Orrelmusiek: Is daar nog ’n toekoms vir pyporrels vir musiekbegeleiding in NG kerke?
“Ja,” antwoord dr Isabelle van Rensburg, ’n professionele konsertorrelis, maar voeg sy by: “Ons gaan hard moet werk en kreatief moet dink om die voortbestaan van die orrel en orrelmusiek te verseker.”
Die donkerkop Pretorianer beskryf haarself as ’n ambassadeur vir orrels en orrelmusiek in Suid-Afrika.
Sy is in September verkies tot ondervoorsitter van die uitvoerende komitee van die Suider-Afrikaanse Kerk- en Konsertorrelistevereniging (SAKOV), ’n organisasie met byna 600 lede.
Dit is na aanleiding van hierdie nuwe rol dat Kerkbode met haar gesels oor haar passie vir hierdie antieke musiekinstrument wat al vir soveel eeue bykans sinoniem met kerkmusiek in die gereformeerde tradisie is.
Die meeste Sondae kry ’n mens haar agter die orrel by NG Universiteitsoord waar sy sedert Februarie vanjaar as hulle derde orrelis aangestel is. Haar voorgangers was twee bekende musici, prof Wim Viljoen en prof Chris Lamprecht.
Dit is nou as sy nie iewers optree as professionele konsertorrelis nie. In September het sy op verskeie orrels in Amerika gespeel as deel van haar deelname aan die tweede Boston Bach Internasionale Orrelkompetisie.
Hier het sy ook die kans gekry om die pype oop te trek van ’n groot orrel, die Aeolian-Skinner orrel in die Moedergemeente in Boston met 13 289 pype (die een van NG Universiteitsoord het 3 029). Sy het ook al deelgeneem aan die Internasionele Orrelfees in Haarlem (Nederland) en die Internasionale Bach-fees in Oregon (Amerika).
Hoekom die orrel?
“My vroegste herinnering aan die orrel was die pragtige musiek wat sy (Wilna Bogenhofer) op Sondae gespeel het en die Kerssangdienste waar sy ’n vol kerk moes begelei met Kersliedere. Dit het my altyd meegevoer gelaat,” antwoord Isabelle.
Wilna Bogenhofer was die orrelis van hulle gemeente op Klerksdorp en ook haar eerste klavieronderwyseres. Sy het die lesse met orrellesse vervang toe Isabelle op hoërskool was en aanbeveel dat sy lesse neem by prof Joseph Stanford by die Universiteit van Pretoria.
Vir haar BMus-graad op universiteit moes Isabelle kies tussen die klavier en die orrel. Sy het die orrel gekies, maar is steeds lief vir die klavier en bied steeds klavierlesse aan by Pro Arte se Musiekakademie.
Oor die orrel sê sy: “Ek is passievol oor die orrel omdat dit vir my ’n manier is om mense se binneste weekliks aan te raak. Ek hou van die uitdaging om komplekse musiek wat oor drie musiekstawe geskryf is in te studeer.
“Ek hou van die orrel omdat dit ’n hele orkes is wat jy met jou hande en voete kan speel.”
In haar vrye tyd geniet sy die natuur en buitelewe. Haar man, Johan Deysel, is ’n tenoor en ook lief vir klassieke musiek. Hulle maak gereeld saam musiek of ondersteun klassieke musiekkonserte.
Orrels is duur – het hulle nog ’n toekoms?
“Dit is kommerwekkend as kerke nie meer hulle pyporrels kan gebruik as gevolg van die finansiële kostes daaraan verbonde nie,” sê sy. Verdere uitdagings sluit in beurtkrag omdat die orrel met elektrisiteit werk en ’n afname in belangstelling in die orrel as ’n keuse van musiekinstrument by musiekstudente.
Maar die laaste note het nog lank nie opgeklink nie uit die metaalpype van hierdie musiekinstrument met historiese wortels wat terugreik tot in Antieke Griekeland toe waterverplasing in ’n lugdigte houer gebruik is om lug deur die pype te stoot.
Wat Isabelle opgewonde maak en hoop gee is die talle kere wat weldoeners in die verlede bereid was om geld te skenk om orrels te bou en te restoureer.
“Ek weet ook van vele kerke waar die orrel sentraal staan as begeleidingsinstrument en dit prioriteit vir hulle is om die orrel in ’n goeie kondisie te hou,” voeg sy by. Dikwels hou hierdie kerke konserte om geld in te samel om hulle orrels in stand te hou, soos byvoorbeeld die orrelmaraton wat Driehoek Gemeente in Augustus gehou het.
Lees en kyk hier: Orrelis van Vanderbijl gedaan ná hy ‘Gunther’ se pype ure lank ooptrek by basaar
“As ek sien hoe hierdie konserte en eredienste bygewoon word sou ek sê ja, daar is nog ’n toekoms vir orrel in Suid-Afrika, maar ons gaan hard moet werk en kreatief moet dink om die voortbestaan van orrel en orrelmusiek te verseker.”
Dit maak haar ook opgewonde dat daar steeds Suid-Afrikaanse komponiste is wat vir hierdie instrument komponeer nie nét as ’n solo-instrument nie, maar óók as ’n begeleidingsinstrument.
Sy vertel SAKOV het hiermee in die verlede al wonderlike werk verrig deur beurse wat aan orreliste en orrelbouers toegeken word, CD’s vry te stel, asook deur bundels te publiseer met inleidings, naspele en koraalvoorspele.
“Ek hoop om hierop voort te kan bou en om die nodige ondersteuning aan orreliste in Suid-Afrika te kan bied sodat hulle weer ander met hulle musiektalent kan dien.”
- Artikel aangepas na publikasie.

Daar kom net eenvoudig geen ander
Instrument by die ” Pyp Orrel” nie
Pyporrels vir gemeentes se dae is getel. Dit het te duur geword. Eenvoudige elektroniese orrels kan in die plek daarvan kom. GEEN lidmaat sal die verskil in klank uitmaak tussen n pyp en sy elektroniese weergawe nie. Daarvoor het die elektroniese ingineers van ons tyd, tot in finesse die verskil in klank neutraliseer. Behou die pyporrel vir professionele orrelkonserte. Maar asseblief, moenie vir nuwe kerkorrels begroot of n fonds stig nie. Ek sou eerder aanbeveel om bestaande orrels in kerke wat leegloop, te verkoop. Onderhoud vIr pyporrels is duur. Moedig eerder jongmense aan om kerkmusiek te waardeer. Hierdie saag- en snaarinstrumente van popmusiek in die kerk, is net nie goed genoeg vir ordentlike Christenore nie.