Wanneer ek terugdink aan die afgelope 68 jaar van my lewe op aarde, waarvan ek vir 42 jaar bevoorreg was om as gelegitimeerde leraar van die NG Kerk, aktiewe diens in die kerk en koninkryk te kon verrig, kan ek nie anders as om vele predikante in herinnering te roep wat ’n geweldige impak op my menswees en bediening uitgeoefen het nie, skryf Jasper Louw.
Langs hierdie weg wil ek graag hulde bring aan besonderse diensknegte in God se koninkryk met wie ek persoonlik kontak gehad het en ’n blywende indruk by my geskep het. Uiteraard is hierdie geen volledige lys nie, maar daar is tog ’n paar persone wat prominent uitstaan in my lewe.
KINDERJARE
Ek het my kinderjare hoofsaaklik deurgebring in die NG Gemeente Witfield, in Boksburg. Hier is ek gedoop deur dr AA van Wyk. Gedurende hierdie laat vyftiger- begin sestigerjare is ons gemeente bedien deur ds Johan Kritzinger, ’n kort rukkie deur ds Kruger en toe kom dr Fanie Burgers wat met sy blou oë en rustige geaardheid ’n groot impak op my lewe gehad het. Dit was ook onder leieding van Oom Fanie wat ek belydenis van geloof kon aflê.
My roeping om predikant te word het begin vorm aanneem na ’n jeugsaamtrek by Goudstad se Onderwyskollege waartydens ds Sampie van Vuuren die boodskap gebring het. Dieselfde ds Sampie het toe later vir ds Burgers opgevolg as gemeenteleraar van Witfield. Ek sal Oom Sampie steeds onthou wat intens met die lewe van gemeentelede saamgeleef het.
Tydens ons skoolverlaterskamp te Bad-se-Loop het di Dana Minnaar en Mike Smuts (jnr) ’n groot bydrae gelewer in my roepingsbewustheid en geloofsvorming. Die sangleiding deur Jan de Wet en Cassie Carstens sal my ook altyd bybly.
STUDENTEJARE
Tydens ons eerstejaarskamp in 1972 het ek kennis gemaak met die twee studenteleraars, ds Kobus Venter en ds Maans Steyn (later het ek die voorreg gehad om saam met ds Maans Steyn medeleraarskap in Voortrekkerhoogte-Wes te kon deel). Die gemeenteleraar by Universiteitsoord was dr Frans O’Brien-Geldenhuys. Ek was net een keer in Oom Frans se studeerkamer, maar daardie deurdringende bruin oë en helder verstand het ’n onuitwisbare indruk op my gemaak. Hy is opgevolg deur ds Dirk Oosthuizen. Oom Dirk en Tannie Ina was onder andere ons geestelike leiers met van ons operettetoere en Oom Dirk se menswees staan vir my uit.
’n Studenteleraar wat ’n geweldige impak op my lewe en bediening gehad het, en ek tot vandag toe nog as mentor, kollega en vriend waardeer, was dr Malan Nel. Oom Malan se liefde vir die jeug, sy geweldige teologiese kennis, veral ten opsigte van gemeentebediening en gemeentebou, sy studietoere na die VSA (waarvan ek twee kon meemaak) en bowenal sy diep geloof en liefde vir die drie-enige God, raak my steeds diep.
Uiteraard het ons teologiese dosente ’n groot invloed op my geloofsvorming gelaat. Hier dink ek aan mense soos proff Johan Heyns, Mias de Klerk, Andrie du Toit, Frikkie Botha, Carel Boshoff, Attie Barnard, Dionne Crafford, Riempies Prinsloo, AH van Zyl, Danie Louw, Hennie Pieterse, Mauritz Kloppers, en andere. Ruimte ontbreek om iets oor elkeen weer te gee, maar elkeen het ’n unieke stukkie van my lewe gevorm.
Tyd en spasie ontbreek om die 57 name te noem van diegene wat saam met my in 1979 gelegitimeer is. Studentemaats wat vriende geword het. Twee name wat ek tog wil uitlig is (prof) Fanie Snyman en (dr) James Kirkpatrick. Deur al die jare het ons kontak behou en saam in vele vergaderinge van die kerk gedeel.
BEDIENINGSJARE
Tydens my Nasionale Diensplig was ek bevoorreg om dr Rassie van Niekerk (hospitaalleraar by 1 Mil) as my mentor te hê. Oom Rassie met sy geweldige empatie met mense.
