Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Petrus Loots (1932-2021)

Petrus Albertus Loots is op 22 Maart  1932 gebore te Britstown in die Groot Karoo. Hy was die jongste van agt  kinders. Sy vader is Johannes Hendrik  Loots wat in die distrik Britstown met  skape boer. Sy moeder is Petronella  Alberta Danella Myburgh, ’n vrou wat  haar gesin in die vrese van die Here  opvoed. Petrus begin sy skoolopleiding  in 1938 op Britstown en is van 1940  tot 1944 leerling aan Laerskool Ruyterwacht in die Kaap en matrikuleer in 1949 aan die Hoërskool Goodwood Epping. Hy is ’n stil en beskeie seun wat die begeerte het om voltyds vir die Here te werk.

Petrus vertrek in 1950 na die Universiteit Stellenbosch waar die BA (Admissie)-graad in 1952 aan hom  toegeken word. Hy word student aan die  Teologiese Seminarium in die Eikestad,  waar hy aan die einde van 1956 die  Lisensiaat in Teologie verwerf en as  proponent gelegitimeer word. Die Here  beskik dat hierdie proponent se pad na die NG Gemeente Garies loop, waar hy  op 27 Julie 1957 met handopleiding  ontvang en bevestig word. Dit is ’n  besondere leerskool onder besondere  mense by die poort van Namakwaland,  waar die blomme in ’n goeie jaar welig  groei en ’n ware paradys vorm. Maar daar is ook tye van droogte en ds en mev  Petrus Loots leer ’n besondere geslag mense ken in die besondere arbeidsveld.

Hy trou op 30 Maart 1957 met  Engela Susara Bothma, ’n opgeleide  onderwyseres en boorling van die  Karoo. Uit die huwelik is vyf kinders  gebore – Anna (Louw), Petra (du Toit),  Johannes, Hennie en Ensa (Johanson).  Dr Ensa Johanson skryf. “Ons ma Sarie  was ’n regte ‘pastoriemoeder’ wat ons pa deur sy bediening bygestaan het. Sy  het ook op verskeie sinodale kommissies vir die vrouediens en kinderkrans gedien.”

Op 14 Maart 1959 word hy leraar van die NG Gemeente Gamka-Vallei  op Beaufort-Wes, ’n oase in die Groot Karoo op die grootpad van die Kaap tot in die destydse Transvaal. In 1961  word tydens sy dienstyd ’n kerksaal op  Beaufort-Wes gebou. Na vyf jaar loop sy pad na die NG Gemeente Kensington  in Port-Elizabeth, waar hy drie jaar lank  met oorgawe werk in ’n voorstedelike  gemeente met besondere mense. ’n  Roepstem kom na die NG Gemeente Middelburg (Kaap), waar hy op 10  Julie 1967 as medeleraar van ds PK Loots bevestig word. ’n Ramp het die  gemeente voor sy aankoms getref, toe  die toring van die historiese kerkgebou  op 29 Maart 1967 ineenstort nadat ongeveer 138 mm reën in twee maande  aangeteken is. Kort na sy aankoms op  Middelburg word ’n nuwe kerkgebou  opgerig en op 19 Mei 1968 word die  hoeksteen gelê, op die 116de verjaarsdag van die gemeente. Op 6 September  1969 word die nuwe kerkgebou ingewy  terwyl dr JD (Koot) Vorster die wydingsrede lewer.

Op 29 Julie 1972 word hy leraar van die NG Gemeente Parow-Sentraal,  waar hy goeie werk doen in die bekende voorstedelike gemeente in die Kaapse Skiereiland. Hier werk hy elf  jaar lank en bereik hy baie mense deur  sy Skrifgetroue prediking en herderlike sorg tydens huisbesoek. Tydens  sy ampstermyn dien hy op verskeie  sinodale kommissies van die Sinode  van Wes-Kaap. Op 11 Februarie 1983  word hy leraar van die NG Gemeente  Silverton in Pretoria, waar hy werk tot  met die aanvaarding van sy emeritaat  op 31 Maart 1994. Hy tree op 62-jarige leeftyd af omdat hy gevoel het dat hy nie meer huisbesoek na reg kan doen nie. Hy word beskryf as die “ou  soort” predikant waarmee ons almal grootgeword het. Ds Petrus Loots was  ’n nederige persoon wat die Here met  liefde en passie gedien het, ’n voorbeeld  vir almal.

Na sy aftrede in 1994 vestig ds Petrus  en Sarie Loots hulle in Glentana in die  Suid-Kaap waar hy ouderling is in die  NG Gemeente Outeniqua en deel is  van die besondere liefdesgemeenskap  in ’n mooi gemeenskap. Hulle verhuis  in 1999 na George waar hy ook ouderling is in die NG Moedergemeente  wat ’n besondere baken van hoop is  in die mooi dorp aan die voet van die Outeniquaberge. Na sy aftrede preek  hy soms en besoek gemeentes in belang van die VCHO op versoek van  die hoofkantoor in Bloemfontein. In die lente van 2016 verhuis die egpaar  na Pretoria waar Sarie Loots ’n maand  later aan kanker sterf. Hierna vestig ds Petrus hom in Pretoria-Oos-aftreeoord  waar hy tot die einde met sy lewe en liefde mense aanraak.

Op ’n rype ouderdom van 82 jaar  skryf hy ’n dagstukkieboek met die  titel Genade onbeskryflik groot, ’n  geestelike nalatenskap vir sy kinders en  kleinkinders. Sy kinders onthou ’n paar  wyshede wat hy graag herhaal het. “Jou  teleurstelling is God se bestelling. Ek is nie die Here se mees voorbeeldige kind  nie, maar Hy vertroetel my. Maak net  ’n halwe koppie koffie, dan kan jy meer  koppies per dag drink. ’n Skoon gewete  is die sagste oorkussing. ’n Mens kan alleen wees, solank jy nie eensaam is  nie. Dis ’n voorreg om oud te word,  wat nie vir almal beskore is nie.” Een  van sy kleinkinders skryf: “Oupa was  ’n man met onwrikbare geloof. En hy het altyd die regte ding op die regte  tyd gesê. Soveel wysheid, gemeng met  ’n tikkie humor. Ek het altyd gevoel,  as Oupa eers oor iets gebid het, dan  gebeur dit.”

Ds Petrus Loots sterf op 27 Julie 2021  en dit bly hartseer dat sy kinders weens  die Covid-19 hom nie kon bystaan in sy  laaste lewensuur nie. ’n Roudiens word  op 7 Augustus 2021 gehou in die NG  Gemeente Outeniqualand waarna hy  in die begraafplaas begrawe word. Hy  laat vyf kinders, 12 kleinkinders en vyf agterkleinkinders agter. – Dr Gerdrie  van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top