Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Frikkie Greeff (1951-2021)

Frederick Johannes Greeff is op 31  Maart 1951 gebore in sy ouma se huis te Kirkwood in Oos-Kaapland. Sy vader is Frederick Johannes Thomas Greeff en sy moeder is Alice Maria Hall. Frikkie is die oudste van vier  kinders. Hy begin sy skoolopleiding  in 1957 aan die Laerskool Kirkwood waar hy ook in 1964 leerling word aan  die Hoërskool Kirkwood. Met sy ouers  se verhuising dieselfde jaar na Patensie word hy tot 1966 leerling aan die  Hoërskool Patensie. In 1967 word hy leerling aan die Hoërskool Nico Malan op Humansdorp, waar hy einde 1968 matrikuleer. In dié tyd blink hy uit in rugby. Hierna doen Frikkie sy militêre  diensplig van twee jaar en begin in 1970  werk in Port Elizabeth as administratiewe assistent by die Departement van  Gemeenskapsbou. Hier kwalifiseer hy  as bou-inspekteur en hy woon en werk  van 1976 tot 1978 in Oos-Londen. In dié  tyd blink hy uit in karate en is in 1974  die Oostelike Provinsie se kampioen in die bruingordel-afdeling.

Die Here roep Frikkie om predikant te  word en hy begin in 1978 studeer aan die Universiteit van Port Elizabeth, waar  hy in 1980 die BA- (Admissie) graad  verwerf. Hy is sekretaris van die Admissiebond en lid van die CSV-bestuur op  die kampus langs die see. In die tyd is  hy ook voorsitter van die Oos-Kaapse Stranddienskomitee en hy gee besondere leiding op dié gebied en skoliere en studente vind die Here. Hierna loop Frikkie se pad na die Universiteit Stellenbosch, waar hy aan die Fakulteit Teologie studeer en ook rugby speel vir die koshuisliga en die kweekskool. Hy  verwerf die BTh-graad in 1983 en word op 15 November 1984 gelegitimeer as proponent van die NG Kerk. Frikkie  trou op 28 September 1985 met Marlene Brand, ’n onderwyseres aan die Laerskool Mikro in Kuilsrivier. Prop FJ Greeff word aan die einde van 1984 as proponent gelegitimeer en begin dadelik as pastorale hulpleraar op Laingsburg werk. Tydens hierdie tydperk kon hy mense ondersteun en begelei om sin te probeer maak van die  groot vloedramp wat die Karoodorp  in 1981 getref het.

Hy ontvang ’n beroep na die NG Moedergemeente  Wellington, waar hy op 10 Mei 1985 as predikant ontvang en bevestig word.  Hier werk hy saam met kollegas dr  Albert Basson en ds Koos Smith en sy verantwoordelikheid is gemeentebou op Wellington.

Op 5 Mei 1990 aanvaar hy ’n beroep  na die NG Gemeente Burgersdorp, as medeleraar van ds Willem Murray. Destyds was dit ’n groot gemeente, want daar was ’n groot spoorwegaansluiting en die hoofkantoor van Albert  Koöperasie was op Burgersdorp. Met die verskuiwing van die koöperasie na Ladybrand en die tot niet gaan van die SAS & H word die gemeente so klein dat hy in 1999 die enigste leraar is. Sy vrou Marlene skryf: “Burgersdorp het  ’n groot boerderygemeenskap gehad. Hy is gereeld genooi om te jag en kon daarom tyd in die natuur deurbring. Hy was lief om by mense te kuier, na hulle stories te luister, daarom het hy veeveilings en boeredae bygewoon, waar hy die boere en lidmate op hulle eie terrein kon leer ken. Tydens hulle verblyf op Burgersdorp, was hulle betrokke by al  die aktiwiteite van die kerk, dorp en  die skole – hy was vir jare ’n tydhouer  by die jaarlikse atletiekbyeenkomste. Hy het gereeld kursusse aangebied,  soos die EE111, Volwasse menswees,  Kingfisher, Myers-Briggs, en ander  kursusse. In 1996 verwerf hy die graad  MTh in Bedieningspraktyk, met dr Jurgens Hendricks van Stellenbosch as studieleier. Onder ds Frikkie se  leiding het die gemeente Burgersdorp sterk gefokus op die gemeenskap en die uitdra van die Blye Evangelie.

Na ’n geseënde dienstyd van 26 jaar aanvaar ds Frikkie Greeff op 11 Maart  2016 sy emeritaat op Burgersdorp. Hy  en Marlene vestig hulle op Wellington,  die gemeente waar hy in 1985 sy bediening begin het. Terwyl hulle ’n huis op  Wellington bou, help hy in die lente  ’n paar maande lank as brugleraar op  Laingsburg, die gemeente waar hy na  sy legitimasie gewerk het.

In die winter van 2017 word pankreaskanker by ds Frikkie gediagnoseer  en hy word hiervoor behandel en dit  is die begin van ’n unieke pad met die Here. In sy siekte raak hy steeds mense aan met sy positiewe ingesteldheid.  Wanneer mense hom gevra het hoe dit gaan, was sy antwoord altyd: “Die Here is goed vir my, ek is in sy hande,  ek het baie om voor dankbaar te wees.”  Hy en sy vrou het van 2018-2019 as  brugleraarspaar in die NG Gemeente  Nuwerus gewerk, waar hy die mense van Namakwaland goed leer ken en  waardeer het. Sy gesondheid was van so ’n aard dat hy deur Wellington Moedergemeente genader is om leiding te  neem in die bediening aan die senior  burgers in die plaaslike ACVV-tehuis vir bejaardes, Silwerkruin, en ander  aftree-oorde op Wellington. Met hierdie  taak het hy voortgegaan tot sy dood.

Ds Frikkie Greeff was so dankbaar dat hy vier jaar lank met oorgawe kon leef, ten spyte van die pankreaskanker.  Hy het sy gesin geniet en waardeer en  word onthou as ’n brugbouer en ’n vredemaker. Sy lewensleuse was altyd: “Leef die waarheid!” Hy sterf op 27 Junie 2021 in die vrede  van die Here. Hy word oorleef deur sy  vrou Marlene en vier kinders. Rehan woon in Londen, Anmari woon in  Somerset-Wes, Cobus en Stefan woon albei in die Paarl.

’n Gedenkdiens word op 15 Julie  2021 in die Moederkerk waargeneem  deur ds Lettie Büchner, die kerkgebou en gemeente waar hy sy bediening begin  het.

Ds Frikkie Greeff was ’n weldeurdagte persoon, ’n getroue bedienaar van  die Woord wat in elke gemeente wat  hy bedien het sterk gefokus het op die  geestelike vorming van lidmate. – Dr  Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top