Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Johann Theron skryf: Meningspeiling vs belydenis

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Johann Theron van Kraaifontein skryf: In ’n onlangse meningspeiling deur die Taakspan Navorsing stem 55% van dominees beslis saam dat hulle gemeentes nie veelrassig is nie en 31% was neutraal.

Nou is dit interessant om te sien dat in die stemproses oor die Belharbelydenis daar 70% van Sinodes “Nee” gestem het vir die insluiting van die Belharbelydenis en 30% van die Sinodes “Ja” gestem het vir die insluiting.

Toe God die beloofde land in die hand van die Israeliete gee was daar ook ’n stemmery. So rondom 83% het “Nee” gestem en sowat 17% van die verspieders het “Ja” gestem. God het die statistiek nie interessant gevind nie, maar het dit as sondige verset teen sy wil beoordeel. Die 83% se lyke sou na nog veertig jaar se swerwery in die woestyn agterbly.

LEES OOK: Oor ’n mensgerigte godsdiens

Elke belydende lidmaat het beloof om die Woord en die leer in die belydenisskrifte tot die einde van ons lewe te bely en elke lering wat daarmee in stryd is te verwerp. In die Dordtse Leerreëls: Hfst 1:7 staan daar. “Hierdie uitverkiesing is ’n onveranderlike voorneme van God. Daarvolgens het Hy nog voor die skepping ’n sekere aantal mense uit die hele menslike geslag uitverkies … Deur sy Woord en Gees roep en trek God die uitverkorenes kragdadiglik tot gemeenskap met Hom.” As God dan deur sy Woord en Gees uitverkorenes uit die hele menslike geslag tot gemeenskap met Hom roep en trek, sou ons iemand by die kerk se voordeur kon wegwys van die gemeenskap van die gelowiges?

In 1829 het die Sinode van die NG Kerk reeds in lyn met ons belydenis besluit: “Dat persone van kleur tegelyk saam met die ander lidmate die Nagmaal gebruik, is ’n onwrikbare stelreël op die onfeilbare Woord van God gegrond en dat alle Christen gemeentes en elke Christen in die besonder verplig is om so te dink en te handel.” Daar was nie ’n meningspeiling gehou nie, maar die gesag van die Woord en belydenis is gehandhaaf.

Drie NG sinodes het gesê hulle bely saam met die Belharbelydenis “Daarom verwerp ons enige leer … wat ontken dat ’n weiering om hierdie sigbare eenheid as ’n kosbare gawe na te jaag sonde is.” Is daar maar ’n blote meningsverskil oor veelrassigheid in die NG Kerk of is daar ’n leerstelling van verset teen die wil van God wat reeds as sonde verwerp is?

Sou ons in die kerk dan kon stem oor Jesus Christus se laaste opdrag in Matteus 28:19-20: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en (20) leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”?

Pilatus het ook ’n meningspeiling geneem: “Moet Jesus Christus gekruisig word?”. Daar was 70-80% mense wat beslis saamgestem het dat Jesus Christus gekruisig moet word. Al was daar ’n klein persentasie wat nie saamgestem het nie, is Jesus Christus – die Woord van God – steeds gekruisig.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top