Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Geloofsworsteling kan ook innooi eerder as wegdryf

Het ek my geloof verloor? deur Pierre du Plessis
Uitgewer: Lux Verbi, 2022
Resensent: Guillaume Smit

Dit is nie aldag dat ’n boek teologiese worstelings so aanroer dat ’n mens met ’n groter liefde vir God anderkant uitkom nie. Du Plessis se boek slaag daarin om die radikale opmerking: “ek dink ek het my geloof verloor”, sodanig aan te spreek dat hy uiteindelik afsluit met die woorde: “hierdie geloofsreis wat spoel tussen geloof, twyfel, ongeloof en terug na geloof is vir my reddend.”

Die boek gesels met mense wat moeilike vrae vra: Daardie prentjies van God wat nie meer vir hulle werk nie, want hulle kan en wil nie langer daarin glo nie; die knaende effek wat swaarkry op hulle geloof het, omdat hulle hoekoms hulle laat wonder waar God is; en die krisis met die kerk, korrupsie en genadelose Christene ingesluit. Dit is mense vir wie die Sondagskool-antwoorde oor God, geloof en Christenskap nie meer werk nie.

Stories, gedigte en gebede word met ineenverweefde deernis en begrip gedeel. Antjie Krog, John Keats, Mark Twain en selfs Hans Christian Andersen praat in hierdie boek saam aan ’n taal van worstelende insig. Du Plessis skram nie weg van kontroversie nie – nee, hy reis saam met sy kritiese vriende tot binne-in die teks van die Bybel om merkpenne vir ’n nuwe waardering vir God in te slaan. Hy vertel moeilike stories: So is ek nou nog, dae na my klaar-lees, erg ontwrig oor die Elie Wiesel-verhaal. Maar dit is goed.

Aan die einde is ek vertroos: God is hier. Hy is liefde, in Jesus beliggaam. God nooi ons uit. Worstelinge is nie struikelvrae wat ’n mens wegdryf nie, maar innooi na ’n ander verhouding. Die kerk, sê Du Plessis, verdien ook nog ’n kans.

  • Beskikbaar by Bybel-Media.
  • Dr Guillaume Smit is gemeenteleraar by Brackenfell-Wes Gemeente.
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top