Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Gert Painter (1928-2021)

Gerhardus Willem Painter is gebore  op 4 September 1928 op die plaas  Witpoortjie in Leeudoringstad in die  Wes-Transvaal. Sy oupa is Quinton  Bailey Painter en boer op die plaas  Weltevreden in die distrik Ladismith  en sy ouma is Gerbrechta Elizabeth  Saayman. Sy vader is Gerhardus  Daniel Painter, ’n sakeman en boer op  Magaliesburg naby Krugersdorp. Sy  moeder is Elizabeth Gertruida Janse van  Rensburg, onderwyseres van beroep  wat die liefde vir Opvoedkunde in sy  hart vestig.

Gert begin sy skoolloopbaan in 1934  aan die Laerskool Magaliesburg en  matrikuleer in 1945 aan die Hoërskool  Monument op Krugersdorp. Hy is baie  lief vir die plaas en geniet in sy jong dae  om te help met die boerdery. Hy volg in die voetspore van sy moeder en studeer  aan die Potchefstroomse Universiteit  vir CHO op Potchefstroom waar hy  die BA-graad en die HOD-diploma  verwerf. Hy is van 1951 tot 1956 onderwyser aan die Jan de Klerk Hoërskool  te Krugersdorp, waar hy ook huisvader  is in die kinderhuis. Hy behaal ook die  Honneursgraad in Opvoedkunde met  lof en hy is ’n uitmuntende onderwyser.

Gert Painter word oorrompel deur  die Meester se roepstem om predikant  te word. Nadat hy aan al die vereistes  voldoen het en Grieks en Hebreeus  onder die knie gekry het, word hy  in 1957 toegelaat tot die Teologiese  Seminarium in die Eikestad. Aan die  einde van 1960 word hy as proponent  gelegitimeer en verwerf die BD-graad  in Teologie aan die Universiteit van  Stellenbosch. Hy ontvang ’n beroep  na die NG Gemeente Upington-Oos  op die walle van die Grootrivier, waar  hy op 18 Februarie 1961 met handoplegging ontvang en bevestig word. Hy  was ouer en meer ervare as die gewone proponent, daarom hanteer hy die  bediening met kalmte en wysheid en  hanteer hy krisisse soos ervare leraars.  Met sy aankoms op Upington is die  bouplanne van die nuwe kerkgebou  reeds aanvaar en is hy betrokke met die  bouwerk en neem ook die luisterryke  inwydingsrede waar.

In die winter van 1966 word ds GW  Painter leraar van die NG Gemeente  Port Elizabeth-Wes, waar hy hartlik  saamwerk met die geliefde ds Dave  Marais, later moderator van die Sinode  van Oos-Kaapland. Hulle beleef in die  jare 1968-1969 ’n magtige herlewing in  die gemeente, waar mense tot bekering  kom en die Here met oorgawe dien.

Op 17 April 1970 word hy leraar van die NG Gemeente Braamfontein  in Johannesburg, waar hy geroep word  om tot met sy emeritaat op 4 September  1993 met oorgawe te werk. Hy bly  egter in die gemeente werk tot einde  1996 toe hy finaal aftree. Hy beleef in  sy dienstyd baie veranderings in die  Goudstad en was 27 jaar lank intens  betrokke by krisispastoraat in die hart  van Johannesburg.

Hy trou op 11 Julie 1953 met Martha Jacoba (Mollie) Botha, ’n gekwalifiseerde maatskaplike werker. Uit hulle  huwelik is vyf kinders gebore, waarvan  ’n seuntjie jonk sterf op Upington. Die  jongste dogter Mollie wat vernoem is na  haar ma, volg in die voetspore van haar  pa en word ook predikant en verwerf  ’n doktorsgraad in Filosofie. Sy was  Beeld se bruid van die jaar in 1995,  doseer Etiek en is ook Direkteur van  die Sentrum vir Sake- en Professionele  Etiek aan die Universiteit van Pretoria.  Sy studeer aan verskeie universiteite  in die VSA, UK en Slowenië. Tans is  prof Mollie Painter verbonde aan die  Nottingham Trent University in die  Verenigde Koninkryk en ’n wêreldklas  leier op haar vakgebied.

Ds Gert Painter was van kindsbeen  af lief vir vliegduiwe en hierdie stokperdjie en stilte by ’n duiwehok is ’n uitstekende uitlaatklep waar die stres en  spanning van die bediening verdwyn.  Aan die begin van 2001 wen Fairthorn,  duif wat ds Gert Painter geteel het, die  World Free Million Dollar-wedvlug by  Sun City. Hy word erken as een van  die beste duiwetelers in Suid-Afrika.

Hy sterf op 26 Julie 2021 en ’n gedenkdiens vind op 4 Augustus 2021 plaas  vanuit die NG Familiekerk Parkkruin  in Johannesburg. Ds Gert Painter het  nooit ’n geleentheid verby laat gaan om mense te konfronteer met die liefde van  God en aan te moedig om ’n persoonlike  verhouding met Jesus Christus te hê nie.

In ’n huldeblyk getuig sy kinders:  “Ons pa was buitengewoon geseënd  met ’n lang en vrugbare lewe, met  talente om God se boodskapper te  wees en ander te inspireer, positief te  beïnvloed met buitengewone resultate.  Hy het geleer om na die Heilige Gees  se sagte stem te luister. Daarom kon hy  onder moeilike omstandighede altyd  blymoedig, nederig en steeds diensbaar  God se doel met sy lewe, uitleef. Hy  word onthou as seldsaam, besonders  en wonderlik – ’n fenomeen wat be sonderse, buitengewone en wonderlike  voetspore in ons hart getrap het en wat  ons altyd sal koester en nadoen.” – Dr  Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top