Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Van kleintyd af het ek al ’n hart vir mense wat swaarkry. Ek het nog altyd empatie gehad met die weerloses en die outsiders. Ek het eintlik ’n vreeslike passie vir mense wat nie geken word nie, wat nie gereken word vir wie hulle is nie,” sê ds Retha Kruidenier.

Retha Kruidenier, die dominee met ’n groot hart

“Hy is oorlede agter op ’n pasiënt se bakkie. Hulle het hom op ’n matras gesit en Ga-Rankuwa hospitaal toe gejaag, en ek dink as ek hom vandag sou kon vra sou hy sê: ‘Dis hoe ek sou wou sterf saam met my mense,’” vertel Retha Kruidenier. Sy was destyds getroud met ’n mediese dokter met ’n besonderse passie vir die nood in die gemeenskap en op ’n vreemde manier het sy moord ’n groot invloed gehad op dit waarmee sy vandag besig is. (Hy is in sy praktyk geskiet). 

“Ek onthou daai middag,” sê sy. “Ek was alleen by die huis toe hulle my bel en sê hy is oorlede. Ek onthou hoe ek so op my sitkamertrappie gaan sit en vir die Here gesê het ek kan nie alleen verder nie. My lewe het totaal verander, ek moes self terapie kry en op ’n stadium het ek het net geweet: Dit is wat ek wil doen, ek wil ander mense help wat trauma beleef.”

PODSENDING: Luister HIER na ‘n gesprek met Retha Kruidenier

Retha is vandag ’n predikant by NG Mootvallei in Pretoria. Haar pad het heelwat anders geloop as dié van die meeste ander dominees wat ek ken.
Sy is al vir meer as tien jaar, al van 2010 af, by die gemeente betrokke. “Deur die jare het ek aan die stuur van die hospitaalbediening gestaan, het ek die armes kos gegee en mense vir berading gesien, maar ek werk eers die laaste bietjie meer as ’n jaar as ’n dominee daar.”

As sy terugkyk is dit niks minder as ’n wonderwerk nie, om te sien hoe dinge uiteindelik uitgewerk het. Die Deense filosoof, Søren Kierkegaard, het destyds gesê, die mens leef vorentoe, maar verstaan agteruit. So is dit ook met Retha se lewe.

Lees ook: Dominees verkies veelrassige gemeentes – hoe lyk dit prakties?

Sy het byvoorbeeld oorspronklik BBibl studeer in Potchefstroom en moes vir jare lank in die Universiteit van Pretoria se Merensky-biblioteek teologiestudente help met navorsing vir hulle take en skripsies. Op ’n stadium raak sy betrokke by HospiVisie en jare later begin sy weer studeer en kry uiteindelik haar PhD in Pastorale Teologie … en eers heelwat later, toe sy vyftig jaar oud is, besluit sy om ’n dominee te word. Sy vertel dat dit ’n groot aanpassing was, want die studente saam met haar in die klas was so oud soos haar kinders.

Die groot besluit om teologie te studeer en uiteindelik ’n predikant te word het gekom na sy ’n sopkombuis by die gemeente begin het. “Op ’n dag dink ek, die mense kan nie net sop en brood kry nie, ek wil met hulle gesels en toe begin ek vir hulle preek. Wel, as ’n mens dit preek kan noem! Toe besluit ek, dalk moet ek iets soos teologie studeer om te kan preek, want dis tog iets waarmee ek nou besig is,” sê Retha en lag: “Ek kon op skool nie eens ’n gediggie opsê voor ’n klas nie, so dis eintlik ’n wonderwerk dat ek op ’n preekstoel kan staan en vir mense iets sê.”

LEES OOK: Lentekonferensie: Magswaarde van taal moedig bekyk

Deesdae hou sy al meer daarvan om eredienste te lei en ander tipiese kerklike werk te doen, maar haar groot passie bly steeds om persoonlik betrokke te wees by mense en om hulle stories te hoor.

“Van kleintyd af het ek al ’n hart vir mense wat swaarkry. Ek het nog altyd empatie gehad met die weerloses en die outsiders. Ek het eintlik ’n vreeslike passie vir mense wat nie geken word nie, wat nie gereken word vir wie hulle is nie,” sê sy en lag. “As jy my ouers sou vra sal hulle vertel hoe my eerste kêrel ’n welsyngeval was wat ek wou help.”

Op ’n manier is sy self ’n outsider wat weet hoe dit voel om buite die hoofstroom te beweeg.

’n Mens kan die emosie in haar stem hoor as Retha praat oor die weerlose mense in die gemeenskap, veral die mense wat sy daagliks raakloop in openbare hospitale as deel van haar werk by HospiVisie.

Sy is besig met groot dinge in die kerk en gemeenskap, maar sê haar belangrikste daaglikse taak is om by haar gesin betrokke te wees. Sy en haar tweede man Henk is hierdie jaar al een en twintig jaar getroud en woon in Pierneef, Pretoria. Hulle het drie kinders.

Ek vra haar oor haar siening rondom gemeentewees in hierdie tyd. Wat is die groot rol van die NG Kerk in Suid-Afrika vandag?

“Die kerk het ’n ongelooflike belangrike rol om te speel in ’n land en tyd soos hierdie. Kerke word geroep om bakens van hoop wees. Gemeentes moet die ruimtes wees waar mense veilig kan voel. Juis in hierdie tyd moet die kerk inklusief wees en nie mense uitsluit nie. Gemeentes se eiendom en terreine moet juis die nood in die groter gemeenskap dien. Ek hou van besige kerkterreine, waar die uiteenlopende mense van die gemeenskap bymekaar kom! Of dit nou ’n kleuterskool of sopkombuis is.”

Hoe lyk haar toekomsplanne? vra ek.

“Ek sal ’n goeie dominee wil wees,” sê sy en ek dink: Wel, hou net so aan!

Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeuggemeenskappe en die NG Gemeente Villieria.

 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top