Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Mornay le Roux (1952-2021)

Mornay du Plessis le Roux is op 12 Februarie 1952 gebore op Worcester,  waar hy die eerste ses jaar van sy lewe deurbring. Sy vader was Andries  Stephanus du Plessis le Roux, hoofinspekteur van onderwys in Kaapland. Sy  moeder is Susanna Hendrina du Toit,  ’n onderwyseres van beroep. Mornay  begin in 1958 met sy skoolopleiding  aan die Laerskool Jan van Riebeeck in  Kaapstad. In 1962 word hy leerling aan  die Laerskool Voorpos in Upington en  in 1965 aan die Hoërskool Upington.  Sy ouers verhuis in 1966 na Vredendal  aan die Weskus, waar hy in 1969 matrikuleer aan die Hoërskool Vredendal. Mornay voel geroepe om predikant  te word en begin in 1970 met sy studie  aan die Universiteit Stellenbosch waar  hy die BA (Admissie)-graad in 1973  verwerf. In die tyd het hy ook deeltyds  gewerk by die Westelike Graanboere  Koöperasie op Stellenbosch. In 1974  word hy student aan die Kweekskool  op Stellenbosch, waar hy die BTh-graad  verwerf en in kerkgeskiedenis onder  leiding van prof Eddie Brown spesialiseer. Hy verwerf later die MTh-graad  in Diakonologiese bedieningspraktyk  met die verhandeling: “ʼn Meganiese en kontekstuele analise van die Ned Geref  Kerk”. Aan die einde van 1977 word hy  as proponent gelegitimeer. In sy finale jaar doen Mornay afloswerk in die NG  Gemeente Bellville. Mornay trou op 20  Desember 1975 met Helena Catharina  Groenewald van Caledon, ’n gebore  Overberger wat as sekretaresse werk  by Sanlam se hoofkantoor in Bellville.

Op 4 Februarie 1978 word prop MduP  le Roux met handoplegging in die NG  Gemeente Glen Lynden op Bedford  ontvang en bevestig. ’n Jaar later vind  die 150-jarige fees van die gemeente  plaas en Gerdrie van der Merwe van  Stellenbosch skryf die hardeband feesboek in 1979 en maak so sy debuut as jong kerkhistorikus van die NG Kerk.  In die pragtige streek vind die jong  leraarspaar hulle voete en kry sterk  ondersteuning van die klein Afrikaanse  boeregemeenskap wat met liefde ondersteun word op voetsoolvlak. In die tyd  neem die legendariese ouderling Piet  de Klerk van Deklerksdal in die distrik  sterk leiding op kerklike gebied in die  Baviaansriviervallei.

Die egpaar verlaat Bedford na vier  jaar en word op 24 Oktober 1982 leraar van die NG Gemeente Grabouw,  waar hy ’n leeftyd lank bedienaar van die Woord is en op sy kenmerkende  wyse diep spore getrap het. Hy was ’n  predikant wat op voetsoolvlak met sy  mense meegeleef het en met oorgawe oud en jonk bedien het. Met sy vertrek  in 2010 uit die gemeente is ’n besondere  hoofstuk in die gemeente afgesluit en  hy word op 16 Mei 2010 leraar van die  NG Gemeente Leonard in Namibië. Ds  Hans Visser skryf dat hy onthou word  vir die mens wat hy was en die spore  wat hy getrap het. Hier werk hy presies  sewe jaar lank tot hy en sy vrou Helene in 2017 finaal aftree en hulle vestig by  De Kelders in Gansbaai. Hulle is intens  betrokke met die bou van ’n nuwe  huis en hy hou gereeld eredienste in  die gemeentes Gansbaai, Stanford en  Riviersonderend.

Tydens sy verjaarsdag op 12 Februarie 2021, word gevorderde longkanker by hom gediagnoseer. Ds  Floris Avenant skryf: “Sy siekword  het almal wat hom geken en liefgehad  het, diep getref. Hy is professioneel en  andersyds bygestaan en het uiteindelik  ons en sy gesin by ‘Krummel en Kie’  in Beyersstraat 10, die aand van 28 April 2021 vooruit gegaan. Ons eer  sy nagedagtenis met dankbaarheid.”  Sy vriend ds Hans Steyn skryf oor sy  bediening: “Hy was ’n ware pastor  in die gemeentes wat hy bedien het.  Mense en hulle welwese was vir hom  baie belangrik. Verder het hy ’n hoë  premie op prediking, belydenisskrifte  en die kerkorde geplaas. Tuisbesoeke  was vir hom ’n passie. Dit was vir hom  belangrik om individuele lidmate in  hulle verbande te ken.”

’n Troosdiens word op 5 Mei 2021 in  die NG Gemeente Gansbaai gehou en  daar word met liefde afskeid geneem  van ds Mornay le Roux. Hy word  oorleef deur sy vrou Helene, dogter  Helena en seuns Mornay en Kobus. – Dr  Gerdrie van der Merwe VDM

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top