Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Johann Spies (1951-2020)

Johannes Hendrik Spies is gebore op  16 Mei 1951 te Cradock. Johann is  vernoem na sy oupa aan vaderskant.  Oom Jannie Spies was ook bekend  as “Jan Predikant”, omdat hy dienste  waargeneem het in die NG Kerk Schoe

manshoek wanneer die predikant met  verlof was. Oupa Jan en ouma Lucia  het 53 jaar lank op Lentelus geboer,  in die prentjiemooi Schoemanshoek  in die distrik Oudtshoorn. Hy was net  tot standerd 4 op skool, maar was diep  gelowig met innerlike wysheid en ’n  seggingskrag wat menige predikant  bewonder het. Hier leer Gerdrie van der  Merwe hulle goed ken en maak oom Jan  ’n groot indruk op hom as jong seuntjie.  Sy oupa was Piet (Hoek) Botha wat op  Boplaas in Schoemanshoek geboer het.  Johann se grootouers aan moederskant  was Piet en Maxie Venter, ’n polisieman  op Cradock.

Johan se ouers was Chris en Anna Spies, twee geliefde mense wat oral  respek verdien het met hulle ordent like boere-adel. Ma Anna kon nie  swanger raak nie en het vyf jaar lank  gebid, daarom was Johan se koms vir haar ’n ware Samuel-ervaring en is hy  aan die Here se diens toegewy. Chris begin as landbou-onderwyser aan die  Landbouskool Marlow naby Cradock.  Later hou hy skool aan die Hoërskool Swartland op Malmesbury en word later  skoolhoof aan die Laerskool Lindeshof naby Riviersonderend. In 1966 word hy skoolhoof van die Laerskool Oudtshoorn-Noord, waar hy byna twee dekades kinders se lewe aanraak tot met  sy aftrede in 1985. Johann het sy liefde vir klassieke musiek, veral koorsang,  van hulle geërf en het sy lewe lank  koor gesing.

Hy begin skoolgaan op Marlow by Cradock en is ook skolier op Riviersonderend en aan die Hoër Seunskool  op Oudtshoorn waar hy in 1968 matrikuleer. Johann was ’n kranige rugby- en tennisspeler en het uitgeblink in  wetenskap. Hy was sy hele lewe lank lief vir fotografie en die buitelewe.  In matriek voel Johann geroepe om  predikant te word, doen sy militêre opleiding en word ’n bewaarder by  die Gevangenisdiens waar hy deeltyds  begin studeer. Terwyl hy by die Victor  Verster-gevangenis gewerk het, het hy  vir die eerstespan tougetrek en tennis  gespeel.

Johann behaal BA Admissie in 1972 en behaal ook ’n jaar later ’n Honneursgraad in Filosofie in 1973. In die  tyd het hy ’n vaste verhouding met  Mathilda Naude, ’n mooi mens met  ’n sprankende persoonlikheid wat sy  lewe ophelder. Johann word gekies as  lid van die Jeug-tot-Jeug-Aksiespan,  met ds Mike Smuts (snr) en ds Malan  Nel as leiersfigure, wat in 1974 die  land deurkruis en herlewing in die NG  Kerk bring. Johann ontmoet die liefde  van sy lewe, ’n mede-spanlid Hester Troskie van Kroonstad, met wie hy 45  jaar lank getroud was. Uit die huwelik is vier kinders gebore, ’n tweeling  Anena en Ronel en later Hester (jnr)  en Chris Spies.

Prop Johann Spies word op 20 Januarie 1979 met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Ysterplaat-Suid, waar hy in die gemeente wat  op Tafelberg uitkyk, sy eerste ervaring  van die amptelike bediening beleef.

’n Roepstem kom na die tuinprovinsie Natal, waar hy op 27 November 1982 die herderstaf opneem in die  NG Gemeente Pietermaritzburg-Suid.  In dié tyd is ds Johann aktuarius van die Sinode van Natal. Hester was in  dié tyd onderwyseres aan die Hoërskool Voortrekker. Na twaalf jaar in  die gemeente, bied hy in 1994 aan  om homself beroepbaar te stel, want  weens demografiese verskuiwings in Pietermaritzburg was die gemeente

finansieel onder druk. Hy werk as aflosleraar in die gemeente Franschhoek. Ds  Johan studeer ook verder en behaal in  1996 die DTh-graad in Kerkreg aan  die Universiteit Stellenbosch. Sy tesis het gehandel oor “Kerklidmaatskap: ’n kerkregtelike studie”.

Terwyl hy tevergeefs gewag het op  ’n beroep, vestig die gesin hulle in Brackenfell, waar dr Johann sy belangstelling in die skryf van sagteware vir  rekenaars uitleef toe hy in inligtingstegnologie kontrakwerk doen vir die Universiteit Stellenbosch. Hy was  ’n baanbreker in die rekenaarbedryf,  want sedert die eerste rekenaars in die vroeë sewentigerjare, het hy begin om sagtewareprogramme te skryf. Intussen bly hy intens betrokke by kerksake en  help ook in die gemeentes Ysterplaat,  Parow-Wes en in die gemeente Brackenfell. In die gemeente Brackenfell is  hy betrokke by kategetiese onderrig en preek by geleentheid. Sy laaste preek  twee weke voor sy dood word uitgesaai en is beskikbaar op die gemeente se webwerf. Hy is ’n ouer broer en  mentor vir die leraarspan, ds Johann  Mocke, ds Michelle Boonzaaier en ds  Lou-Maré Denton.

Dr Johann word in Februarie 2020 met pankreaskanker gediagnoseer en sy  besondere lewe eindig op 3 Julie 2020  toe die engele hom na die Vaderhuis dra.  Deurentyd het hy mense geïnspireer  met die manier waarop hy openlik  oor sy siekte en sy belewenis van die  naderende dood gepraat het. Weens die  Covid-regulasies is sy begrafnisdiens  op 19 Julie 2020 vanuit die NG Kerk  Brakenfell intiem en kosbaar, wat deur  baie op die internet gedeel word.

Verskeie huldeblyke word gelewer,  maar ons volstaan met prof Malan Nel se woord uit die hart: “Dit is my  voorreg om Johann vir 46 jaar lank  te ken. Tydens die Jeug-tot-Jeugaksie  in 1974, het hy ons almal se respek  afgedwing. Spies, soos baie van sy  maats in die groep hom genoem het,  het met sy eerlikheid en integriteit dit  maklik gemaak om hom te respekteer.  Daar was opvallende ‘consistency’ in  die integriteit waarmee hy teenwoordig  was. Dwarsdeur en tydens ons baie  reünies waar ons kon terugdink, was  dit dié Johann wat ons gemeenskap van  die gelowiges met sy persoonlikheid  en teenwoordigheid en diensvaardige  presiesheid verryk het. Voeg hierby die  gawes van hoof en hart wat hy ontvang  het en waarmee Hy sy God en Verlosser  – en God se wêreld – gedien het.” – Dr  Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top