Alwyn Griebenow is op 22 April 1936 gebore op Laingsburg op die walle van die Buffelsrivier in die Karoo. Hy was die jongste van twaalf kinders en beleef in die Depressietyd die sorgende genade van die Here. Sy vader is Erasmus Johannes Griebenow, ’n ambagsman en sy moeder ’n huisvrou. In 1937 verhuis die gesin na Goodwood in die Kaapse Skiereiland. In 1945 begin Alwyn met sy skoolopleiding aan die Laerskool Goodwood en in 1950 is hy in die Hoërskool Goodwood waar hy in 1953 matrikuleer. ’n Jaar tevore kom Alwyn tydens ’n Pinksterdiens kragdadig tot bekering en voor sy matriekjaar beleef hy die sterk roeping om predikant te word.
Die Here beskik dat Alwyn geld ontvang van die Helpmekaarfonds om op Stellenbosch te gaan studeer. Hy verwerf in 1956 die BA (Admissie) en word daarna student aan die Teologiese Seminarium, waar hy as student die eeufeesviering van die Kweekskool in 1959 meeleef. Hy het ’n briljante brein en behaal cum laude in al sy studies. Hy word einde 1960 as proponent gelegitimeer en trou kort daarna op 17 Desember 1960 met Muntie Benson van Jagersfontein in die Suid-Vrystaat. Uit hulle huwelik is vyf kinders gebore: Marina, wat in 1962 op Alwyn se verjaarsdag op Morgenster gebore is. Alwyn is in 1964 te Bulawayo gebore. Bertus (1966), Mariana (1969) en Francois (1972) is op Gatooma gebore.
Die jong Alwyn het ’n sendinghart en hy en Muntie neem ’n beroep aan na die sendingveld in Masjonaland in die destydse Suid-Rhodesië. Ná ’n maand se taalstudie op Morgenster-sendingstasie, verhuis hulle na Alheit-sendingstasie, ongeveer 160 kilometer noordoos van Fort Victoria (Masvingo). Hier werk hulle saam met ses ander sendelinge. Ds Alwyn Griebenow het vinnig Shona bemeester en selfs in dié taal gepreek.
Intussen versleg die plaaslike politieke klimaat so dat hulle na Bulawayo verplaas word, waar hy sy bediening in die swart woonbuurtes voortsit. Op 10 Oktober 1966 aanvaar ds Alwyn ’n beroep na die gemeente Gatooma (Kadoma), ’n werkkring halfpad tussen Salisbury (Harare) en Gwelo (Gweru). Die werkkring het ’n groot boeregemeenskap ingesluit en daar word hegte geestelike en vriendskapsbande gesmee.
Ds Alwyn en Muntie verlaat Rhodesië en op 11 Maart 1973 word hulle sendingarbeid voortgesit op Dingaanstat in Zoeloeland, waar hulle ’n kort tydjie werk op dié geskiedkundige sendingstasie en ds Alwyn weer ’n nuwe taal aanleer, hierdie keer Zoeloe. Hy het die administrasie van die kinderhuis behartig. Dit was ’n moeilike leerkurwe vir die egpaar en hulle gesin, vol toetse en beproewings, maar hulle het ryper en sterker anderkant uitgekom. Op 10 Mei 1974 word hy leraar van die NGKA op Delportshoop langs die Vaalrivier, ’n delwersdorp anderkant Kimberley, waar hulle vier jaar lank diamante vir God se koninkryk ontgin. Op 11 Desember 1977 aanvaar hy ’n beroep na die NG Gemeente Bothasrus op Despatch naby Port Elizabeth. In hierdie gemeente met sy ryk arbeidsveld aan mense wat die sout van die aarde is, werk hy tot hy sy emeritaat op 30 April 1996 aanvaar. Hierna preek hy in verskeie gemeentes en laat nie ’n geleentheid verbygaan om vir die Here te werk nie.
Hy was al die jare aktief in die Voortrekkerbeweging, waar hy diep spore trap in die harte van jongmense. Almal wat hom geken het, se lewe spreek van die hoop wat oom Alwyn gesaai het. Ds Willem Petzer, ’n jonger vriend en kollega, skryf: “Neef Alwyn, soos duisende Voortrekkers – kinders en volwassenes – hom deur die loop van sy lang loopbaan as offisier in die Voortrekkers ken, en oom Alwyn, soos ek hom ken. Prediker, mentor, skrywer, rolmodel en ’n vaderfiguur wat ek altyd deur lang jare kon skakel as ek raad nodig gehad het.” Paul Kloppers onthou: “Hy het saam met ons gaan stap en ons standerd sewe-lawwigheid met ’n effense glimlag verduur. Hy was die kalmte, die kwinkslae, die konsekwentheid.” En: “Salig is hulle wat (soms onwetend) jong kinders die pad wys, en dan sommer water, kaart en kompas daarby gee. Welgeluksalig, ja. By gebrek aan iets meer gepas, Neef, was jou lewe ’n psalm wat gesing kon word, ’n spreuk wat insig kon gee. Nóóit ’n klaaglied nie.”
Ds Alwyn Griebenhow het die kuns verstaan om alles te gee ter wille van sy liefde vir die Here se koninkryk. Ds Willem getuig: “Oom Alwyn het vir die blye boodskap van Jesus Christus geleef. Ek weet dit, want ek het hom hoor preek, ek het hom hoor bid, ek het hom hoor praat, ek het hom sien leef. Sy onkreukbare integriteit en erns in sy liefde vir sy Verlosser het almal wat met hom in aanraking gekom het, getref. Sy lang huwelik van 60 jaar en sewe maande met tannie Muntie is ’n navolgingswaardige voorbeeld vir alle getroudes.”
Hy sterf op 16 Julie 2021 om 23:05 in die ouderdom van 85 jaar en sy begrafnisdiens vind op 23 Julie 2021 plaas uit die NG Gemeente Bothasrus op Despatch.
Sy seun Bertus Griebenow skryf die dag na sy pa se dood: “Ek sal altyd die Here dankbaar bly vir my pa en die feit dat hy my na Jesus toe gelei het en gedemonstreer het hoe ’n verhouding met Jesus moet en kan wees. Sy hart vir verloregaande siele sal my altyd bybly en ’n aansporing wees om as ligdraer van Jesus in die wêreld op te tree.
Die Here het gegee en die Here het geneem. Die Naam van die Here sy geloofd. My pa het swaar gehad die laaste paar dae en ons het nou groot vrede met sy afsterwe en weet sy lyding is verby. Ons weet verseker hy is nou by Jesus.” – Dr Gerdrie van der Merwe VDM
