Bybelse antwoorde op uitdagings van ons tyd
Redakteurs: Braam Hanekom, Johannes Mouton en Chris Wheeler
Uitgewer: Sentrum vir Publieke Getuienis, 2022
Resensent: Karlie Liebenberg
Was jy al ooit op soek na relevante temas vir Bybelstudie- of omgeegroepe? Bybelse antwoorde op uitdagings van ons tyd is ’n Bybelstudiegids wat sewe verskillende temas aanbied. Dit is ’n unieke Bybelstudiegids wat Bybelstudie- en omgeegroepe ’n groter insig gee om moeilike, maar tog relevante temas wat ons daagliks in Suid-Afrika beleef, te bespreek. Die reeks sluit onderwerpe in waaroor ons soms huiwerig is om te gesels, maar bied riglyne om die uitdagings van die hede te oorkom.

Mense wat gereeld saam Bybelstudie doen is die perfekte omgewing om hierdie temas in ’n veilige ruimte saam met medegelowiges te bespreek. Van die temas wat bespreek word, sluit sosiale kohesie en versoening, migrasie en behuising, vaardighede en werkloosheid en geloof in ’n ongelowige wêreld in.
Ter inleiding bied die gids ’n agtergrond sowel as Skrifgedeeltes wat by die spesifieke tema aansluit, asook vrae wat uit ’n Bybelse konteks bespreek kan word. ’n Geleentheid waar gelowiges werklik na mekaar luister en mekaar se uitdagings beter verstaan kan deur middel van hierdie reeks geskep word.
Bybelse antwoorde op uitdagings van ons tyd sal Bybelstudie- of omgeegroepe in staat stel om moeilike vrae te vra, ’n netwerk te vorm met medegelowiges wat saam op reis is oor ongemaklike temas en om werklik geestelike kapasiteit en teologiese kennis op te doen om ’n beter Suid-Afrikaner te wees.
- Die gids is beskikbaar by media@kaapkerk.co.za vir R20.
- Ds Karlie Liebenberg is predikant by Bredasdorp-gemeente.