In Junie 1980 is ek beroep na Voortrekkerhoogte-Wes met medeleraars di Rassie van Niekerk, Maans Steyn, Nic Ackerman en Hennie Bekker. Wat ’n voorreg om as jongeling in die bediening saam met so ’n bekwame span te kon werk! Dan was daar veral twee predikante met range in die weermag, di Pierre Jordaan en Chris Naudé wat altyd bereid was om leiding te gee waar nodig.
Gedurende 1981 het ek ’n beroep na Messina aanvaar as gebiedskapelaan van die Soutpansberg Militêre Gebied (SMG). Hier het ek vir kmdt Piet Moolman as bevelvoerder ontmoet, en alhoewel hy nie ’n predikant was nie, het hy ’n geweldige impak op my lewe gehad.
Op Messina was ek toe in medeleraarskap met een van die mees kleurvolle figure in ons kerk se geskiedenis – Oom Fanie Henrico. Ek sal die dag wat ons ontmoet het nooit vergeet nie. Oom Fanie was in die tuin van die pastorie met net ’n swart rugbybroek aan. Op sy breë bors was ’n groot Uniewapen getatoëer en langs hom sy gekammofleerde Toyota, sy amptelike gemeentemotor! Oom Fanie was die eerste student wat aan Tukkies afgestudeer het en ek glo hy was die enigste predikant van die NG Kerk wat homself georden het! (Dit het gebeur tydens die Tweede Wêreldoorlog toe hy ’n krygsgevangene in Italië was.) Daar was ook twee dienspligkapelane wat ’n besonder nou pad saam met my geloop het, Marius Storm (tans in Nederland) en Albert Horn (later van Potchefstroom-Mooirivier).
Die volgende predikant wat ’n groot impak op my lewe gemaak het, was ds Lourens Swart. Oom Lourens was my medeleraar in Unitaspark (Vereeniging). Dit was my eerste “siviele” gemeente en Oom Lourens was van onskatbare hulp om my voete in ’n totaal ander bediening te vind as dit wat ek tot nog toe gehad het. Alhoewel ons pad net vir 18 maande saamgeloop het, het Oom Lourens my gereed gemaak om vanaf 1986 as enkelleraar met ’n pas afgestigte gemeente (NG Suikerbos) te kon begin. As deel van die Ring van Vereeniging het ons kontak met baie predikante gehad, maar die ringsleraar wat my lewe die meeste verryk het, was my buurman, ds Jan Haasbroek. Oom Jan het my aangemoedig om deel van die Sinodale Regskommissie (destyds Sinode van Wes-Transvaal) te word. Dit het tot gevolg gehad dat my hele bediening in ’n nuwe baan gestuur is.
SINODALE VERBAND
Tydens my bediening in die destydse Sinode van Wes-Transvaal (tans Goudland) het ek die voorreg gehad om vir baie jare skriba van die Sinodale Regskommissie te wees, later aktuarius en ook moderator van Wes-Transvaal. In hierdie tyd het ek te doen gehad met formidabele leiers in die kerk. Oom Japie du Plessis met sy besonderse aanslag op leiding van vergaderings, Hennie Grobler wat as lopende ensiklopedie alle sinodes se besluite op die punte van sy vingers geken het, Jurie Wessels met sy helder insig in die kerkreg, Nic Bezuidenhout met sy deernisvolle leierskap, Nico van Rensburg (“Blink Nico”) met sy unieke organisasievermoëns, Jackie van Rensburg en Henk Gous wat vanaf studentedae ’n groot impak op my gehad het, en vele ander.
Vanaf 2010 tot emeritaat het ek as lid van die Oos-Kaap se Sinodale Kommissie as assessor en moderator noue kontak gehad met ds Danie Mouton. Danie is een van die mees begaafde mense ten opsigte van teologiese kennis, bestuursvaardighede en menswees, wat ek ken. Chris van Wyk en Dewald Davel, elk met hulle eie styl en passie vir die Woord van God.
In algemene sinodale verband was ek bevoorreg om vir ’n lang tyd op die ASM (voorheen onder verskeie ander name bekend) te kon dien onder voorsitterskap van Coenie Burger, Piet Strauss, Nelus Niemandt en Nelis Janse van Rensburg. Besondere mense van wie ek baie oor leierskap kon leer.
As ek al die predikante moet noem wat my lewe verryk het, sal ek die Jaarboek moet oorskryf!
Benjamin Franklin (1706-1790) het gesê: “As jy nie onmiddelik na jou dood vergeet wil word nie, skryf dinge wat die moeite werd is om te lees, of doen dinge wat die moeite werd is om oor te skryf.”
Hierdie predikante sal altyd in my lewe onthou word.
