Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Kruim. Daardie sagte binnekant van ’n brood.
Korsie. Die harder rand weerskante van die kruim.
Wanneer ’n brood vars uit die oond kom, is daar enkelinge wat dadelik vir die korsie vra. Die meerderheid mik egter vir die stomende kruim waarin botter wegsmelt. Brood is nie brood sonder korsies nie, maar soms, soos nou, ’n tyd waarin net twee harde korsietjies ’n groot lawaai maak, kan die kerk en wêreld doen met ’n herwaardering van die kruim.
Lees ook | Bybelsondag 2022: 16 miljoen in Afrika sonder Bybel in eie taal
Kruim is sagter as korsie, soepeler en ’n speelruimte vir die kreatiwiteit van suurdeeg. Dit wil voorkom asof kruim vergete is en ons in die tyd van die korsie leef. ’n Tyd waarin net twee dun maar harde korsietjies grense probeer afdwing op die kruim. Korsies maak ook ’n moewiese lawaai terwyl dit die kruim keer en vermaan en na hulle kante probeer oorwen, al is daar net tweetjies weerskante van baie kruim. Weerskante, ja. Ver aan die een kant en ver na die ander kant en hard, soos ’n fondament of ’n monument. Indien Korsie ’n van was en ’n heraldiese wapen moet hê, sal die leuse onder die wapen lui: “Hy wat vir niks staan nie, sal vir alles val.” Die veel groter Kruim-familie se leuse lui weer: “Hy het geval, daarom dat ons sagter staan.”
En tog, tog weet ons dat ons die korsies nie moet afsny en weggooi nie. Kyk maar net na Jesus se tafelmaniere en hoe Hy brood benader het. Hy het dit by uitstek gebreek saam met die sagte weerlose kruim – die armes, kreupeles, blindes en verlamdes en skares gewone mense, maar wel ook met die Fariseërs, die harder korsies wat onwrikbaar vir iets gestaan en dus vir niks geval het nie. Ook nie vir Hom nie.
Lees ook: Predikante uit my verlede
In haar nuwe boek Sunday’s sermon for Monday’s world vertel die teoloog van Princeton, Sally Brown, van ’n “gay pride” parade wat op ’n warm dag in ’n straat tussen twee kerke verby beweeg het. Soos die lot dit beskik het, was die kerk aan die een kant van die straat erg konserwatief gegewe selfdegeslagverhoudings en die een aan die ander kant liberaal. Die konserwatiewes het met plakkate gestaan en slagspreuke geskreeu en die liberales het bottels water en lemoene wat in kwarte gesny is aan die optoggangers uitgedeel. Die een groep se vertoon duidelik links en die ander duidelik regs. In die loop van die oggend het ’n vrou by die liberale gemeente gesien dat haar protesterende konserwatiewe susters en broers nie water gebring het nie en dat die sweet hulle aftap. Sy het ’n skinkbord geneem, dit vol waterbottels en lemoene gelaai en het daarmee die straat na hulle oorgesteek.
Daardie vrou het kruim beliggaam, nie korsie nie. Die moeilike middeweg. Dit is nie draadsit nie. Dit is ’n posisie. ’n Sagte posisie. By uitstek ’n dapper posisie. Een met ruimte. Met ’n profetiese verbeelding van wat kan wees en stil soos suurdeeg versprei. In ons eie dag is dit die moeiliker posisie, die stiller een buite die kalklig. Sulke kruim mense is sakramentele mense. En sakrament is in die woorde van David Power “the language of God’s giving”.
Lees ook: Inklusiewe taal: ’n Praktiese manier om geregtigheid te help bevorder
Ek het nog min korsies op die silwerborde op NG nagmaaltafels gesien, dit is gewoonlik klein blokkies kruim. Daardie blokkies kruim herinner ons in ’n tyd van populisme, ekstremisme en fundamentalisme aan die sagte binnekant van brood. Jesus het gesê, “Ek is die brood van die lewe” en daardie brood is “vir jou” – vir kruim én korsie.
Mag ons tussen die harde wande van slegs twee dun harde korsies, nie die voedsame kruim tussen die korsies vergeet nie. In ons dag het ons by uitstek kruim nodig – dapper mense wat nie slegs twee letters in die groot alfabet van die teologie lawaaierig verhef tot alfa en omega nie, maar weet dat ons die volle alfabet nodig het om deur die Alfa en Omega in die waarheid gelei te word.
- Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Nou waarom, met hierdie “ruim kerk” en “sagte kruim” benadering loop die NGK leeg en nie vol nie?
Daar word verwys na ‘n gebeurtenis by ‘n ‘”gay pride” parade’, soos vertel in Sally Brown se boek ‘Sunday’s sermon for Monday’s world’. Rakende die gebeurtenis, word daar nie in die boek genoem dat:
– die ‘konserwatiewes’ ‘met plakkate gestaan en slagspreuke geskreeu’ het nie (wel na “some held up placards with prominent, condemning messages” en “scowling supporters”)
– ook nie dat lemoene uitgedeel is nie (wel na “portable snacks”)
– ook nie dat die vrou ‘gesien dat haar protesterende konserwatiewe susters en broers nie water gebring het nie’ (wel na “she was looking anxiously across the street at the sweating sign holders”)
Sally Brown beskryf dat die “two congregations” “took very different stances on issues of nonheteronormative sexual orientation and its relationship to church membership and leadership”.
Sy beskryf nie die ‘twee kerke’, onderskeidelik, soos volg nie:
– ‘erg konserwatief gegewe selfdegeslagverhoudings’, ‘konserwatiewes’, ‘duidelik regs’ [rakende hulle vertoon] (wel na “some held up placards with prominent, condemning messages”, “opposite side of the street”, “other church”)
– ‘liberaal’ [gegewe selfdegeslagverhoudings], ‘liberales’, ‘duidelik links’ [rakende hulle vertoon], ‘liberale gemeente’ (wel na “rainbow flags waived”, “rainbow flag side”)
Natuurlik hervertel Prof Cas Wepener die gebeurtenis en Sally Brown hervertel dit ook – sy gee die inleiding “a colleague tells the story” en later ‘n voetnota dat die storie uit ‘n preek van 2015 kom. Miskien word Prof Cas Wepener se vertelling van die gebeurtenis aangevul uit die preek of ‘n ander bron?
Met die kruim benadering word behoudendes en die wie die Bybel op sy eng betekenis lees en opneem, saggemaak tot die verdraaide skrif aanvaarbaar klink en begin glo word.
https://www.litnet.co.za/ankerkaroo-groen-lusern-en-klein-liberale-vrysinnige-kerkies/
Die Bybel het min ruimte vir “kruim” – eintlik niks: nét die “korsies” van die breë en smal weg (géén middeweg); net bokke en skape (geen middelgroep); wyse en dwase maagde (geen tussengroep); hemel of hel (geen vagevuur eers nie). Trouens, wie nie koud óf warm is nie maar, lou (“kruim”?) maak Jesus so naar dat Hy hulle wil uitspoeg (Openb 3:16)… genadiglik is daar nog tyd vir bekering!