Willem Jacobus Johannes du Plessis is op 1 Januarie 1932 te Kroonstad gebore. Sy vader is Willem Jacobus Johannes du Plessis, ’n mynwerker en deeltydse boer. Sy moeder is Johanna Maria Spangenberg. Hy begin sy skoolopleiding in 1938 aan die Laerskool Krugersdorp en ook van 1945 tot 1947 aan die Hoërskool Potgietersrus. Hierna verhuis hulle na die Wes-Transvaal waar hy in 1949 matrikuleer aan die Hoërskool Lichtenburg. Hy is onderhoofseun van die skool, is prefek in die koshuis en speel provinsiale skolerugby. Hy neem deel aan konserte, kore en is deel van die CSV in elke skool waar hy ’n leerling is.
Hy voel geroepe om predikant te word en begin in 1950 met sy studie aan die Universiteit van Pretoria waar hy die BA-graad in 1952 verwerf. Hy speel vir Tukkies se o.19-rugbyspan en is lid van die universiteit se stoeispan. In 1952 word hy student aan die Fakulteit Teologie (Afd B) aan Tukkies en is in 1954 en 1955 voorsitter van die Deo Gloria-bestuur. Hy is ’n inwoner van Sonop-koshuis waar hy die ondervoorsitter van die tehuis se bestuur is en ’n groot rol vervul in die “nagligte” in 1954 en 1955.
Hy verwerf ook aan Tukkies die BD-graad in Teologie. Prop WJJ du Plessis word aan die einde van 1956 as proponent gelegitimeer en is beskikbaar vir beroeping. Hy word op 2 Maart 1957 in die NG Gemeente Wonderpoort in Pretoria met handoplegging ontvang en bevestig. Hy is ook kapelaan van die Wonderboom-kommando. Intussen is hy op 15 September 1956 in die huwelik bevestig met Johanna Ludick. Uit die huwelik is vyf kinders gebore, terwyl die egpaar ook ’n huis van liefde skep vir ’n pleegdogter.
Ds WJJ du Plessis neem in 1958 ’n beroep aan na Turfloop se NGKA gemeente. In 1960 word hy beroep na die NG Moedergemeente Stilfontein, waar hy hard werk in die myngemeenskap en met huisbesoek ’n verskil maak. In 1964 word hy sendeling in Pretoria Noord Wintersveld, met die spesiale opdrag Evangelisasiesekretaris van die NGKA. Dit het geweldige uitdagings gebring, ook die tentveldtogte waar baie mense die Here gevind het. ’n Kerkgebou te Garankua en ’n evangelisasiesentrum “Seboeng” word ook opgerig. Oral is kerke, pastorieë en crèches in die sendinggebied opgerig.
Op 30 September 1972 keer hy terug na die NG Moederkerk as leraar van die NG Gemeente Onderstepoort in Pretoria-Noord en hy doen ook grensdiens in Kovango en Ovambo in die operasionele gebied. Na vyf jaar loop sy pad op 7 Oktober 1978 na die NG Gemeente Rietkuil, waar hy die plaasgemeenskap en inwoners van die nabygeleë kragstasie met raad en daad bedien en so geestelike groei in die gemeente bevorder.
Op 19 Februarie 1982 word hy leraar van die NG Gemeente Kemptonpark Noord, waar hy met oorgawe werk tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 10 Oktober 1988 weens swak gesondheid. Na sy aftrede gaan woon die egpaar in 1989 in Rooihuiskraal en van 1990 tot 1994 te Amandasig in Pretoria-Noord. Na 1994 verhuis hulle na die Strand. Intussen hou hy hom besig met houtsneewerk, speel rolbal en stap langs die see. Hy preek wanneer daar ’n geleentheid is en hy dien ook op die kerkraad. Hierdie dienskneg van die Koning sterf op 20 Augustus 2020. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM
