Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Leon van Heerden (1952-2021)

Leon Johan van Heerden is op 10 Junie  2019 gebore te Redan in die Vaaldriehoek. Sy vader was John Hendrik van  Heerden, ’n roosteropsteller werksaam  by die Suid-Afrikaanse Spoorweë en sy  moeder is Johanna Magdalena Horak,  ’n kredietkontroleur. Leon begin in  1958 aan die Laerskool Maria van  Riebeeck in Primrose in Germiston en  is van 1965 tot 1969 leerling aan die  Hoërskool Goudrif in Primrose waar  hy in 1969 matrikuleer. In sy skooljare  blink Leon uit in atletiek en rugby en  dien ook op die leerlingraad. Hy begin  na matriek studeer aan die Universiteit van Suid-Afrika waar hy die BA-graad,  ’n Honneursgraad in Bybelkunde en die  BTh in Teologie verwerf.

Leon trou op 25 November 1974 met  Chrissie Lourens, ’n lewensmaat  wat 46 jaar lank sy lief en leed gedeel  het. Uit die huwelik is twee seuns  gebore, Waldo en Lourens.

Leon se ouers het aan die Baptistekerk behoort en hy voel geroepe om  ’n bedienaar van die Woord te word.  Hy studeer van 1970 tot 1974 aan die  Teologiese Seminarium van die Baptiste waar hy ’n Diploma in Teologie  verwerf. Hierna is hy van 1975 tot 1978  pastoor in ’n charismatiese kerk, maar  verlaat die kerkgenootskap in 1978 toe  hy lidmaat word van die NG Kerk.  Leon besluit om predikant van die NG  Kerk te word en bemeester Grieks II en  Hebreeus II waarna hy deur ’n toelatingskommissie van die NG Kerk ondervra  word oor sy lewe en leer.

Leon slaag dit met gemak en kry toegang tot Tukkies se Teologiese Fakulteit  Teologie (Afd B) waar hy uitstekend  inskakel by die NG Kerk se studente  en die BD-graad verwerf. Later verwerf  hy ook die MTh-graad in Teologie. Hy  het ’n briljante brein en behaal al sy  kwalifikasies cum laude. Prop LJ van  Heerden word aan die einde van 1983  as proponent van die NG Kerk gelegitimeer en ontvang ’n beroep na die NG  Gemeente Rietfontein-Suid, waar hy op  27 Januarie 1984 met handoplegging  ontvang en bevestig word, sy eerste en  enigste gemeente wat hy meer as 33 jaar  met oorgawe bedien. Hy was so geheg  en verknog aan die gemeente dat hy na  sy emeritaat aanvaar en bevestig word  in ’n termynpos waarna hy finaal op 23  Junie 2019 aftree.

Met die halfeeufees van Rietfontein Suid verwoord sy groeteboodskap iets  van hierdie verbintenis: “Rietfontein Suid is reisigers op pad saam met God.  Met elke tree op ons pad kan ons getuig  van God se liefdevolle en getroue bystand. Leraars en lidmate het gekom en gaan, maar die Here se liefde was konstant en sonder ophou met ons.  Krisisse en probleme het op ons pad  gekom, maar sy liefde het ons elke keer  deurgedra! Heerlike nuwe uitdagings  het ons in gehoorsaamheid aan sy stem  aanvaar en sy liefde het ons nooit in die  steek gelaat nie. Saam met God op ons  pad vorentoe sien ons opgewonde uit  hoe Hy ons as gemeente gaan gebruik om ’n verskil in hierdie omgewing te  maak en hoe Hy ons gaan help om ons  roeping te realiseer soos vervat in ons visie: Om dié gemeente te wees waar  lidmate, gedring deur die liefde van  Christus, vir mekaar en ander omgee.”

Ds Leon van Heerden het met oorgawe uitgereik na mense in nood en die minderbevoorregtes in die samelewing.  In 2004 word die “Brood vir Noot”  projek in die Moot van Pretoria gestig  wat mense se hart en lewe aangeraak  het. Met behulp van ander denominasies in die Moot word die “Moot Care Sentrum” tot stand gebring, waar hy die groot dryfkrag was om dit te laat slaag.

Hy het nie net gepraat nie, maar  gedoen. Hy het met oorgawe gebroke  mense gehelp met gratis berading by  “Moot Care”. Onder sy leiding is borge  bekom sodat mense goeie opleiding kon  kry en kursusse in lewensvaardighede  is aangebied. Hy het ook “Jakob se  Put” gestig, ’n ondersteuningsgroep vir  werksoekers by Moot Care. Ds Leon  het altyd gepraat van mense “tussen  werke”, nie werkloses nie. Hy het ook  ’n huishulpprojek begin om huishulpe  te help om werk te kry. Sy klereprojek  het aan baie minderbevoorregtes gratis klere voorsien.

Ds Leon van Heerden sterf op 28  Januarie 2021 en ’n herinneringsdiens  vind in die NG Gemeente Rietfontein Suid plaas, sy enigste gemeente en  werksakker in die Jakarandastad. In  ’n huldeblyk skryf sy kinders: “Leon  het naby die Vader geleef – hy was  inderdaad ’n man van God. Sy wysheid  het hy uit die Woord geput. ’n Mens  sou hom telkemale in sy vrye tyd vind  waar hy die Woord van God of ander  Christelike bronne bestudeer. Sy diep  liefde vir God het oorgevloei na mense, sy gesin, familie, gemeente en almal  wat sy lewenspad gekruis het. Al is  ons hartseer, beleef ons sy afsterwe as  ’n oorwinning. Hy het triomfantlik sy  wedloop voltooi en in Jesus se arms  ingehardloop. Nou leef hy regtig by  die Vader.”

Elna du Plessis, skriba van die gemeente Rietfontein-Suid skryf: “Ds  Leon van Heerden se afsterwe laat ’n groot leemte in baie mense se lewe vir  wie hy lief was en omgegee het, ook  almal wat vir ds Leon lief was. Ons  as personeel mis sy inloer en gesels,  altyd vriendelik, sy bedagsaamheid,  sy belangstelling in ander se lief en  leed en natuurlik sy bemoediging. Ons  dank die Here as ons aan Hom dink  (Filippense 1:3)”. – Dr Gerdrie van  der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top