Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Johan Jacobs (1955-2021)

Adam Johannes Jacobs is op 9 April 1955 gebore op Calvinia in die Hantam, ’n boerseun met innerlike adel en  ordentlikheid. Sy grootouers aan vaderskant was Daniël Johannes (Danie) Jacobs en Anna Margaretha Kruger,  vroom kerkmense wat met skape boer op die plaas Kranspoort by Fraserburg.  Sy grootouers aan moederskant was Adam Johannes (Jan) Walters en Johanna Petronella White, ’n skaapboer op Dubbelevlei by Kranspoort naby  Vanwyksvlei. Hierdie twee ouerpare se liefde vir die kerk het ’n groot invloed op almal, dit word ook oorgeplant in die  harte van hulle kinders en kleinkinders.  Oupa Jan Walters is by drie geleenthede afgevaardig as ouderling na sinodesittings in Kaapstad.

Johan ontvang sy eerste skoolopleiding in 1962 aan die Laerskool  Middelpos, waar hy in 1968 die hoofseun van die skool en koshuis was. In 1969 word hy ’n leerling aan die Hoër Jongenskool in die Paarl, waar hy  einde 1973 matrikuleer. Op hoërskool was hy betrokke by die plaaslike CSV as kringleier en was ook ’n  kranige rugby- en tennisspeler. In die bekende Paarlse skool het hy blywende  vriende gemaak, twee van sy klasmaats  was Hugo Bierman en André Schmidt. Johan moes in matriek ’n keuse maak of hy Argitektuur of Teologie gaan studeer en kry keuring vir  argitektuur aan die Vrystaatse Universiteit. Intussen oortuig die Here hom om predikant te word, maar omdat hy reeds plek in Bloemfontein het, studeer hy daar BA (Admissie) en kry in 1976 graad. Hy dien op die huiskomitee van Huis HF Verwoerd aan die UOVS, waar hy die bynaam “Kaap” kry, omdat hy  ’n WP-ondersteuner bly. Die jongman se pad loop hierna na Stellenbosch waar hy sy opleiding as predikant voortsit aan die Teologiese Seminarium in die Eikestad. Dit was vir Johan ’n besondere vier jaar in sy lewe, hy  behaal einde 1980 die BTh-graad aan  die Universiteit van Stellenbosch en  in 1981 Lisensiaat in die Teologie. Hy  spesialiseer in Kerkgeskiedenis onder prof Pieter Coertzen, met die titel van  sy skripsie: “Die eenheid en pluriformiteit van die kerk”. Hierna verrig proponent AJ Jacobs ’n offisierskursus  in Gordonsbaai en is in 1982 en 1983  met sy militêre diensplig toegewys aan die Saldanha Vlootopleidingsbasis.

Johan trou op 17 Desember 1977 met Suzette Wiese, enigste dogter van Andries en Tina Wiese van Alexanderbaai. Uit ds Johan en Suzette Jacobs se huwelik is drie kinders gebore: Daneel,  Helene en André.

Tydens proponent Johan se dienstyd as kapelaan in Saldanhabaai, word hy versoek om ’n erediens op Aurora waar  te neem. Op Sondag 21 Augustus 1983  preek hy in die gemeente en ervaar na die tyd in die kerksaal dat daar  ’n besondere liefdesband tussen die Sandvelders bestaan. Hy word beroep  as leraar van die NG Gemeente Aurora,  waar hy op Saterdag 22 Januarie 1984 met handoplegging ontvang en bevestig word. Dit is ds Johan Jacobs se eerste  en enigste gemeente, waar hy presies 33 jaar lank die gemeente bedien, want op Sondag 22 Januarie 2017 lewer hy sy afskeidspreek met die aanvaarding van sy emeritaat.

In 2006 vier Aurora hulle eeufees en by die geleentheid verskyn ’n gedenkboek wat deur dr Gerdrie van der Merwe  geskryf is: Ligglans oorspoel Aurora:  NG Gemeente Aurora, 1906-2006. Hy skryf sedert 1979 gedenkboeke en dr  Gerdrie beskou dit as een van die bes georganiseerde feesvierings wat hy ooit bygewoon het. In 2006 was daar net  253 lidmate en die hele oplaag van 400  feesboeke is die naweek uitverkoop, die enigste van die 63 gemeentes, wie se boeke dr Gerdrie  geskryf het, waar dit gebeur het.

Met ds Johan se bevestiging het sy vader die profetiese woord uitgespreek wat die leraarspaar na 33 jaar in die gemeente kon beaam: “Julle moet hierdie Sandveldmense liefhê en waardeer,  julle sal nie weer sulke mense teëkom  nie. Dit is opregte en nederige mense,  by hulle sal julle net gelukkig wees.” In  2006 skryf ds Johan: “Hoe waar was sy  woorde nie. Die Here was vir ons baie goed om vir ons Aurora se gemeente te gee. Aurora is vir ons veel meer as net  ’n werkkring. Aurora se mense het ons familie geword en Aurora ons tuiste.”

Ds Johan Jacobs lewer op 22 Januarie 2017 sy afskeidspreek en dit is vir hulle swaar om weg te gaan, “want die Here het Aurora die groot liefde in ons  lewe gemaak en dit sal altyd so bly”.  Hy skryf in die nuusbrief van die  Kaapse Kerk: “Die vreugdevolle en vervulde bediening wat ons in hierdie 33 jaar beleef het, is nie in woorde te beskryf nie. Die hoogtepunte in ons bediening het nie vir ons gelê in monumentale dinge wat tot stand gebring is nie, maar die wonderlike verhouding  wat ons met ons ‘Sandveldmense’ kon hê. Die wedersydse vertroue, omgee, saamstaan en saamwees in lief en leed.  Ons was voortdurend omring deur ’n  waarderende, begrypende en liefdevolle kerkraad en gemeente.” Hulle vestig hulle in die kusdorp Lambertsbaai, waar hulle 40 jaar gelede op wittebrood was. Dit is hulle  hartsverlange om betrokke te bly as lidmate van Lambertsbaai in hulle  wyk en by die plaaslike tehuis vir bejaardes. “Ons gaan ook tyd maak vir kampering, hengel, tuinmaak, lees, die natuur geniet en by ons kinders gaan  kuier.” Die aftrede was baie geseënd  en hulle het diep spore in die harte van Lambertsbaai se mense getrap. Maar  helaas is dit in ’n oomblik verbreek,  toe ds Johan onverwags op  Sondag 17 Oktober 2021 skielik aan  ’n hartaanval sterf. ’n Gedenkdiens word op 20 Oktober 2021 in die NG  Gemeente Lambertsbaai gehou, waar sy vrou Suzette en die kinders saam met die gemeenskappe van Aurora  en Lambertsbaai afskeid neem van ’n besondere man van God. – Dr Gerdrie  van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top