Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Nico Laubscher (1945-2021)

Nicolaas Everhardus Laubscher is op 1 Oktober 1945 gebore in Parow in die Kaapse Skiereiland. Nico is een van  vier kinders, drie broers en ’n suster. Hulle is geseënd om in ’n liefdevolle en diep gelowige huis groot te word. Nico word in die NG Moedergemeente Parow gedoop deur ds A van Niekerk. Sy vader is Michiel Christiaan Johannes Jacobus Laubscher, ’n boorling van Vredenburg, wat as spoorwegklerk by die Suid-Afrikaanse Spoorweë gewerk  het. Sy moeder was Martha Jacoba  Laubscher, wat in die omgewing van Woodstock opgroei en haar huisgesin met sorgsame liefde dien. Sy sterf op ’n jong ouderdom en dit is ’n hartseer oomblik vir die gesin.

Hy kom uit ’n liefdevolle gesin. Sy pa was baie betrokke in die gemeenskap,  dien deurentyd op die skoolkomitees en  is baie lank burgemeester van Parow.  Nico se ouers was intens betrokke by  die kerklike lewe in die NG Moedergemeente Parow, waar sy pa ’n leeftyd lank dien as diaken en later ouderling.  Na sy aftrede het hy tot op 79-jarige  ouderdom op die huurraad gedien.

Nico word groot in Parow en is vanaf 1952 in die Parow Voorbereidingskool en van 1955 tot 1958 in die Laerskool  Parow-Noord. Hy is leerling aan die  Hoërskool Tygerberg, waar hy in 1963 matrikuleer. Hy is aktief betrokke by  verskeie sportsoorte, is dirigent van  die skool, neem aan debatsverenigings deel en is ’n kringleier by die CSV en  dien op die bestuur. In 1964 doen hy  sy weermagopleiding op Walvisbaai.

In 1965 word hy student aan die Universiteit Stellenbosch waar hy die BSc-graad in 1967 verwerf met Chemie en Wiskunde as hoofvakke. In hierdie tyd beleef hy ’n ernstige roepstem om  predikant te word. Hy werk in 1968  en 1969 as tegniese assistent by die  Brandstofnavorsingsinstituut in Pretoria, terwyl hy buitemuurs Grieks en Hebreeus by Tukkies neem om toegang tot die Kweekskool op Stellenbosch te kry. Aan die begin van 1970 is hy terug in die Boland en word weer ’n Matie toe hy student word aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch waar hy die BTh-graad in 1972 verwerf en aan die einde van 1973 as proponent gelegitimeer word. Hy dien op die redaksie van Polumnia, speel tennis en is aktief betrokke by die werksaamhede van die ACSV op die Akker.

Nico trou op 20 Januarie 1973 met  LE van Wezel, ’n boorling van Kroonstad in die Vrystaat waar haar vader, dr RL van Wezel as internis werk. Hy word ’n lewende legende op Kroonstad en as navorser met sy eie  toegeruste laboratorium, lewer hy ’n bydrae van wêreldgehalte. Sy behaal die BA- en haar honneursgraad op  Stellenbosch en blink uit in Afrikaanse Kultuur- en Volkskunde. Sy dien ook op die redaksie van dr CF Albertijn se Ensiklopedie van die wêreld. Uit hulle huwelik is drie kinders gebore: twee dogters, Elizabeth en Marlene en die jongste ’n seun, Michiel. Met ds Nico se  dood in 2021 was daar agt kleinkinders.

Prop NE Laubscher word op 9 Februarie 1974 met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Vierfontein naby die oewer van die Vaalrivier in die Vrystaat. Hier begin hy met oorgawe mense bedien en na vier jaar word hy op 17 Junie 1978 leraar van die NG Gemeente Klerksdorp-Wes, wat later ’n naamsverandering beleef as die gemeente Klerksdorp-La Hoff. Ds Nico en Leona Laubscher bedien  die gemeente 32 jaar lank met groot vrug tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 31 Januarie 2010.

Na sy aftrede preek hy in verskeie gemeentes en raak met sy begaafde vrou Leona steeds mense aan en ds Nico is  tot die einde van sy lewe ’n waardige  afgetrede leraar van die NG Kerk. Met groot seën bedien hulle van 1 Oktober  2016 tot 31 Oktober 2017 die NG Moedergemeente Ottosdal, ’n laaste genadetoegif van die Hemelse Vader.  Ds Nico word op 5 Januarie 2021 ernstig siek aan Covid-19, met die hoogtepunt van die virus se tweede vlaag. Hy is  per ambulans na die Wilmedpark hospitaal in Klerksdorp geneem waar hy op 19 Januarie 2021 sterf, ’n dag voor sy 48ste huweliksherdenking. Hy was 75 jaar oud. ’n Herinneringsdiens vind op 22 Januarie 2021 plaas, gelei  deur ds Lombard van Niekerk, sy gemeenteleraar te Doringkruin. Dit vind plaas uit die NG Kerk, Klerksdorp-La  Hoff waar hy soveel jare lank gearbei het. Die buitediens by die lykswa is gelei deur ds Alewyn Burger, van die NG Gemeente Wilkruin, twintig jaar lank sy medeleraar in die gemeente Klerksdorp-La Hoff.

Leona Laubscher skryf oor haar man: “Hy was besonder geseënd met die gawe van Woordverkondiging, waarmee die Here hom toegerus het. Dit was sy groot passie. Huisbesoek was vir hom van kardinale belang, so ook pastorale sorg aan die lidmate in die gemeentes waar hy gewerk het. God se onuitspreeklike groot genade en seën loop soos ’n goue draad deur die jare van sy diens aan die Here. Die bediening was sy hele lewe, sy passie, sy erns, so ook sy liefde en toewyding aan God. En daarvoor kom die eer en die dank aan God alleen toe. SOLI  DEO GLORIA!” – Dr Gerdrie van der  Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top