Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wiekie du Preez (1929-2021)

Lodewikus Petrus du Preez is op 31 Januarie 1929 gebore op Ceres in die  Koue-Bokkeveld. Hy word groot op De  Doorns naby Worcester en is die tweede  jongste van vier seuns. Sy vader was Jan Gysbert Hermanus du Preez, ’n  polisieman en stasiebevelvoerder op De  Doorns en sy moeder is Maria Magdalena  Moller. Wiekie begin in 1935 met sy  skoolopleiding aan die Laerskool De  Doorns en matrikuleer in 1945 aan die  Hoërskool Robertson.

Hier op Robertson voel hy as skoolseun geroepe om  sendeling te word en vertrek in  1956 as sewentienjarige jong seun na Stellenbosch om as predikant opgelei  te word. Sy klasmaats was oorwegend manne wat voorheen ander beroepe  beoefen het, asook manne wat aktief  aan die Tweede Wêreldoorlog deel geneem het.

Nadat hy die BA-graad verwerf het,  word hy in 1950 student aan die Teologiese Seminarium in die Eikestad,  waar hy aan die einde van 1953 as  proponent gelegitimeer word. Hy werk  twee jaar lank in proponentsposte in  die gemeentes Parow-Oos en daarna Prieska op die walle van die Oranjerivier, waar  hy besondere mensekennis opdoen. Hy  trou op 8 Oktober 1955 met Anita  Lombard, ’n nooi van Loeriesfontein  in die Boesmanland.

Op 21 April 1956 word prop LP du  Preez met handoplegging ontvang en bevestig in die NG Gemeente Delportshoop, ’n eiesoortige gemeente op die  walle van die Vaalrivier. In hierdie klein gehuggie tussen Barkley-Wes en  Daniëlskuil, werk ds Wiekie en Anita  tussen die delwers en boere, ’n ervaring  om nooit te vergeet nie.

Die Here roep die egpaar na Kannaland, toe hy op  6 Desember 1958 bevestig word in die NG Gemeente Volmoed, ’n boeregemeenskap buite Oudtshoorn. Hier werk  hulle met oorgawe en ervaar besondere  meelewing.

Op 20 April 1963 word ds Wiekie  du Preez bevestig as herder en leraar  in die NG Gemeente Namakwaland  op Springbok. Dit is ’n landstreek met eie uitdagings en ’n streek wat aan  ’n mens se siel en menswees klou.  Ook die unieke sêgoed, want toe hy  by geleentheid aan oom Jan Kennedy  vra hoe dit gaan, is sy antwoord: “So oumens-goed”.

In die tyd is nie net ’n basaar op Springbok en in Boesmanland  gehou nie, ongeveer twaalf basaars as  die buitewyke ingereken word.

Die gemeente word te groot vir een  leraar en ds Thys Agenbach word as eerste medeleraar beroep na Springbok. Ds LP du Preez se sendingroeping kom weer sterk na vore toe hy ’n beroep aanvaar na die NG Sendinggemeente Prins Albert en op 14 Januarie 1967 bevestig word. Dit vra groot opofferings vir die gesin, maar goeie tye word beleef in die pragtige dorpie aan  die voet van die Swartberge. Hy keer  na die NG Moederkerk terug toe hy op 17 Julie 1971 leraar word van die NG Gemeente Bothasrus op Despatch, ’n groeiende nywerheidstad naby Port Elizabeth wat baie groot uitdagings bring met sy jong lidmate.

’n Roepstem kom na die Vrystaatse platteland toe ds Wiekie leraar word van die NG Gemeente Marquard  en op 2 Julie 1977 bevestig word tussen die vriendelike mense van die Oos-Vrystaatse grensgordel. Ds Wiekie en  Anita du Preez is ’n hegte gesin met ’n  oop plattelandse pastorie op Marquard  wat vol geleef word. Maar op 27 Februarie 1982 beleef die pastoriepaar en hulle  drie dogters ’n terugslag  en hartseer toe hulle oudste kind en enigste seun Jan Gysbert Hermanus du Preez in die ouderdom van 24 jaar in  ’n motorongeluk sterf.

Op 1 Oktober 1983 verhuis ds Wiekie  na Nylstroom in Transvaal toe  hy hoof  word van die Abraham Kriel-kinderhuis  op Nylstroom. Sy skoonseun ds Chris  Barnardo, van die NG Gemeente  Kuilsrivier-De Eike, beskryf hierdie  stuk lewensgeskiedenis treffend: “Sy  empatie vir jongmense het daartoe  bygedra dat hy die pos as superintendent by die Abraham Kriel-kinderhuis  op Nylstroom tot en met sy aftrede gevul het.”

Na sy emeritaat op 31 Januarie 1989  vestig ds en mev LP du Preez hulle op  Stilbaai waar hy van 1990 tot 1992  hulpleraar in die gewilde kusdorp word.  Die egpaar besit toe reeds ’n vakansiehuis op Stilbaai en geniet die werk in die  gemeente. Hy is ook voorsitter van die  beheerraad van Huis Stilbaai. Hierna  loop sy pad na Kimberley toe hy pastorale hulp by ’n bekende aftree-oord in Kimberley word, waar hy geliefd is  onder die inwoners en goeie werk lewer.

Met verloop van tyd verhuis die egpaar na die Kaapse Skiereiland om naby hulle kinders en kleinkinders te wees.  Hulle bly tot die einde in Huis De Kuilen in Kuilsrivier waar hy op 18 Maart 2021  sterf en sy bejaarde lewensmaat Anita,  drie dogters, agt kleinkinders en vier  agterkleinkinders agterlaat. Ons glo  daar was vreugde in die Hemelstad toe  ds Wiekie weer herenig is met sy enigste  seun en ander dierbares. Sy skoonseun ds Chris Barnardo skryf: “Hy het in  eenvoud voor die Here geleef en sy  roeping passievol in die gemeentes wat hy bedien het uitgeleef.” – Dr Gerdrie  van der Merwe VDM

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top