Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Gerhard Mahne van Kaapstad skryf: Fanie Cronjé van Lynnwood se artikel “Om tot die geldige vertolking van die Skrif in ons tyd te kom”(3 Aug) het betrekking. Cronjé verwys na NG lidmate wat hulle Algemene Sinode se besluite as liberaal beskou, omdat hierdie lidmate se “vertolking van die Skrif in ons tyd” nie meer geldig is nie. Hieroor twee opmerkings.
Eerstens pla die woorde: “in ons tyd”. Is die Skrif se absolute waarhede dan nie tydloos nie, en is absolute en tydlose waarhede dan nie waarhede waarsonder jy die koninkryk van God misloop nie, of beskou broer Cronjé en die Algemene Sinode van “ons tyd” alle Skrifwaarhede as relatief?
’n Tweede saak wat pla is die indruk wat hy skep dat teenkanting teen die liberale teologie in die Algemene Sinode slegs ’n interne NG verskynsel is. Dit is nie waar nie! Talle kerke in ons land en oorsee – buiten die huidige 120 gemeentes in die NG Kerk – stem saam dat die Algemene Sinode van die NG Kerk met sy optrede en besluite in ons tyd, op ’n dwaalspoor is: kerke soos ons susterskerk die Gereformeerde Kerke, die Afrikaanse Gereformeerde Baptiste, die Vrye Gereformeerde Kerk, die Alliance of Reformed Churches in America, om maar enkeles te noem.
