Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Johannes Kelber (1940-2021)

Johannes Marthinus Kelber is op 4 Januarie 1940 in Florida gebore, ’n woongebied destyds ongeveer 10 myl  wes van die Goudstad Johannesburg.  Johannes se grootouers aan vaderskant  was Johannes Marthinus Kelber en Barbara Magdalena de Jager, wat ’n bekende winkel bedryf het op Vrede. Aan  moederskant was sy grootouers Jacob  Letterstedt (Japie) Hamman en Anna  Elizabeth Retief, ’n onderwyseres. Japie het ’n algemene handelaar bedryf  en was ook klerk van werke, militaris  en politikus op Lichtenburg. Later woon hulle op Belfast, Carolina, Lagersdrift  en Middelburg in die ou Transvaal.

Johannes se vader was ds Johan Frederik (Frikkie) Kelber (1910-1990)  en sy moeder Esperance Eduardina Bester Hamman (1900-1991). Sy moeder, Esperance, ’n onderwyseres, was voor haar huwelik ’n reisende sekretaresse van die CSV in Transvaal.  Ds Fanie Schoonees skryf: “Op haar  reise het Esperance vir Frikkie Kelber in Vrede ontmoet, wat in die bank  gewerk het voor sy studietyd. Daar het  ’n geestelike verhouding ontstaan en  hulle het vir geruime tyd met mekaar gekorrespondeer. Die Here het egter vir Frikkie gesê dat hy met haar moet trou, en Hy sal vir hulle, te midde van haar ouderdom, ’n seun gee, en hy sal ’n predikant word. Die huwelik moes toe vir nog vier jaar wag totdat hy klaar studeer.”

Frikkie word aan die einde van 1939 as proponent gelegitimeer. Hy  is hulpleraar in die NG Gemeentes De Aar en Langlaagte in Johannesburg en  bedien daarna die gemeentes Florida, Randfontein, Barkly-Wes, Theunissen Wes en Bothasrus op Despatch. Ds Frikkie en Esperance Kelber was toegewyde Christene met ’n sterk belangstelling  in die sending. In die gemeentes wat hulle bedien het, tree wêreldbekende sendelinge soos dr Oswald Smith, Corrie ten Boom, Jimmy Ferguson, Neil en Peggy Verwey, Johanna Eglitski,  Haydn Melsop en ook die Christies van Ghana op. Tydens hulle besoek het hulle gewoonlik in die pastorie by  die Kelbers tuisgegaan, wat ’n sterk invloed uitgeoefen het op die kinders in die pastorie, Johannes en sy susters,  Elreza en Barbara.

Ds Fanie Schoonees skryf: “Johannes het so in die warm Christelike invloed van sy ouers grootgeword dat hy in sy  getuienis van sy Christenskap getuig  het dat hy nooit ’n bekering beleef het nie. Hy was kind van die Here solank as wat hy dit kon onthou. Johannes het omtrent al die bedieningsaktiwiteite saam met sy moeder meegemaak. So  was hy van kleintyd af in die geselskap met Bybelstudies, bidure en ook sendingdienste wat sy moeder in swart  woonbuurte soos Orlando gehou het.  Dit het reeds ’n sendingbelangstelling by hom gekweek.”

Johannes begin sy skoolopleiding aan die Laerskool Randfontein en die  Hoërskool Barkly-Wes, waar hy as  langafstandatleet uitblink. Reeds in sy  laerskooljare beleef Johannes die roeping om sendeling onder Afrikamense  te word. Na matriek studeer Johannes aan die Universiteit Stellenbosch, waar  hy die BA-graad verwerf en ook ’n  Honneursgraad in Afrikastudies. Hier neem hy ook sanglesse by prof George van der Spuy en orrellesse by prof Chris Swanepoel.

In 1962 word hy student aan die  Kweekskool op Stellenbosch waar hy die BTh-graad ontvang en aan verskeie studente-sendinguitreike deelneem.  Onder leiding van die studenteleraar ds  Ockie Raubenheimer, vertrek hy en 14  ander studente met drie voertuie op ’n sendingtoer deur Afrika tot in Etiopië en Eritrea. Dit het ’n baie sterk inbou in sy sendingvisie en sy liefde en passie vir die mense van Afrika is verder versterk. Johannes se lewenslange boesemvriend, die Stellenbosse teoloog dr  Ben du Toit, het altyd gesê: “Johannes het net een fout, en dit is dat hy te min  sonde gedoen het!”

Johannes trou op 12 Desember 1964 op Stellenbosch met Charlotte  Burger, ’n musiekmens en ’n liefdevolle Geesvervulde lewensmaat wat die sendingroeping saam beleef en dit prakties uitgeleef het. Uit die huwelik  is vier kinders gebore: Johan Kelber is musikant, pianis, musiekregisseur en musiekdirekteur van die NG Gemeente Moreletapark; Jeanne Hill, wat  in Nieu-Seeland woon; Willem Kelber, wat vir Campus Crusade werk en die  organiseerder is van die Jesusfilmprojek in Suid-Afrika; en Esperance de Beer, ’n musiekonderwyseres van Krugersdorp.

Prop JM Kelber word in 1966 sendeling op Mafeking, waar hy  saam met ds TD Booker en ds OCO  Erasmus baanbrekerswerk doen. Hy word deur sy vader ds Frikkie Kelber in die NG Gemeente Theunissen-Wes  georden met handoplegging vir diens in die sendingkring te Mafeking. Op 16 Januarie 1971 word hy leraar van  die NGKA-gemeente Tlhabane in  Rustenburg en bedien ook later die VGK-gemeente, Bleskop by die myn  in Rustenburg. Hy bemeester Tswana en het die taal en idioom so goed geken dat hy in Tswana kon dink en droom. Op hierdie manier het hy besondere bande  met ’n wye vriendekring in die swart gemeenskap van Rustenburg opgebou.

Met sy vriendelike geaardheid is sy  lewe en bediening gekenmerk deur  liefde wat hy uitgestraal het en dit het  aansteeklik in die gemeente en gemeenskap gewerk. Hy was ’n man van vrede en het hom altyd daarvoor beywer om  mense in vrede met mekaar te laat lewe.

Ds Johannes Kelber aanvaar vroeg in 2006 sy emeritaat en die egpaar bly woon in Rustenburg, waar hulle rustig  as afgetredenes woon. Hy word mettertyd so deur demensie verswak dat die egpaar in 2020 na die Serenepark Aftreeoord in Menlyn in Pretoria trek. Hier sterf hy op 8 Februarie 2021 en huldigingsdienste word in sy ou  gemeente en in die NG Gemeente  Moreletapark gehou. Die diens is ook virtueel uitgesaai vir ’n wye familie en vriendekring, ook in die buiteland.

Johannes se swaer, ds Fanie Schoonees van Bloemfontein, het die Woord bedien. Talle ander leraars, vriende en  familielede waaronder sy twee susters, dr Elreza Mulder en Barbara Schoonees, sy swaer, generaal Shai Mulder,  en sy ander swaer, ds Lendus de Villiers  het bydraes gelewer, asook leraars van die VGK in Rustenburg. Sy kinders  en kleinkinders en sy twee susters het ook in groepe sangitems gelewer.  Die teksvers op sy begrafnisbrief was tekenend van sy lewensuitkyk: “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het  die wenstreep bereik; ek het gelowig enduit volhard.” – Dr Gerdrie van der  Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top