Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Jaco van Eyssen (1960-2020)

Jaco Johannes van Eyssen is op 28 April  1960 te Stellenbosch gebore. Sy vader  is Jakobus Johannes van Eyssen, wat  in die Strand opgroei en ’n leeftyd lank  die boekhouer is by die munisipaliteit  van Stellenbosch. Sy moeder is Anna Maria de Villiers, wat voor haar troue  by die CSV-kantoor op Stellenbosch  werk. Jaco se ouma is Maria Petronella  Schuun, ’n onderwyseres wat uit ’n  gesiene familie van Rietbron en Willowmore stam.

Jaco begin sy skoolopleiding in  1967 aan die Laerskool AF Louw op  Stellenbosch en word later leerling aan  die Handelskool op Stellenbosch, wat later die Hoërskool Stellenbosch word.  Hy was onderhoofseun van die skool  en is deur die Rotariërs gekies om as  deel van ’n landswye groep toekomstige  leiers opgelei te word. Een van sy groot  lekkerkry-dinge op Stellenbosch was  om in professor Charles Fensham se  “Bosorkes” te speel, want hy was knap  met die kitaar, mondfluitjie en bas.

Toe reeds was Jaco op sy beskeie  manier ’n pionier, wat ongestoord  met durf en geloof die onkonvensionele gedoen het. Wat Jaco se roeping  voorafgegaan het, was toe hy besluit  het hy wil regtig vir Jesus lewe, het hy  ’n voorwaarde gestel. Hy sou enigiets  doen, net nie ’n predikant word nie. Net voor sy matriekjaar terwyl hy deel  was van die Strand se stranddiensspan,  ontvang hy die roeping om predikant  te word. Hy vlug soos Jona van ouds  en doen sy weermagopleiding, toe hy  een nag weer duidelik die roepstem van  die Here hoor.

Jaco vertrek na Stellenbosch en verwerf in 1983 die BA (Admissie), wat  hom toegang gee tot die Fakulteit  Teologie in die Eikestad. Hy is deel van verskeie Admissiebondtoere, is  die verhoogbestuurder en begin ’n eie boereorkes. Maar hy onderbreek  sy BTh-studies in 1986 om saam met  oom Hans von Staden in die Dorothea Sending te gaan werk. Dit was ’n unieke leerskool vir Jaco en na die dood van  oom Hans aan die einde van 1986 keer  hy terug na Stellenbosch en het Jaco  sy studies voortgesit. Tydens Jaco se  studentejare het hy ook by die NG Kerkboekhandel en Wever gewerk.

Jaco trou in 1983 met Christina  Hester le Roux, wat haar BMus-graad  verwerf en haar man in sy roeping  met oorgawe bystaan. Uit die huwelik  is drie dogters gebore: Tina, getroud  met Francois du Toit en hulle woon in  Witbank. Jacorien, getroud met Marthinus Nel en hulle woon in Durbanville.  Anel, getroud met Andries Botha en  hulle woon in Nederland.

Aan die einde van 1988 word prop  Jaco Johannes van Eyssen legitimeer en hy word aan die begin van 1989 met handoplegging bevestig in die NG Gemeente Ariamsvlei, ’n  grensgemeente tussen Suid-Afrika en  Namibië. Hy word bevestig deur ds AC  Loubser, destyds predikant van die NG  Gemeente Upington-Oos. Daar was  ’n groot droogte in die gebied en teen  1991 het die gemeente en gemeenskap  in Ariamsvlei baie swaargekry. Die  Here gee uitkoms en ’n ooreenkoms  word tussen die CSV op Stellenbosch  en die gemeente gesluit wat ds Jaco  in staat stel om drie maande elke jaar deur Namibië te reis en CSV-takke aan die gang te hou en skole te besoek. In  1993 en 1994 is hy leier van die CSV Jeugspan in die destydse Transvaal.  In 1995 skep die VG Kerk en die NG  Gemeente Ladismith in die Kaap ’n  geestelike pos om plaaswerkers te bedien, wat deur ds Francois van Tonder  beskryf word as ’n besondere geseënde  tyd in die omgewing van Ladismith.

In 1996 word ds Jaco van Eyssen die  leraar van die NG Gemeente Panorama in Witbank, waar onder sy leiding ’n  CMR-pleeghuis begin word. In 2001 verwerf Jaco die MTh in Jeugbediening en in 2009 verlaat ds Jaco die  gemeente en werk vir die Petra Instituut vir Kinderbediening op De Doorns en  kry hy die visie om die twee kampusse te  Witrivier en De Doorns te amalgameer.

In 2014 word ds Jaco van Eyssen leraar van die NG Gemeente Willowmore, waar hy in ’n kontrakpos  die boeregemeenskap bedien. In 2018  skakel dr Frans Kotze van Edenburg die  skrywer en vra of ek ds Jaco ken want  hy het aansoek gedoen vir die leraarspos. Op die ingewing van die oomblik  verklaar ek telefonies dat hulle hom  maar kan beroep na Edenburg. So word  ds Jaco in 2018 die leraar van die NG Gemeente Edenburg, ’n gemeente wat  hom baie vryheid gee om vir oulaas sy liefde op mense uit te stort. Op 2 Julie  2020 kry ds Jaco die skokkende nuus  dat hy kraakbeenkanker het en dat dit reeds versprei het. Ds Jaco lei op 29  November 2020 die Kerssangdiens en  ontvang sy emeritaat. Hulle verhuis op  2 Desember 2020 na Bloemfontein waar  hy op 7 Desember 2020 sterf. Dit is  grendeltyd, maar ’n herinneringsdiens word deur ds Kobus Dippenaar van  Bethulie in die kerkgebou te Edenburg  gehou.

In ʼn brief aan die NG gemeente  Edenburg, skryf ds Jaco nadat hy  gehoor het die kanker het deur sy hele  liggaam versprei: “Ek het net ’n skielike  en oorweldigende opwinding beleef  om na Jesus toe te gaan, baie gouer  as wat ek aanvanklik gedink het. Dit  is nou ’n week later en ek voel nog  net so opgewonde. Gelukkig verstaan  my vrou dit. Sy sou baie graag saam  wou gaan, maar sy sal nog ’n rukkie moet wag”. So eindig die toegewyde  lewe van ds Jaco van Eyssen, wat op  ’n besondere manier ’n dienskneg was in die koninkryksdiens.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top