Geniet God! deur Deon Loots
Uitgewer: CLF, 2022
Resensent: Karlien Becker
Geniet God! geskryf deur Deon Loots is ’n “lekker-lees” boek wat dit regkry om jou hart diep te tref! Dit het ’n verstaanbare woordeskat, kort hoofstukke en saamdink-vrae wat jou intrek en uitdaag tot ’n hele lewenswyse wat Jesus volg.
Die boek fokus op dissipelskap en nooi jou uit om ’n leerling van Jesus te wees. Dit is vir enige iemand wat wil groei in hulle verhouding met God en as dissipel van Jesus gevorm wil word. Loots daag ons uit om nie net op lidmaatskap van ’n kerk te fokus nie, maar meer op dissipelskap wat God toelaat om jou hele lewe, elke faset, te regeer.
Loots verbind die tema van dissipelskap met die Goeie Nuus van God se regering. Dissipels word nie geroep of gered om net hemel toe te gaan nie, maar op die aarde te leer leef volgens God se oorspronklike bedoeling. In navolging van ons Koning van die heelal en in navolging van Jesus se leringe en voorbeeld word ons verteenwoordigers van God se heerskappy.
Geniet God! het ’n goeie teologiese basis wat die lyn van God se regering volg vanaf Genesis tot Openbaring en gereeld na tekste en verhale verwys. Loots kry dit reg om die teorie na praktyk te neem en ’n mens te laat nadink oor wat dit vir jou daaglikse lewe en verhouding met God beteken.
Dr Coenie Burger, wat die voorwoord geskryf het, wys tereg daarop dat die boek fokus op ons wees-funksies en nie op ons doen-funksies nie.
Geniet God! het my persoonlik laat nadink of ek God as Koning dien of eerder my eie koninkryk wil opbou, deur wat ek doen, besit en voor leef. Die boek het my uitgenooi na ’n verhouding wat oop is om by Jesus te leer, vandag en my hele lewe lank, en eintlik God se goedheid te ontdek en God te geniet!
- Beskikbaar by CLF en Bybel-Media.
Ds Karlien Becker is leraar by die NG Kerk Nuwerus.
