Willem Frederick Kloppers is op 6 Julie 1939 gebore te Northam in die destydse Noord-Transvaal. Sy vader was Louis Barend Kloppers, ’n onderwyser en sy moeder Marthina Margaretha Ludick, ’n huisvrou wat haar gesin met liefde versorg. Willie begin sy skoolopleiding in 1946 aan die Laerskool Doornfontein en met hulle verhuising na Rustenburg word hy in 1953 ’n leerling aan die Hoërskool Rustenburg waar hy in 1956 matrikuleer.
Na matriek werk hy van 1957 tot 1961 by die Departement Nie-Blanke Sake en studeer deeltyds aan die Universiteit van Pretoria en behaal die BA-graad wat hom toegang gee tot die Kweekskool op Stellenbosch waar hy die BTh-graad verwerf. Willie behaal later ’n honneursgraad in Sosiologie en op Stellenbosch, ook ’n honneursgraad in Semitiese tale onder leiding van prof Charles Fensham. Aan die einde van 1965 word hy gelegitimeer as proponent. Onder sy klasmaats is prof Pieter Potgieter, dr Frits Gaum, en ds Pierre Jordaan, kerkmanne wat later leiding gee as moderators in die NG Kerk. Hy trou op 18 Desember 1965 met Esther Cecilia Cillie, ’n lewensmaat wat hom getrou bystaan in die werk van die Here. Uit die huwelik is ’n dogter en ’n seun gebore, laasgenoemde dra die naam van sy vader.
Prop WF Kloppers ontvang ’n beroep na die NG Gemeente Bellville-Wes in die Kaapse Skiereiland, waar hy op 11 Februarie 1966 met handoplegging ontvang en bevestig word. Na drie jaar kom ’n roepstem na die Vaaldriehoek, toe hy op 5 September 1969 leraar word van die NG Gemeente Vanderbijlpark-Suid. In dié tyd is hy deel van ’n groeiende geloofsgemeenskap in die fabriekstad op die walle van die Vaalrivier.
Ds Willie en Ester Kloppers se pad loop na Pretoria, waar hy op 11 Augustus 1978 leraar word van die NG Gemeente Monumentpark, waar hy met verskeie medeleraars soos dr Attie van Niekerk, dr André Bartlett en dr Gustav Claassen saam werk. Dr Attie van Niekerk, ds Willie Kloppers en dr Gustav Claassen het ’n lang periode saam die gemeente bedien. Aan die begin van die nuwe millennium begin die gemeente ’n nuwe identiteit aanneem. Die wykskerkrade het verdwyn en die gemeente het die “liggaam-van-Christus-model” aangeneem. Sedert 1993 het dr Gustav Claassen op ’n besondere manier leiding gegee in die gemeente en toe hy in 2015 algemene sekretaris van die Algemene Sinode word, was dit vir ds Willie Kloppers en sy kollegas ’n vreugde om te getuig dat kerklidmate van Monumentpark die oefenveld was waar hierdie bekwame kerkman voorberei is vir hierdie veeleisende taak as man van God in ’n uitdagende leierspos.
Ds Willie Kloppers emeriteer op 2005 en bly in die gemeente woon, maar hierdie geroepe dienskneg van die Here het steeds diensbaar gebly en met raad en daad mense met die evangelie aangeraak. In 2012 het hy weer betrokke geraak in die gemeente Monumentpark en daar is mooi herinneringe rondom sy dienstyd.
Die gemeente waar ds Willie Kloppers ’n leeftyd lank sy kragte gegee het, was ’n geseënde geloofgemeenskap met besondere gawes en talente. Daarom kon hulle die Here God op voetsoolvlak sigbaar maak, want hulle het deernis, eenvoud, egtheid, groei, ruimte en vreugde sigbaar gemaak in hulle leefwêreld. Hy sterf op 29 Augustus 2021 en ’n troosdiens word op 3 September 2021 in die gemeente Monumentpark gehou wat landswyd deur almal gevolg kon word deur die moderne elektronika.
Dr Gustav Claassen skryf oor ’n geliefde oud-kollega: “Willie Kloppers het vir bykans 24 jaar ’n besondere rol in my bediening gespeel. Dit was ’n voorreg om as jong predikant saam met hom in die gemeente Monumentpark te kon dien. In die rol van mentor het hy in alle opsigte ’n onuitwisbare indruk en impak op my bediening as jong leraar gemaak. Willie het met sy innemende persoonlikheid, elkeen van ons en ander op vele terreine van sy lewensreis, diep aangeraak. Die respek wat hy by almal afgedwing het, het ten diepste voortgevloei uit die inherente respek wat hy vir elke mens gehad het.
“As ek aan Willie dink, is woorde soos ‘opreg’, ‘opgewek’, ‘blymoedig’, ‘lewensbly’, ‘lewenslustig’, ‘gasvry’ en ‘behulpsaam’ telkens uitdrukkings wat gebruik kan word om iets oor hom te sê. Dit is beskrywende woorde maar in sekere opsigte te min.
“Willie se liefde en onselfsugtige omgee vir mense is ’n aspek van hom wat my altyd sal bybly. Hy het moeite gedoen om te hoor en te verstaan wat ander se perspektiewe was. Gereelde huisbesoek en ander besoeke as uitlewing van sy pastorale sorgsaamheid was van sy sterkpunte. Bowenal is dit egter sy karakter, sy kalmte, wysheid, diep insig, liefde vir die Here, wat duidelik deur sy preke en leefwyse gepraat het wat hom uiters geliefd gemaak het.
“Willie Kloppers was tussen sy kollegas ’n besonder geliefde mens. Sy voorleggings was deeglik, sorgsaam, vol erns en met diepe insig in die Woord. Vir die totaliteit van sy bediening en daarna vir baie jare was sy Bybelstudies uiters gewild. Ons eer hom as ’n uitdagende gespreksgenoot, lojale kollega en opregte vriend, iemand vir wie sy geloof in Christus, ’n egte lewenswyse was.
“Willie Kloppers se gelyke is uiters yl gesaai, sy heengaan laat ’n groot leemte wat baie lank gevoel sal word.” – Dr Gerdrie van der Merwe VDM
