Jan Abraham du Rand is op 3 Augustus 1945 gebore in Pretoria en bring die eerste sewe jare van sy lewe deur op Upington, waar sy vader as siviele ingenieur werk. Jannie en Marie du Rand met hulle twee kinders Jan en Dorothea, woon op ’n kleinhoewe waar hulle liefde vir diere en die grond gevestig word. Jan beleef aan sy eie lyf wat gehoorsaamheid aan die Here beteken, toe hulle na Pretoria verhuis omdat sy vader geroepe voel om predikant te word en deeltyds studeer. Later word ds JA du Rand op veertigjarige leeftyd predikant van die NG Gemeente Villieria in Pretoria. Die jong Jan du Rand begin in 1952 met sy skoolloopbaan aan die Laerskool Generaal Jacques Pienaar, waar hy ook hoofseun is. Hy word geïnspireer deur mnr Combrink, vader van prof Bernard Combrink. Hy is later leerling aan die Hoërskool Wonderboom, waar hy in 1963 met vyf onderskeidings matrikuleer. Hy wou chemiese ingenieur word, maar na ’n ernstige motorongeluk aan die einde van standerd agt, besluit hy finaal om in die voetspore van sy vader te volg en predikant te word.
Jan studeer aan die Universiteit van Pretoria, waar hy die BA en Honneurs in Grieks verwerf. Hy is student aan die Fakulteit Teologie (Afd B), verwerf die BD-graad en is voorsitter van die teologiese vereniging Deo Gloria. Hy word aan die einde van 1970 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer. As leier van ’n ASB-toer, ontmoet hy Anneli van der Walt, ’n plaasmeisie van die Springbokvlakte, met wie hy in 1971 trou. Hy behaal tegelyk die MA-graad in Grieks en die DD-graad in Nuwe Testament en is prediker in die NG Gemeente Kinross. Op 20 Januarie 1973 word hy met handoplegging bevestig in die NG Gemeente Krokodilrivier op Brits, waar hy predikant is tot met sy vertrek na die akademiese wêreld.
In 1976 word hy dosent aan Tukkies se Fakulteit Teologie, waar hy Bybelkunde doseer. Dit is ’n verrykende en vormende ervaring as jong akademikus en in 1977 behaal hy sy doktoraat met die proefskrif: “Entolé in die Johannese Evangelie en -briewe”. Hy het toe reeds ’n Johannese antenna ontwikkel wat hy met oorgawe kon hanteer. ’n Skerp draai kom op sy pad toe dr Jan en Anneli du Rand met hulle drie dogters, Ingri, Mari en Janet, na Bloemfontein verhuis waar hy in 1980 hoof word van die Departement Nuwe Testament aan die nuutgestigte Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat. Op ’n besondere wyse word die grondslag gelê deur professore Mias de Klerk, Evert Kleynhans, Koos Smit, Mauritz Kloppers, Pieter Potgieter en Jan du Rand. Kovsies het ruim geleentheid vir prof Jan geskep om nasionaal en internasionaal met sy Johannese navorsing voort te gaan, onder andere deur beurse vir oorsese studiebesoeke. Die vestiging en uitbou van ’n nuwe teologiese biblioteek is aan prof Jan toevertrou. Die kerklike betrokkenheid van die fakulteit het aan die akademie ’n eie waarde en gerigtheid gegee.
In 1989 word prof Jan as professor in Bybelkunde aangestel by die Randse Afrikaanse Universiteit in die Goudstad. Toe dit later die Universiteit van Johannesburg word, het nuwe geleenthede gewink, aangesien die universiteit se nuwe leierskap berekend op navorsing gefokus het. Aan die einde van 2009 tree prof Jan amptelik af en word buitengewone professor in Nuwe Testament aan die Noordwes Universiteit, die Universiteit van Pretoria en die Northpark Theological Seminary in Chicago. Hy sou einde Mei 2021 finaal aftree by die Noordwes Universiteit. Oor die jare ontvang prof Jan verskeie toekennings, onder meer die gesogte Andrew Murray-prys vir Christelike en teologiese literatuur, onderskeidelik in 2008 en 2014 vir sy boeke oor Openbaring en die eindtyd. Hy het in sy leeftyd meer as 30 boeke geskryf. Sy hoogste prioriteit was in sy eie woorde “om die Woord so suiwer moontlik aan die woord te stel”. Dit vind gestalte in sy publikasies vir NG lidmate en gelowiges oor die Evangelie van Johannes en Openbaring. Prof Jan du Rand was ’n veelsydige mens met vele belangstellings soos skilder met olieverf, houtbrandwerk, paneelklop, teel van skoubudjies, tennis en gholf. Hy is ook ’n gesinsman by uitstek en ondersteun sy vrou Anneli in haar jarelange kankerstryd. Soos baie ander Suid-Afrikaanse ouerpare, beleef hulle ook die hartseer dat al drie hulle dogters oorsee woon en dit nuwe uitdagings bring.
Ongeveer drie weke voor sy dood word prof Jan met longprobleme opgeneem en toe hy Covid-19 opdoen, word sy gesondheid so aangetas dat dit ’n glybaan word wat sy einde verhaas. Ons groet hierdie briljante teoloog en geliefde dienskneg van die Here met hartseer, maar met dankbaarheid teenoor die Hemelse Vader dat sy skriftelike nalatenskap ons sal troos. Sy begrafnisdiens vind op 26 Maart 2021 plaas in die NG Gemeente Elarduspark en sy vriende in Suid-Afrika en oorsee kon die diens op hulle selfone en internet volg. Ons bid die Here se troos toe aan sy vrou Anneli, drie dogters en nege kleinkinders. Met die afsterwe van prof Jan du Rand op 9 Maart 2021 in die Kloofhospitaal te Pretoria, beleef die NG Kerk ’n hartseer oomblik. Prof Jan du Rand word onthou as ’n briljante Nuwe-Testamentikus, deurwinterde teoloog en ’n gewaardeerde vriend. Met sy fyn humorsin en spitsvondige seggingskrag, kon hy ’n situasie reg opsom en verwoord. Hy was iemand met akademiese integriteit, ’n ondersoekende gees met ’n uitgesproke Bybelse vertrek- en standpunt. Sy geskrifte is ’n kosbare nalatenskap en bly ’n geestelike rots waaruit lewende water vloei uit die Nuwe-Testamentiese skatkamers. Prof Jan du Rand het vroeg in sy lewe ’n akademiese liefdesverhouding met die Johannese geskrifte aangeknoop, ’n kosbare magnetiese verbintenis oor vyftig jaar wat hy tot die einde toe gekoester het. Met sy oorstap na die Hemelstad beleef prof Jan ’n onbeskryflik-heerlike tasbare geloofswerklikheid, die omhelsing van die oorwinningsteken van Openbaring, soos verwoord in die 2020-Bybelvertaling waaraan hy met vrug meegewerk het.
In ’n WhatsApp-boodskap kort voor sy dood, skryf prof Jan aan ons klasgroep: “Dankie vir die diepgang boodskappe. Wat ook vannag vir my wag, julle gebede dra my. Ja, kom ons haal asem uit die diepgang van sy groot onverdiende genade. In Hom!!! jdr”. So eindig ’n merkwaardige lewe wat getuig van genade. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM
