Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Afrikaanse NG gemeente aan die Weskus is ’n geestelike tuiste vir ’n groep ontheemde Franssprekende mans. Hulle sang het saam met dié van ander musikales opgeklink tydens ’n feeskonsert om die 120ste bestaansjaar van die NG Kerk Vredenburg te vier. Foto’s: Marzahn Botha

KYK: Vele klanke en tale klink op by Weskus-sangdiens

’n Afrikaanse NG gemeente op ’n Weskusdorp het ’n besonderse band met ’n groep mans wat as karwagte werk opgebou. Die ‘koor’ het ’n roerende sangitem gelewer tydens die onlangse feeskonsert om die 120ste bestaansjaar van Vredenburg-Moedergemeente te vier, vertel Marzahn Botha.

“Julle was ongelooflik. Julle is almal my heroes. Noem julle sommer die parking angels.”

Dié woorde rig Almarie de Witt in die verbygaan aan ’n groepie Franssprekende karwagte na afloop van die onlangse feeskonsert as deel van die Vredenburg NG Moedergemeente se 120ste bestaansjaar.

KYK VIDEO HIER:

De Witt is ’n werknemer by die Mica-hardewaretak in die Weskus Mall, een van die plekke op dié Weskusdorp waar hierdie karwagte diens doen. Die ander plek is by die Ipic-inkopiesentrum digby die historiese NG kerkgebou.

Waar jy ookal aan die Weskus gaan, is daar groot lof vir dié groep hardwerkende Franssprekende karwagte wat altyd met ’n vriendelike gesig en openhartigheid ’n wakende diens aan die gemeenskap lewer. Jy word sommer ook met ’n mooi Franse aksent beleefd in jóú eie taal gegroet.

“Dit is maar net nog ’n voorbeeld van die Weskuskultuur,” sê André Truter, burgemeester van Saldanhabaai-munisipaliteit. “Ons is baie mense van baie plekke. Weskusmense is welbekend vir ons gasvryheid. Dié groep mans lewer ’n eerlike diens aan ons gemeenskap en werk baie hard.

In die anderhalfuurlange video-opname van die sangdiens wat op 28 Augustus plaasgevind het, is diverse stemme, tale en instrumente te hoor: Van gemeentesang uit die Liedboek, tot ’n laerskoolkoor en die Weskus Jeugorkes, asook ’n orreluitvoering van JS Bach se “Toccata” en “Fuga” in D min deur dr Gerrit Jordaan, met die groepsang deur die mans wat uit hulle sosiale netwerk as motorwagte op die dorp byeengebring is.

“Dit was fantasties dat ons saam met hulle en al die ander begaafde musikales ’n geseënde aand kon hê. Hulle is diep kinders van die Here, en dit was ’n ongelooflike oomblik om te sien hoe ver ons in ons land gekom het en die diversiteit wat ons in die kerk ervaar het, aldus André.

In die anderhalfuurlange video-opname van die sangdiens wat op 28 Augustus plaasgevind het, is diverse stemme, tale en instrumente te hoor: Van gemeentesang uit die Liedboek, tot ’n laerskoolkoor en die Weskus Jeugorkes, ’n orreluitvoering en die groepsang deur die mans wat uit hulle sosiale netwerk as motorwagte op die dorp byeengebring is.

Freddy Nibitanga, ’n inwoner van Vredenburg en oorspronklik van Burundi, sê hy is die voorman van die karwagte by die Weskus-inkopiesentrum. “Ons is baie gelukkig om die wonderlike aand met almal te deel. Ons is almal mense van die drie-enige God. Hy het ons almal saamgebring,” sê hy oor die feeskonsert waar hulle groepie karwagte ’n aanbiddingslied, Mukiza Numvis’ijwi (‘In salvation I hear Thy welcome voice’ in Engels) in Rundi-taal gesing het.

Freddy sê hulle groep karwagte sing graag. “In Burundi was ons almal in kerke en daar het ons in Frans, Engels, Rundi en Swahili die Here geprys.

“Sommige Sondae kom ons kerk toe, en ons “moeder” Retha van der Walt bring die In Spirit and in Truth (SMS)-sangbundel. Ons lees dit, ons sing daaruit en dit maak ons baie gelukkig. Sy is so goed vir ons. Al hierdie mense aan die Weskus kyk baie mooi na ons en ons na hulle.

“Dit is so bevredigend as mense vertroue het in die diens wat ons aan die mense lewer en hulle waardeer dit. Dit maak ons ongelooflik trots en laat ons voel veilig,” sê Freddy.

Terloopse gesprek lei tot Franstalige bediening

Die karwagte by die Weskus Mall en Ipic-sentrum is hoofsaaklik afkomstig van Burundi – ’n konflikgeteisterde streek wat noord van Zambië ingedruk lê tussen groot lande soos Tanzanië, die Demokratiese Republiek van Kongo en Uganda. As ’n voormalige Franse kolonie is Frans steeds die amptelike voertaal met Rundi een van die inheemse spreektale.

Volgens Retha van der Walt, ’n plaaslike “sendeling” en dryfveer agter hierdie bediening by Vredenburg-gemeente, het ’n terloopse gesprek met Freddy vir dié kerk ’n geleentheid uitgewys om geloofsondersteuning aan hierdie groep ontheemde Christene te bied.

“Weens hulle taalbeperking en voltydse diensrooster by die inkopiesentrum, kon hulle nie dienste by die kerk bywoon nie. In Augustus 2016 is die bal aan die rol gesit en het elke karwag ’n Bybel in die taal van sy voorkeur gekry.

“Sedertdien ontvang elkeen van hulle weekliks ’n geskrewe preek in Frans wat van Foi et Vie Reforméés (Reformed Faith and Life) se webtuiste afgelaai word. Dit is ’n mediabediening van die Gereformeerde Kerk Rietvallei in Pretoria wat die Woord in Franssprekende Afrikalande bedien deur middel van radio-uitsendings, onder andere vanuit Frankryk,” vertel Retha. Die gemeente Rietvallei het in 2002 ds Éric Kayayan as ’n sendeling na Frankryk gestuur om die Franse Media-bediening (FMB) daar oor te neem. Hy lewer preke oor radio-uitsendings wat ook aanlyn beskikbaar is.*

Die burgemeester van Saldanhabaai-munisipaliteit, André Truter, staan by die groep Franssprekende karwagte na afloop van die feeskonsert met die historiese kerkgebou van die NG Vredenburg-Moedergemeente sigbaar in die agtergrond. Langs hom staan die voorman Freddy Nibitanga (in swart sonder ’n das).

Een van die fokuspunte by die feeskonsert was die bekendstelling van die geestelike meertalige boekie, In spirit and in truth. Dit is ’n preekbundel wat bestaan uit Franse en Engelse preke wat twee lidmate, Pierre en Susan Lucouw, vir die Franssprekende immigrante saamgestel en laat druk het onder die naam van Corals Publishers. FMB het die fondse oorbetaal vir die druk van sowat 1 000 kopieë om versprei te word. Nou kan die Franssprekende immigrante oral hulle bundel by hulle dra, daaruit lees en die nodige geestelike inspuiting kry.

“Hulle is ver van hulle mense en gaan soms min huis toe en ek is bly ons kon vir hulle al die warmte gee wat hulle nodig het,” sê André.

  • Tekste van ds Éric Kayayan word ook vertaal en versprei by www.foi-vie.org.za. Besoek ook die webblad by www.foietviereformees.org.
    Kontak Retha van der Walt by rethavanderwalt1@gmail.com vir meer inligting.

Marzahn Botha is ’n fotojoernalis van Kaapstad wat besonder lief is vir die Weskus, veral Jacobsbaai.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top