Marius Cornelissen is op 12 Desember 1953 in Kaapstad gebore. Sy vader Cornelis Philippus Cornelissen was direkteur in die Staatsdiens. Sy moeder is Maria Gouws, ’n huisvrou. Marius begin sy skooljare in 1960 aan die Laerskool Parow en word in 1967 leerling aan die Hoërskool Tygerberg waar hy in 1971 matrikuleer. Op skool presteer hy in sport en is ook meelewend in die NG Kerk waar hulle as gesin die Here dien.
Die jong Marius voel geroepe om predikant te word en vertrek in 1972 na die Universiteit Stellenbosch waar hy met die BA (Admissie) in die Eikestad begin. Hierna word hy student aan die Fakulteit Teologie op die walle van die Eersterivier, waar hy die BTh-graad verwerf en die tema van sy skripsie is: “Eskatologiese verwagtinge in die agtste eeu voor Christus en getoets aan Sefanja”. Hy neem leiding op verskeie komitees en speel vir Maties rugby en bofbal. Marius trou op 24 September 1977 met Lizette Foley en uit die huwelik is drie kinders gebore: Marlette, Marius en Laurens.
Prop M Cornelissen word op 18 Januarie 1980 met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Warrenton op die walle van die Vaalrivier. In dié tyd vind die eeufeesviering van die gemeente Warrenton plaas waar hy ’n besondere feesviering aanbied. In sy tyd vind die restourasie van die NG kerkgebou ook plaas. Hy is ook intens betrokke by die jeug in die Sinode van Noord-Kaapland waar hy help met die vestiging van skoolverlaterskampe.
Na vyf jaar in die gemeentebediening kom daar ’n skerp draai in ds Marius se pad toe hy ’n beroep aanvaar as kapelaan in die Suid-Afrikaanse Weermag. Hy begin op 25 Januarie 1985 in die gemeente Eerste Vesting op Potchefstroom, waar hy die militêre leer klim en eindig as kapelaan-generaal in die SANW. Hierna vertrek hy op 26 Junie 1988 na die gemeente Tempe in Bloemfontein tot hy weer op 7 April 1991 terugkeer na die gemeente Eerste Vesting op Potchefstroom. Hierna behaal hy ook ’n Bestuursdiploma en sy pad loop op 25 Julie 1995 na die gemeente Voortrekkerhoogte-Oos en in April 1997 na Schanshoogte, albei in Pretoria. In 2009 word hy aangewys as kapelaan-generaal en gekoppel aan die NG Gemeente Raslouw in Centurion. Ds Marius het as kapelaan in die SAW met sy sterk innemende persoonlikheid, besonderse vaardighede, passie vir die lewe en roeping, elkeen wat sy pad gekruis het se lewe diep aangeraak. Die buitengewone goeie verhouding tussen die NG Kerk en die SANW se kapelaansdienste, is die vrug en bydrae wat brigadier-generaal Marius Cornelissen tydens sy termyn gemaak het en leef steeds voort.
Ds Marius Cornelissen se dienstyd oorspan ’n besonder dinamiese tyd in ons land se geskiedenis, met die oorgang na ’n demokrasie. As man van God is hy op die regte plek om vanuit sy posisie as kapelaan-generaal van ’n nuwe verenigde weermag, ’n uiters konstruktiewe rol te speel. As iemand wat persoonlik ’n passie gehad het vir die belangrikheid van versoening was hy uitnemend geskik vir die leiersrol wat hy sou speel.
In sy hartroerende huldeblyk beskryf dr Gustav Claassen watter aandeel ds Marius gespeel het in versoening en hoe hy ’n internasionale kongres gereël het oor die tema vir die internasionale vereniging van kapelane. By die geleentheid is aartsbiskop Desmond Tutu en die bekende teoloog Miroslav Volf ook betrek. Ds Marius en sy span se besoek in 2019 aan Angola, het versoening en heling gebring tussen oud-SAW-veterane en lede van die MPLA. Die hoogtepunt van die besoek was ’n nagmaal wat die voormalige vyande saam gevier het. Dit beklemtoon ds Marius se rol as ’n vredemaker by uitnemendheid, dit is hoe hy die evangelie van Jesus Christus verstaan het.
Dr Gustav Claassen, ’n jarelange vriend, skryf uit die kantoor van die Algemene Sinode: “Marius Cornelissen se heengaan laat ’n reuse-leemte in NG geledere en in ander kringe. Ons dink met hartseer en verlange aan hom, maar tog met mooi herinneringe. Wie sal sy verduideliking van hoe die skerp en sagte kant van ’n sisteem werk, kan vergeet? Die aard van die herinneringe is dat dit nooit die laaste gedagtes oor hom kan wees nie. Die dood sal nooit die laaste sê hê oor die lewe van Marius Cornelissen nie. In die dae wat kom sal gedagtes oor hom ons steeds verryk en sy talle bydraes steeds rigtinggewend wees. Ons sal God elke keer dank as ons aan hom dink.” Hy rig ook ’n dankwoord aan Lizette en haar kinders: “Dankie dat julle vir so lank onbaatsugtig vir Marius aan die kerk gegun het. Dit het beteken dat julle hom in sy roeping en die uitleef daarvan heelhartig ondersteun het en baie daarvoor opgeoffer het. Mag julle op besondere wyse getroos word deur die God aan Wie ons behoort.”
Na sy aftrede uit die SANW word hy op 23 Januarie 2011 tentmakerleraar van die NG Gemeente Raslouw in Pretoria, waar hy en sy vrou Lizette byna tien jaar lank in die gemeente woon en werk. Daar is wonderlike herinneringe oor die pastoriepaar se gasvryheid, hartlikheid en pastorale betrokkenheid by almal se lief en leed.
Ds Marius Cornelissen sterf op 1 Julie 2021 op Reebok na ’n kort maar moeisame stryd teen ongeneeslike kanker. Sy geliefdes deel die volgende met dierbares en vriende: “Jy het jou hoed vir ’n stralekrans verruil, en vandag is dit ons beurt om ons hoed vir jou af te haal. Ons sal jou gees, moed, wysheid en hartlikheid onthou. Ons was bevoorreg om ’n deel van hierdie pad met jou te stap. Jou aardse werk is nou klaar. Tot weersiens.” Op 14 Julie 2021 vind ’n herinneringsdiens in die NG Gemeente Raslouw in Pretoria plaas en word die mens-dominee-generaal Marius Cornelissen se lewe in dankbaarheid gevier. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM
