Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die gesprek oor lewe en dood is so oud soos menswees daarom waardeer hy die eerlike manier waarop Johan Cilliers hiermee worstel skryf dr Johann Voges.

Evangelie ‘herskryf ons definisie van die dood’

Ons sal sterwe, ons sal lewe deur Johan Cilliers
Uitgewer: Barnabas Uitgewers, 2022.
Resensent: Johann Voges

Al is die gesprek oor lewe en dood so oud soos menswees, bly ons steeds daaroor stomgeslaan. Daarom waardeer ’n mens die eerlike manier waarop Johan Cilliers hiermee worstel. Sy wye leeskennis en eie lewenservaring word geskryf in die Afrikaans wat ons elke dag praat. Hy doen baie moeite met die verstaanbaarmaak van etlike Bybelgedeeltes hieroor … nie om klinkklare antwoorde te gee nie: “Wat hierdie boek bied, is woorde, metafore, beelde, vergelykings, kortom: taal, wat nie reg kan laat geskied aan dit (en Wie) waaroor daar gepraat word nie.”

Oor die dood skryf Cilliers: “Die evangelie herskryf ons definisie van die dood. Dis nie (meer) die einde van die pad waar die finale stopteken op jou wag en daar geen verdere weë is nie, maar die begin van ’n nuwe pad …”

Oor lewe skryf hy: “… ons word nie maar gebore net om te sterf nie … Ons word gebore om te lewe, word gebore vir die lewe! Solank my geboorte en sterfte opgeneem is in die opstanding en die lewe, is geen geboorte- of sterfdatum eintlik nodig nie, daar kan bloot op my grafsteen staan: Ek leef – ewig!”

Waar ek ook al dan met die dood te doen kry, sê Cilliers: “Wanneer ons sterf, beteken dit daarom nie werklike dóód nie, maar eerder saad wat gesaai is vir die komende somer.” Daarom is “ons huil vol hoop”.

Wat ons elke dag se uitdaging betref, waar ons moet leer om te lewe terwyl ek die dood in my ronddra, skryf Cilliers: “Christene is môre-mense … ons (is) ook vandag-mense. Dis die paradoks van die Christelike hoop.”

Hierdie boek is nie ’n een keer klaar lees en bêre boek nie, maar ’n weerlees en dalk nog ’n keer lees ene!

  • Koop dié boek nou: Beskikbaar by CLF.
  • Dr Johann Voges is ’n skrywer en emeritusleraar wat op Knysna woon.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top