Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Thinus van Vuuren (1950-2021)

Marthinus Gerhardus Jansen van  Vuuren is op 8 Januarie 1950 gebore  in Pretoria. Sy ouers was Christoffel  Johannes Janse van Vuuren en Maria  Magdalena Janse van Vuuren. Thinus  matrikuleer in 1967 aan die Hoërskool  Jan Mohr in Windhoek en werk later  as administratiewe klerk by die Vrystaatse Departement van Onderwys in  Bloemfontein. Hy begin ’n loopbaan as  soldaat in 1970 by die SAW en studeer  aan die Universiteit Stellenbosch van  1972 tot 1974 by die Militêre Akademie  in Saldanhabaai waar hy die BMil-graad  verwerf.

Thinus trou op 17 Januarie 1976 met  Marina van Vuuren, ’n lewensmaat wat  hom in sy weermagdae, studietyd en ge meentebediening in die NG Gemeentes  Ventersburg en Ruyterwacht bystaan. Uit die huwelik is vier kinders gebore:  Arno, Janine, Mariette en Jaco.

Michael Beukes, jeugwerker en  prediker by Goodwoodpark, skryf oor  ds Thinus: “Voor hy begin swot het vir  predikant, het hy altyd self gesê: Ek  was ’n gewone voetsoldaat in die SA  Weermag. God het my geroep tot die  bediening toe ek ’n voltydse soldaat  was en ek is die geleentheid gegun om  getrou aan God se roepstem te swot  terwyl ek ’n soldaat was.” In 1987  word hy weer student toe hy aan die  Universiteit van Pretoria studeer en  na sy voorstudie toegang kry tot die  Fakulteit Teologie (Afd B) aan Tukkies  waar hy die BDiv-graad verwerf en aan die einde van 1993 as proponent van die NG Kerk gelegitimeer word. Prop MG Jansen van Vuuren ontvang ’n beroep na die NG Gemeente Ventersdorp in die Wes-Transvaal, waar hy in die lente van 1994 met handoplegging  ontvang en bevestig word. Hy is nie ’n  jong student wat afgestudeer het en vir  die gemeentebediening gereed is nie,  maar ’n hardebaard proponent met die  regte agtergrond en ervaring vir die  gemeente in die dorp Ventersdorp. Die  dorp is oor die land heen bekend vanweë die regse politieke sentiment en ook  die Slag van Ventersdorp. ’n Paar jaar  tevore het regse inwoners op 9 Augustus  1991 tydens ’n besoek van president  FW de Klerk, slaags geraak met die  Polisie en in die skermutseling het  mense gesterf. Ventersdorp is beskou  as die hoofkwartier van die AWB en hulle leier Eugene Terreblanche. Ds Thinus van Vuuren het sy roeping  as bedienaar van die Goddelike Woord  in die NG Gemeente Ventersdorp  ernstig opgeneem en het die lig van  die evangelie brandend gehou. Met  oorgawe en volharding het hy sy pad  geloop en as man van God was hy  gedissiplineerd, lojaal en pligsgetrou  aan die roeping van die Here om as dienskneg die gemeente en gemeenskap te dien. Ds Thinus was nederig,  gestruktureerd, netjies en passievol in  alles wat hy gedoen het. Sy energie  vir sy passie het nooit opgeraak nie en  hy kon aanhou en aanhou werk. Daar  word vertel dat hy op die kansel van  die kerk op Ventersdorp ’n hartaanval  gekry het, maar steeds aangehou het  om te preek. Dit was tekenend van ds  Thinus van Vuuren. Op Ventersdorp  het hy alle kerklike seisoene beleef  en die Here beskik dat hy twintig jaar  lank die gemeente bedien tot met sy  vertrek in 2013.

’n Roepstem kom na die NG Gemeente Ruyterwacht in die Kaapse  Skiereiland, vroeër bekend as die  gemeentes Epping en Epping-Wes.  Die gemeente beleef ’n krisistyd in sy bestaan en met die bevestiging van ds  Thinus van Vuuren op 1 Junie 2013  begin ’n nuwe hoofstuk in die gemeente  se geskiedenis. Met sy menslikheid  en vlymskerp onderskeidingsvermoë  staan ’n nuwe gemeente uit die stof op.

Ds Thinus het op voetsoolvlak mense nadergetrek om deel te wees van ’n liefdesgemeenskap en word later bekend as die Rooimat-gemeente waar almal  belangrik is. Jesus se laaste opdrag om  die evangelie na al die nasies te verkondig en te bemagtig, is die hoofstroom  van sy bediening. Dit word mettertyd  ’n gemeenskapskerk, waaroor Michael  Beukes skryf: “Thinus het mense bemagtig om God te dien, maar as daar ’n vloer was om gevee te word of ’n  kommissie om te bestuur tot daar ’n  geskikte persoon was, het hy self ingestaan. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hy en sy vrou Marina het  die gemeente Ruyterwacht opgebou  uit die as. Hy was ’n man wat ek met  die woord ‘bou’ assosieer. Hy het God  se koninkryk gebou in Ruyterwacht.”

Ds Thinus sterf skielik op 8 Februarie  2021 aan ’n aneurisme, wat die gemeentelede van die “Rooimat-gemeente”  stom gelaat het. ’n Begrafnisdiens word op 17 Februarie 2021 in die Covid 19-tyd gehou waar afskeid geneem  word van ’n unieke man van God. Die  pamflet met sy foto op lees: “Lig, lag,  leef. Vandag celebrate ons ’n officer  and a gentleman.” Ds Kobus Schoeman  lei die roudiens en ds Gerhard van der  Merwe lewer ’n huldeblyk. Sy vrou Marina en kinders onthou: “My man,  ons pa en oupa Thinus was een van die  min mense wat hulle woorde uitgeleef  het. Sy woorde: Bring liefde waar jy ookal gaan. Wees lig waar ookal die  donker is. Laat seëninge agter waar  ookal jy was. Wees goed en gaaf waar  ookal jy is. Hy was goed, gaaf, liefde  en ’n seën in ons almal se lewe.” – Dr  Gerdrie van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top