So saam met die Comrades het daar dieselfde naweek nog ’n maraton plaasgevind. In Vanderbijlpark het Franz Geldenhuys vasgebyt deur spierpyne, stukkende skoene en bene wat nie meer wou nie om saam met ‘Gunther’ die eindstreep te haal.
Gunther is die pyporrel van die NG Gemeente Driehoek waar Geldenhuys sedert April die nuwe musiekdirekteur is, maar die orrel kort ’n paar operasies om weer 100% te werk.
“Ek het die orrel Gunther gedoop want hy is deel van die gemeente,” vertel Geldenhuys vir Kerkbode. Dit is darem ’n paar dae later en hy voel weer mens.
Só besluit hy om fondse in te samel gaan hulle twee ’n orrelmaraton aanpak waar hy op 27 Augustus van seweuur die Saterdagoggend tot seweuur die aand 160 musiekstukke speel.
Voor die maraton het Geldenhuys en Gunther 194 ure se oefening ingesit om die program te kan doen.
Daar was ook ’n tweede beweegrede. Hy wou ook vir mense wys “wat ’n ongelooflike instrument ’n pyporrel is. In baie gevalle is daar ’n negatiewe konnotasie met die wonderlike instrument,” vertel Geldenhuys wat meen hierdie was die tweede orrelmaraton in die Vaaldriehoek. Die eerste een is 30 jaar gelede gehou deur Margaret van der Vegt, sy orreldosent. Die een wat “die wonderlike wêreld van orrel vir my oopgemaak het”.
Saterdag se orrelmaraton het saamgeval met die gemeente se mini-basaar. ’n Teetuin was heeldag oop. Terwyl mense basaarlekkertes soos pannekoek, poeding en kerrie-en-rys geniet het Geldenhuys Gunther se pype oopgetrek met Bach, César Franck en Andrew Lloyd Webber om net ’n paar van die komponiste te noem wie se werk hy gespeel het.
“Ek het stukke gespeel van verskillende genres en het ook ’n paar ligte stukke ingesluit soos “Phantom of the Opera”, om die gehoor bewus te maak dat orrel nie net vir gemeentesang gebruik word nie. Ons moet gemeentes bewus maak van hierdie ongelooflike instrumente regdeur ons land,” verduidelik hy.
Die gemeente het hom ongelooflik ondersteun en almal het die hele dag baie hard gewerk. Al was hy na die tyd gedaan moeg, was die belewenis vir hom wonderlik en ’n groot voorreg. Soveel so dat hy ’n orrelmaraton ’n jaarlikse instelling wil maak. Daar is nog orrels in die omgewing wat ’n bietjie aandag nodig het.
