vaalriviergrens, waar hy op  18 Julie 1980 die herderstaf opneem en ’n verskil in mense se lewe maak. Op 10 Januarie 1986 loop ds Koos Burger en sy gesin se pad na die ou  Transvaal toe hy predikant word van  die NG Gemeente Pretoria-Faerie Glen,  waar hy die herder en leraar word van ’n  groeiende woongebied wat uit sy nate  bars. Dit bring groot verantwoordelikhede mee en ook geleenthede om die Here se Woord op voetsoolvlak aan  mense te bring.

Ds Koos Burger word op 8 Mei 1988  leraar van die NG Gemeente Garsfonteinpark, wat van die gemeente Faerie  Glen afstig. Dit is ’n geweldige uitdaging vir ds Koos en sy span om ’n nuwe  gemeente van die grond af op te bou.  Met entoesiasme en oorgawe werk hy  en sy latere medeleraars om dit in ’n modelgemeente te ontwikkel. Hy beleef  wonderlike tye in die gemeente wat ook  ’n naamsverandering ondergaan na die  gemeente Lux Mundi, ’n ware ligdraer in die gebied. In 2010 groet ds Koos  en Ronell Burger die gemeente.

Nadat hy ’n dekade lank afgetree is,  sterf hy op 12 Junie 2021 en daar word  met dankbaarheid verwys na sy diens baarheid oor dekades heen as leraar wat  as ligdraer die Blye Evangelie uitgedra  het op talryke lewensterreine. – Dr  Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top