Wie is waarheen beroep? Wie tree af? Wie is bevestig en wie skuif nou waarheen?
Dit heet Amptelik en dit is daardie afdeling van Kerkbode waar leraars en lidmate op die hoogte bly van skuiwe en verwikkelinge binne die groter NG Kerk en haar susterkerke. Dit is boonop, buiten Vakatures, die gewildste afdeling op ons aanlyn platform (www.kerkbode.co.za en die Kerkbode-app tesame).
Waar lesers reeds vanjaar sowat 40 000 keer op Vakatures gekliek het, het die Amptelik-afdeling self so 8 000 klieks gekry.
Naas die webverkeer wat dit vir Kerkbode lok, is dit ’n kommunikasiediens wat die Kerkbode-span met erns benader. Soos dr Alet Law by ’n onlangse praatjie oor webgehoorontwikkeling aan ’n streeksinodale kommunikasiespan verduidelik het, is daar drie sfere van behoeftes onder lesers waaruit webgehore uiteindelik bestaan:
- Funksioneel
- Kontekstueel
- Emosioneel
Law, wat werk as bestuurder van gehoor(audience)-ontwikkeling by Daily Maverick, het by ’n strategiesessie haar kennis gedeel oor waarde van ’n dieper insig tot hoe lesers kommunikasieplatforms in hulle besige lewe gebruik. In Kerkbode se geval is Amptelik bo-aan die lys van ons “funksionele” kommunikasiefunksie binne die NG Kerk asook ’n sleutelpunt van samewerking tussen ons redaksie en kerkstrukture (ringe en sinodes ens).
Drie vrae duik af en toe op en ons verfris graag hiermee die kollektiewe geheue:
- Wanneer moet ek Kerkbode van skuiwe verwittig?
- Hoe bewoord ek daardie kommunikasie aan Kerkbode?
- Waarheen stuur ek Amptelike skuiwe in my gemeente?
Die antwoord op die derde is eenvoudig. Stuur vir ons ’n e-pos by kerkbode@tydskrifte.co.za.
Om die eerste twee vrae deeglik te beantwoord, publiseer ons hieronder ’n gids wat dr Dewyk Ungerer, die aktuarius van die Algemene Sinode, aan die hand van die Kerkorde uiteensit.
Die Kerkbode-span
AMPTELIKE BERIGTE IN KERKBODE_2022.docx (1)
