Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Sakkie Kellerman (1933-2020)

Izak Schalk Kellerman is op 12 Januarie 1933 gebore op Piketberg in die  Swartland. Sy vader is in die tyd ’n  plaasbestuurder in die distrik Piketberg  en Sakkie word naby die grond groot  en begin ook sy skoolopleiding aan  ’n plaasskool. Later is hy leerling op  Piketberg waar hy matrikuleer. Sakkie voel geroepe om predikant te word. Daar was nie geld om hom te  ondersteun nie, maar Sakkie se pa het met die Joodse winkelier op die dorp  gepraat en hy het ’n lening aan Sakkie toegestaan om predikant te word. Hy  studeer aan die Universiteit Stellenbosch waar hy die BA-graad verwerf,  ook ’n Honneursgraad in Aramees en  hy behou sy liefde vir die klassieke tale  tot die einde toe.

In 1956 kry hy toegang tot die Teologiese Seminarium in die Eikestad,  waar hy hom voorberei vir die bediening en aan die einde van 1959 as proponent gelegitimeer word. Dit is ook  die eeufeesjaar van die profeteskool op die walle van die Eersterivier, ’n groot oomblik in die geskiedenis van  teologiese opleiding in die NG Kerk.  Sakkie dien in sy finalejaar op die  redaksie van Polumnia, wat dié jaar die vorm aanneem van ’n eeufeesblad  van die kweekskool. Die hoofredakteur was Phil Robinson, ’n seun van Kuruman en later professor in Teologie aan  die Universiteit van Wes-Kaap, ook Flip van der Watt, later dosent aan die Kweekskool op Stellenbosch en professor in Kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Prop IS Kellerman word op 21  Mei 1960 met handoplegging in die NG Gemeente Karatara ontvang en bevestig, die begin van sy bediening in die besondere gemeente wat die intensiteit van die Knysnabos en die boswerkers beleef. In sy dienstyd word  die kerkgebou opgerig in hierdie bosdorpie naby Knysna. Op 27 Julie 1963  word ds Sakkie Kellerman leraar van  die NG Gemeente Alice, geleë in ’n skilderagtige gras- en bosryke streek. Dit is ook in die omgewing van die opleidingsentrum Lovedale en die Universiteit van Fort Hare, ook naby Peddie en Fort Beaufort. Sy eerste twee gemeentes het finansieel swaar gekry om ’n leraar te onderhou, maar net soos op Karatara het ds Sakkie op Alice uit die hand van die Here geleef  en elke dag sy beste gelewer in die Here se Wingerd.

Aan die einde van 1967 word ds IS  Kellerman leraar van die NG Gemeente Knysna, met die unieke ds Heinie Kuyler as kollega. Die mense het ds Sakkie baie goed geken omdat hy voorheen leraar was van Karatara.

Na ’n geseënde tydperk in Knysna aanvaar ds Sakkie ’n beroep na die NG Gemeente Suidrand in Suidheuwels, Johannesburg. Hy beleef die groei van die NG Kerk in die streek en daar is diepe dankbaarheid teenoor die Here vir die geestelike seën wat op sy arbeid rus.

’n Beroep kom na die NG Gemeente Birchleigh in Kemptonpark, waar hy die naweek van 22 Januarie 1977  bevestig word. In hierdie groeiende streek vermeerder die lidmate en dit is vir ds Sakkie ’n groot uitdaging omdat hy voorheen kleiner gemeentes bedien het. Die streek rondom Kemptonpark  met sy Bybelhuis en nabygeleë Jan Smuts Internasionale Lughawe, is ’n ware kerklike groeipunt wat geweldige uitdagings aan die NG Kerk bied. In  hierdie groot gemeente werk hy twintig jaar lank tot met die aanvaarding in 1997 van sy emeritaat.

Na die egpaar se aftrede gaan woon hulle in Klein-Brakrivier naby Mosselbaai en trek later na ’n aftreeoord  op Hartenbos. Met sy afsterwe laat hy sy vrou Johanna Adriana van Zyl agter, wat steeds in die Badisa-aftreeoord op  Hartenbos woon. Die egpaar was sestig  jaar lank getroud en uit die huwelik is vier dogters gebore: Ilja, Eliz, Janine  en Handri.

Ds Sakkie Kellerman sterf op 22 September 2020 in die Bayview-hospitaal  op Mosselbaai na ’n lang en geseënde  dienstyd in die Here se koninkryk. Sy dogter Ilja was by hom in sy sterwensoomblik en ’n herinneringdiens is op Hartenbos gehou op 30 September  2020 om sy lewe te vier. Die teksvers op sy begrafnisbrief het hy gekies en die waarheid daarvan het hy aan die einde  van sy lewe ervaar: “Uit sy oorvloed het  ons almal genade op genade ontvang”  (Johannes 1:16). – Dr Gerdrie van der  Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top