Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Pieter Viljoen (1955-2021)

Petrus Abel Viljoen is op 14 Junie  1955 gebore in Pretoria. Sy vader was  Frederick Jacobus (Bussie) Viljoen, ’n  sersant-majoor in die weermag in die  Jakarandastad. Sy moeder is Elsie Johanna Jacoba van Niekerk, ’n huisvrou.

Pieter begin sy skoolopleiding in 1962 aan die Laerskool Valhalla en  is ook leerling by Voortrekkerhoogte  en is van 1969 tot 1973 leerling aan  die Hoërskool Westonaria waar hy  matrikuleer. Pieter voel geroepe om predikant te word en begin in 1974 met  die BA (Admissie) aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO, waar hy  ’n besondere tyd beleef. In 1978 word  hy student aan Tukkies toe hy aan die  Fakulteit Teologie (Afd B) studeer en  ook die BD-graad verwerf. Hy skryf sy  skripsie oor: “Die waarheid en die leuen na aanleiding van die negende gebod”.  Aan die einde van 1981 word hy as  proponent gelegitimeer en hierna doen  hy as kapelaan sy militêre diensplig.  Pieter trou op 16 Desember 1976 met  Martha Magdalena (Martjie) Smith en uit die huwelik is twee seuns gebore,  Rikus en Cornel.

Op 29 Oktober 1983 word prop Pieter  Viljoen met handoplegging ontvang en  bevestig in die NG Gemeente Onderstepoort in Pretoria-Noord, waar hy  vyf jaar lank die Woord bedien en sy  eerste gemeente bedien. Sy pad loop  in 10 Junie 1988 na die NG Gemeente  Akasia waar hy twee dekades lank sy  talente en gawes in die bediening uit

stort. In 2009 kan die gemeente Akasia  nie meer finansieel bly voortbestaan nie  en word ingelyf by die NG Gemeente  Wonderboom.

Op 30 September 2012 word die band  met die gemeente losgemaak weens  finansiële redes toe hy ook vervroegde  emeritaat aanvaar. Dit is ’n moeilike  tydvak wat vir die leraarspaar voorlê,  maar hulle het in geloofsmoed nuwe  geleenthede geskep om hulle talente  en gawes uit te leef in koninkryksdiens.

In 2017 word hy vastetermynleraar  in die NG Gemeente Doornpoort, waar  hy werk tot hy op 25 Augustus 2021  op 66-jarige leeftyd aan ’n hartaanval  sterf. Op die webwerf van die gemeente Doornpoort, skryf mense uit hulle  hart oor ds Pieter se skielike vertrek na die Hemelstad: “Ons gemeente is stukkend. Ons het meer as net ons  dominee verloor. Pieter Viljoen was  ’n geliefde man, pa, oupa, vriend, kollega, mentor, leraar en onbeskaamde  volgeling van Jesus. Ek is dankbaar vir sy mentorskap en omgee. Ons sal  ds Pieter Viljoen altyd onthou vir sy  hart wat gebreek het vir ander mense  en sy groot vrygewigheid.”

René van der Walt skryf: “Jy was  iemand na wie ek opgekyk het. Met  jou nederige geaardheid, jou humorsin  en jou menswees op aarde het jy my  geleer dat ons almal wat glo kinders  van God is. Jy het musiek waardeer.  Ek onthou my konsert waar jy verlede  jaar Desember 2020 was. Jou openingsgebed was so inspirerend. Jy het elke  stem waardeer, maar die grootste is  dat jy die stemme in jou gemeente so  waardeer het. Van jou eie seuns wat so  ’n wonderlike talent tot God gebruik in  die “band”. Op 1 September 2021 word  ’n herinneringsdiens in Doornpoort gehou waar op ’n waardige wyse afskeid  geneem is van ’n geliefde leraar en  medewerker in God se koninkryk. – Dr  Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top