Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

'n Gerespekteerde kerkleier van die Reformed Church of Africa, Dr Perold de Beer is op 18 Julie oorlede. Foto: Verskaf

In memoriam: Dr Perold de Beer (1939-2022)

Gebore op 13 Maart 1939 in Johannesburg as die seun van ds Dan en Alida de Beer, het Perold al op hoërskool ’n passie vir missionale werk onder die Indiërgemeenskap gehad. Hy was 17 toe hy in 1956 diep ontroer is tydens ’n evangeliese diens in die Bosmanstraatkerk waar dr Oswald J Smith van Kanada gepraat het oor die missionale nood van mense wat nog nie die evangelie gehoor het nie.

Na hy sy teologiese opleiding voltooi het, het ds De Beer eers ’n beroep aanvaar na Adelaide in die Oos-Kaap. Twee jaar later word sy aanvanklike missionale roeping ’n werklikheid toe hy ’n beroep aanvaar om onder die Indiërgemeenskap in Noord-Transvaal te werk. Die besluit is aangevuur deur wat dr Smith gesê het: “Hoekom moet enigeen die evangelie twee keer hoor voor almal dit ten minste een keer gehoor het?”

Dr Perold de Beer

Hulle passie neem ds De Beer en sy vrou Marietha na twee Indiërgemeentes in die Reformed Church in Africa (RCA), Charisma in Laudium en Jeshurun in Phoenix, Durban. Dit verteenwoordig ’n tydperk van 41 jaar van toegewyde evangelistiese bediening. Baie in die RCA sal hiervan kan getuig.

De Beer het ook ’n belangrike rol in die nasionale leierskap van die RCA vervul as skriba en moderator. Sy leiding van die kerk is gekenmerk deur sy nederigheid, diepe geestelikheid en onberispelike administratiewe kerklike leierskapvaardighede.

In die tyd wat die RCA geaffekteer is deur die politieke agenda van die 1980s, neem ds De Beer leiding tydens die 1990-sinode met die organisering, samestelling en outeurskap van die Laudiumverklaring by hierdie sinodesitting. Hierdie diepgaande kerklike dokument herbevestig en herfokus die kardinale bedieningsrigting van die RCA se Bybelse mandaat vir ’n evangelistiese en missionale roeping as hierdie kerk se standpunt.

Ds De Beer en die leierskap van die kerk het moedig in hierdie rigting leiding geneem in die RCA tydens hierdie onrustige tye. Hiervoor salueer ons hom.

Dr De Beer het sy PhD oor die historiese kerkplanting van die RCA in 2004 na sy aftrede voltooi.

Hy het die Here in die RCA met nederigheid, toewyding en onderskeiding gedien. Ons dank en prys God vir sy lewe en bediening onder die Indiërgemeenskap in Suid-Afrika. Ja, ons identifiseer met die woorde van die apostel Paulus ‘jy het die goeie stryd gestry, jy het die resies voltooi en die geloof behou’ (2 Tim 4:7).

  • Dr Victor Pillay is die aktuarius van die Reformed Church in Africa en leraar van die Charisma-gemeente.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top