Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Mauritz Kloppers (1931-2021)

Mauritz Hermann Otto Kloppers is op 22 Oktober 1931 gebore in Krugersdorp. Sy ouers het op Remhoogte, net  wes van die Hartebeespoortdam gewoon. Sy vader was Mauritz Hermann Otto Kloppers en sy moeder Margaretha  Malan Krige, albei onderwysers van beroep. Haar vader is die bekende ds JJ  Krige, in lewe predikant op Aberdeen.  Mauritz se vader word later skoolhoof van Hoërskool Riebeeck op Randfontein tot met sy aftrede, iemand met  inbors en aangebore geduld om offers te bring in belang van kinders. Mauritz begin sy skoolopleiding in 1938 aan die Laerskool Rodora en in 1944 is hy leerling van die Laerskool  Randfontein. Hy is van 1945 leerling aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp, waar hy in 1948 matrikuleer.  Hy blink uit in musiek en behaal “Higher Local by Trinity College, London”.  Later jare sou hy mense verstom met musiek wat hy met ’n gewone saag kon maak. Die jong Mauritz voel geroepe om predikant te word en vertrek in 1949 na die Universiteit Stellenbosch waar hy die BA-graad in1951 verwerf. Hierna is hy student aan die Teologiese Seminarium in die Eikestad, waar hy in 1954 die kandidaatseksamen aflê  en in 1955 na Holland vertrek om aan die Vrije Universiteit in Amsterdam te studeer in Ou Testament onder leiding  van professore NH Ridderbos, WH Gispen en GC Berkouwer. Nadat hy aan die begin van 1957 sy doktorale  eksamen suksesvol afgehandel het, keer hy terug na Suid-Afrika en help die res van die jaar as hulpprediker in die NG Gemeente Fraserburg in die Groot Karoo. Intussen trou hy op 16  April 1955 met Maria Johanna Joubert, ’n lewensmaat wat hom diep gelukkig maak en uit die huwelik is sewe kinders  gebore. Twee van die kinders sterf op ’n jong ouderdom.

Op 8 Februarie 1958 word prop  MHO Kloppers met handoplegging bevestig in die NG Gemeente Alkmaar in die Oos-Transvaalse plattelandse gemeenskap naby Nelspruit. Hy doen  baanbrekerswerk as eerste leraar en met die inwyding van die kerksaal in 1959 publiseer hy ’n feesgeskrif waarin die geskiedenis van die gemeente opgeteken word. Op 6 Mei 1961 word hy bevestig in die NG Gemeente Belfast op die Transvaalse Hoëveld,  waar hy ’n gedugte span vorm saam met die nimlike ds Madder Steyn. In  sy dienstyd word die 50ste bestaanjaar van die kerkgebou op Belfast feestelik herdenk, waar ds Mauritz Kloppers ’n sierlike gedenkboek opstel tydens die geleentheid. Die historiese sin vir die  verlede het sy lewe lank ’n vername rol gespeel in hierdie hoogleraar se lewe en hy kon as Ou-Testamentikus die geloofslyne fyn trek en wys op die genadige voorsiening van die sorgsame Vader op voetsoolvlak.

Hy word op 27 November 1965 leraar van die NG Gemeente Herman Steyn in Vereeniging, waar hy in die snelgroeiende Vaaldriehoek met oorgawe die Here se Woord bring en mense aanraak. Op 5 Julie 1969 word ds MHO Kloppers leraar van die NG Gemeente Noordkus op Stanger aan die Natalse warm seekus. Tydens sy dienstyd in Natal is hy lid van die streekraad van die Bybelgenootskap en voorsitter van  die Sinodale Eredienskommissie.

Na sy terugkeer uit Nederland in 1957 het ds Mauritz Kloppers begin met sy doktorale proefskrif onder leiding van  prof PA Verhoef van Stellenbosch. Dit het egter agterweë gebly weens ’n bedrywige gemeentebediening en  gesondheidsprobleme. Die Here se plan met ds Mauritz is uniek en sy pad  loop na die akademiese wêreld toe hy op 27 Augustus 1973 bevestig word as senior lektor in Ou Testament aan die Universiteit van Zoeloeland, waar hy Bybelkunde en Hebreeus doseer. In hierdie tyd werk hy volstoom aan sy doktorale tesis wat hy voltooi en  die DTh-graad word in 1979 aan hom  toegeken. Die titel van sy proefskrif is: “’n Kritiese evaluering van die moderne navorsing oor Deuteronomium”.  In 1976 word hy beroep as dosent in Bybelkunde aan die Universiteit van Pretoria, waar hy as senior lektor diens  doen. In 1979 doseer hy die hele jaar  lank Ou Testament aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan Tukkies, om prof AH van Zyl geleentheid te gee om voltyds met Bybelvertaling besig te wees. Dr Mauritz Kloppers was lief vir die gemeentebediening en hy aanvaar ’n beroep na die NG Gemeente Burgerspark in die hart van die Jakarandastad. Die mens wik maar God beskik, want  die Vrystaatse Kerk het hierdie geliefde kerkman se talente en gawes raakgesien en hy word een van die eerste ses professore wat die nuutgestigte Teologiese Fakulteit aan die UOVS in Bloemfontein moet vestig. Hy word op 17 Augustus 1980 bevestig in die NG Gemeente Universitas in Bloemfontein, waar ses geliefde kerkmanne met die nuwe profeteskool in die Vrystaa  begin. Hier word prof Mauritz Kloppers ’n geliefde en dierbare dosent wat met sy mooi sonskyn geaardheid, jong teoloë se hart en menswees aanraak. Hy  is geliefd onder almal en met opregtheid is hy nie net ’n rolmodel onder studente  nie, maar iemand wat die uitsonderlike vermoë besit om liefde vir die Ou Testament te vestig in die mondering van toekomstige predikante.

Na sy aftrede op 1 April 1996 bly hulle in Bloemfontein woon en hy is ’n tydelike dosent en fasiliteerder vir die sertifikaat in Teologie te Bloemfontein. In 1998 verhuis hulle na  Nylstroom, waar hulle ’n gelukkige aftrede beleef en hy in die direksie van  die Abraham Kriel-kinderhuis dien.  Mettertyd verhuis hulle na Witbank waar prof Kloppers as pastorale hulp diens doen en deel is van die Oostelike  Sinode. Later verhuis hy en sy vrou na ’n aftree-oord in Midstream om nader aan hulle kinders te wees. Aangesien dr Gerdrie van der Merwe se seuns albei in Midstream woon, kon hy prof Mauritz by geleentheid besoek en ereskuld betaal aan ’n geliefde professor wat lank na sy dood deur sy oudstudente onthou sal word.

Prof MHO Kloppers sterf op 23 Augustus 2021. Hy word oorleef deur sy vrou en vyf kinders en ’n troosdiens word op 28 Augustus 2021 gehou wat deur oudstudente op die elektroniese media gevolg is. So kom die aardse lewenspad van ’n geliefde professor tot ’n einde en word hy onthou as ’n  merkwaardige dienskneg in die Koning se diens. – Dr Gerdrie van der  Merwe VDM

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top