Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Basie van Eeden (1936-2021)

Frederick Jacobus van Eeden is op 31  Mei 1936 gebore op Swellendam. Sy  vader is Johannes (Hans) van Eeden,  wat aanvanklik in die distrik Swellendam boer en later as administratiewe klerk werk by die Swellendamse  Koöperasie. Sy moeder is Salmina  (Salmien) Nel, ’n onderwyseres by  die plaasskole Leeurivier en Voorhuis.  Hulle is ook van 1943 tot 1947 koshuis ouers op Rietbron en Beaufort-Wes,  waarna hulle terugkeer na Swellendam.  Hans was van 1940 tot 1961 ’n getroue  kerkraadslid op Swellendam.

Basie begin sy skoolopleiding aan  die Laerskool Beaufort-Wes en die  gesin verhuis na Swellendam waar  hy sy skoolloopbaan voortsit en in  1953 matrikuleer aan die Hoërskool  Swellendam. Hy voel geroepe om predikant te word en studeer van 1954  tot 1960 op Stellenbosch waar hy die  BA (Admissie)-graad verwerf. In 1957  word hy student aan die Teologiese  Seminarium in die Eikestad, waar hy  aan die einde van 1960 as proponent  gelegitimeer word.

Op 18 Februarie 1961 word hy met  handoplegging in die NG Gemeente  Port Elizabeth-Oos ontvang en bevestig. Met die afstigting van Port  Elizabeth-De Duin word hy in 1963  hulle eerste dominee en die eerste vaste  boustene word in die gemeente gelê.  Tydens sy dienstyd langs die see by  Algoabaai, tree hy op 16 Junie 1962 in  die huwelik met Jeannette Liebenberg,  dogter van ds Fred en Janet Liebenberg  van Stellenbosch. Ds Fred Liebenberg  was hoofsekretaris van die CSV op  Stellenbosch en het as man van God sy  lewe gewy aan die Here se werk onder  studente en skoliere. Uit die huwelik  tussen ds Basie en Jeannette van Eeden  is vier kinders gebore: Sonja, Hanlie,  Johannes en Jaco.

Op 17 Julie 1965 word hy die medeleraar van die NG Gemeente Humansdorp, waar hy agt jaar lank werk met  spesiale opdrag as kapelaan van die SA Polisie in die Oos-Kaap. Hier begin ’n besondere pad in die polisiediens wat  oor ’n tydperk van 21 jaar loop. Hy  vorder van ’n gewone kapelaan tot hy  in 1991 vorder tot by kapelaan-generaal  in die polisie. Die gesin verhuis na  Pretoria toe hy op 10 Februarie 1973  kapelaan word by die Polisiekollege in Pretoria en na drie jaar is hy terug in  die Kaapprovinsie toe hy in Kaapstad  op 21 Januarie 1977 die medeleraar  word van dr Koot Vorster met opdrag  bediening van die SAP in die streek.

Ds Basie se bedieningspad loop op  23 April 1983 na Oudtshoorn, waar  hy as kapelaan die streek bedien en  ’n besondere dienstyd in die Klein Karoo beleef. Na slegs drie jaar kom  ’n roepstem na die hoofkantoor van die  kapelaansdienste waar hy in 1991 die  hoogste sport beklee toe hy kapelaan-generaal van die Suid-Afrikaanse  Polisie word. Dit is in die oorgangstyd  rondom 1994 en hy speel ’n besondere  rol om kalmte en vrede te bring op voetsoolvlak. Hy is ook die stigter en  grondlegger van die vak Polisie-etiek aan die opleidingskollege, ’n belangrike  toevoeging tot die onsigbare mondering  vir elke man of vrou wat in die SAP  diens doen. Daarmee saam het die  Woord van die Here sentraal gestaan  in ds Basie se dienstyd as kapelaan-generaal in die Suid-Afrikaanse Polisie.  Hy was 21 jaar lank verbonde aan die  SAP as kapelaan en het diep spore  getrap as ware vriend, wyse raadgewer  en motiveerder vir manne en vroue in  uniform. Hy het die vergifnis en liefde  van die Here uitgeleef en elkeen kon sy  opregtheid en omgee op ’n besondere  manier beleef. Hy was die vader en ’n verlengstuk van die Here se kerk in  duidende polisiestasies oor die lengte  en breedte van Suid-Afrika.

Dit was ’n warm stoel in die kapelaan-generaal se kantoor, maar met geloofsmoed het hy op alle vlakke geestelike  leiding gegee. Dit was ’n moeilike  taak wat hy met oorgawe verrig het,  maar die speelveld het al hoe moeiliker  geword. Aan die einde van 1993 raak hy medies ongeskik vir werk en maak plek vir ’n nuwe kapelaan-generaal in  die nuwe politieke bedeling wat in 1994  in werking gestel word. Hierna bly die gesin in Pretoria woon en in 1999 verhuis die gesin na die Strand waar hy sy  eie besigheid bedryf en ’n wonderlike  werksverhouding met sy seuns opbou.  Hy is ook in die tyd die direkteur van  die GNLD-Instituut.

Hy sterf op 18 Januarie 2021 en ’n herinneringsdiens word op Sondag 24 Januarie 2021 in die NG Moederkerk  op Stellenbosch gehou. By die geleentheid het ds Hansie Cronjé, ’n vriend  en oud-kollega in die kapelaansdiens  ’n huldeblyk gelewer, waaruit ons ’n  gedeelte aanhaal: “Ds Basie van Eeden  het ’n skatkis van goue herinneringe  nagelaat vir sy geliefdes en almal wat  hom geken het. Ek sal hom onthou as  my wyse mentor in die SAP-kollege  tydens my kapelaansopleiding. Ek sal  hom onthou as die dominee wat ware  omgee verstaan het, toe hy uit sy pad  gegaan het en ons bygestaan het met  ons serebraal-gestremde seun se vele uitdagings. Hy het my hoop en rigting gegee in my bediening met ’n besondere  boodskap uit Romeine 13 – “Oorwin die kwaad met die goeie”. Ds Basie het my lewe diep en ewig aangeraak.  Ek eer sy nagedagtenis.” – Dr Gerdrie  van der Merwe VDM

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top