Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Johan Lombaard (1927-2017)

Johannes Eysele Lombaard is op 11  Augustus 1927 gebore op Kuruman. Johan was die vierde van ses kinders  en hulle woon ongeveer vyfhonderd  meter vanaf die Oog op Kuruman  in ’n kliphuis langs die voor op pad na Seodin. Sy vader was Christiaan  Mauritz Lombaard, ’n bankklerk by  Barclays Bank en sy moeder Anna  Elizabeth Eysele. Johan se oupa was  oom Johnie of Jorgie Eysele, bekende  katkisasiemeester van die NG Kerk op  Kuruman en ook ’n kenner en tolk van  die Koranataal.

Johan ontvang sy eerste skoolopleiding op Kuruman en die gesin verhuis in 1934 na Kimberley waar  al ses kinders aan die Hoërskool Diamantveld matrikuleer. Johan was fisies  klein en het die bynaam “Donsie” op  laerskool gekry. Nadat Johan in 1944  matrikuleer vertrek hy na Stellenbosch  waar hy in die regte studeer en die BA graad aan die einde van 1948 verwerf.  Maar hy voel geroepe om predikant te  word en word in 1949 student aan die  Teologiese Seminarium in die Eikestad.  Sy seun Dupré Lombaard skryf: “Dit  was ’n interessante omskakeling, wat  gegrond is op ’n toewyding wat sy  moeder gemaak het toe hy as jong kind  op die ouderdom van drie of vier breinvliesontsteking opgedoen het en baie  ernstig siek was. Sy het hom toegewy  aan die Here en by sy herstel het sy dit  haar missie gemaak om hom in die teologie te laat studeer.” Net soos sy oupa,  Jorgie Eysele van Kuruman, het Johan  die Here met oorgawe gedien en wou  hy graag sendingveld toe gaan. Na vier  besondere jare in die profeteskool op  Stellenbosch word Johan aan die einde  van 1952 as proponent gelegitimeer.  Hy word beroep na die NG Gemeente  Bothaville, waar hy die naweek van  16 Mei 1953 met handoplegging ontvang en bevestig word as medeleraar van ds Irénée Heyns. Dit was ’n groot  feesnaweek, want die herstelde kerkgebou is ook by die geleentheid amptelik ingewy. Die twee kollegas het goed  saamgewerk en in hulle dienstyd word  ’n nuwe gemeentesentrum gebou.

Intussen ontvang ds Johan Lombard  ’n studiebeurs van die Wêreldraad van  Kerke om in die VSA aan die Princeton Universiteit te gaan studeer. Hy  vertrek in Augustus 1957 en word op  1 Augustus 1958 in Bothaville terug verwelkom. Op 10 November 1959  word ds JE Lombard medeleraar van  die NG Gemeente Arcadia in die hart  van Pretoria, ’n ware leerskool in die Jakarandastad. ’n Roepstem na die Vrystaatse hoofstad kom toe hy op 23 Julie 1966 bevestig word as leraar van die NG Gemeente Bloemfontein-Wes,  terwyl ds AA van Wyk van Arcadia die  bevestigingsrede lewer. Die bekende ds DJ Louw is sy kollega en later kom  ds LJ Theron as polisiekapelaan by as  kollega. Die driemanskap werk uitstekend saam en dit gaan goed in die NG  Gemeente Bloemfontein-Wes. Dupré  Lombaard skryf: “Ek herinner my aan  ’n geleentheid in Bloemfontein-Wes  waar my pa ’n stuk of 16 kinders moes  doop. Hy het foutloos elke ouerpaar by  die naam opgeroep na die kansel en  elke kind se volledige name uitgeroep  by die doopbak, sonder om een keer  op enige stukkie papier te kyk. Dit was  merkwaardig, maar dit was Johan.”

In die winter van 1975 aanvaar ds  Johan Lombard ’n beroep na die NG  Gemeente Wesselsbron-Noord, waar hy  vyf jaar lank met groot seën werksaam  is. Op 7 September 1980 keer hy terug  na die Vrystaatse hoofstad toe hy bevestig word as medeleraar van die NG  Gemeente Universitas in Bloemfontein.  Hier werk hy hartlik saam met verskeie  kollegas, onder meer die nimlike kerklike reus dr EPJ Kleynhans met wie hy ’n hartlike broederlike verhouding  het. Hier werk ds Johan Lombard en  beleef intense werksbevrediging en trap ook diep spore in die Vrystaatse  Sinode. In die tyd word ds Johan ook  die “ere-dominee en kapelaan” vir  Vrystaat Rugby, waar hy al die jare  as geestelike vader van rugbyspelers  optree. Hy aanvaar in 1993 sy emeritaat  op 65-jarige leeftyd as leraar van die  NG Kerk, maar tree weer in diens toe hy hom bekwaam as eiendomsagent en  tree in diens van PCL Ontwikkelaars,  wat bekendheid verwerf as ontwikkelaar van aftree-oorde in Bloemfontein.  Hulle gaan woon na sy aftrede in die  NG Kerk se Barend Wessels-Sentrum  in Langenhovenpark te Bloemfontein.

Ds Johan Lombard trou op 4 Desember 1954 op Ficksburg met Estelle Cecile du Preez, oudste dogter  van Philip Charles du Preez en Alida von Maltitz van die plaas The Willows,  aan die voet van Wonderkop. Uit die  huwelik is twee seuns gebore: Pierre en  Dupré. Hy het die voorreg om albei sy  twee seuns in die huwelik te bevestig, al  vier sy kleinkinders te doop en ook sy  oudste agterkleinkind. Ses weke nadat  maagkanker by ds Johan Lombaard gediagnoseer is, sterf hy op 5 Mei 2017 in  die Bloemfonteinse Medi-Clinic. Kort  daarna sterf sy vrou Estelle Lombaard  op 5 Julie 2017 skielik aan hartversaking in hulle woonplek.

Ds Gert Olivier, wat tien jaar lank  PSD was in jeugwerk in die Vrystaatse  Kerk, onthou ds Johan as ’n geestelike  reus wat mense met die evangelie kon  bereik en deur opregte belangstelling  en deernis mense blywend kon aanraak.  “Hy was my en ander studente se mentor in die Arcadia-gemeente, later in  Bainsvlei en toe ek in die Jeugkantoor te Bloemfontein diens gedoen het.”

Ds Johan Lombard het intens belanggestel in elke lidmaat en in elke  mens wat sy pad gekruis het. Dit was  ’n belewenis om hom tussen mense  te sien beweeg. Hy het almal wat hy  geken het altyd hartlik gegroet, eers  met hulle gesels en hulle op die naam  genoem en dan nog uitgevra oor hulle  gesinne en families, ook by die naam.  Dit het gegeld vir oud en jonk en selfs  jongmense vir wie hy jare gelede as  katkisante voorgestel het. Hy was  werklik lief vir jongmense, dit bevestig sy deurleefde betrokkenheid by  studente van die Teologiese Fakulteit  en verpleegsters en jong dokters aan  die Universitas Hospitaal. Hy het geglo in sistematiese huisbesoek in elke  gemeente wat hy bedien het, ook die groot gemeente Universitas. Net die  ewigheid sal eendag openbaar watter invloed hy op hierdie jongmense  uitgeoefen het. – Dr Gerdrie van der  Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top